Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.12.12

Onthou om te onthou – veral pen en papier

PIET EBERSOHN skryf: ‘n Joernalis sonder ‘n pen, is soos ‘n soldaat sonder ‘n geweer, het wyle Hennie Kotzé ons dikwels vermaan.

Wel ‘n ongewapende soldaat in die vuurlinie is seker heelwat dieper in die knyp, maar ek kan getuig dat dit erg ongemaklik kan wees om ongewapen ‘n onderhoud te voer.

In die laat jare sewentig moes ek by geleentheid kopie vir ‘n lekker dik landboubylae vir Die Transvaler lewer. Op die ou end was ek nogal trots op die eindproduk. Dit het so ‘n mooi blou Ford-trekker op die voorblad gehad – die mooiste trekker wat jy jou kon indink, al het die Massey-Ferguson-dissipels wat ook al gesê.

Die onderwerpe het naderhand uitgeput geraak, en ek sluit toe ‘n storie oor grondbewaring in. Die plaaslike kundige was ‘n mnr Gericke, hoof van die destydse department van landbou-tegniese dienste se Transvaalstreek, gesetel in Pretoria. Ek het ‘n afspraak met hom gemaak en oor die Jukskeirivier heen afgesit.

Onderweg het die besef my soos ‘n bom getref. My pen en notaboekie het in die vervoerkantoor in Nieu-Doornfontein bly lê, waar ek dit neergesit het om die papierwerk af te handel – my sorgvuldig uitgewerkte vrae inkluis.

Dit was egter nie die grootste skok nie. In Pretoria aangekom, word ek na die streekafdeling se raadsaal verwys. Om die tafel wag ‘n leërskaar van AGT staatsamptenare my in, gretig om die koerantmannetjie oor die aktualiteite van grondbewaring in te lig.

Kan hulle vir my pen en papier aanbied? lei Gericke die gesprek in. Nee, dankie, sê ek wintie, dis nie nodig nie. Ek kan sake hanteer.

Al verligting was dat ek darem deeglik genoeg voorberei het sodat die agtergeblewe vraelys nie te veel van ‘n ramp was nie. Maar sowat van konsentreer, moes ek voor of ná daardie dag nooit weer doen nie! Gelukkig nie.

Laurika Rauch
Toe ons groet, vra Gericke of hy my storie voor publikasie onder oë kon kry. Ek kon nie juis weier nie, en ek weet nie wie van ons twee was die meeste verbaas toe hy nie fout met die artikel kon vind nie.

Nou nog, wanneer ek Laurika Rauch hoor sing “onthou om my te onthou” is die liefde baie ver van my gedagte. Ek dink aan gronderosie en agt stroewe gesigte in ‘n sombere staadsdiens-raadsaal…

En ek het nooit as te nimmer nie weer sonder skryfgoed vir ‘n onderhoud opgedaag.
  • (Spesiaal vir Piet en almal wat hulle penne vergeet:  klik op Laurika se foto. Sorg dat jou luidsprekers aan is.)