Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

23.11.12

‘n Seer les oor objektiwiteit


Willem de Klerk het as redakteur van Rapport ‘n groot, maar uiters pynlike, toets geslaag toe hy ‘n besluit moes neem oor of negatiewe nuus oor ‘n vriend en weldoener, Louis Luyt, geplaas moes word aldan nie.Sy keuse het gemaak dat Luyt hom gebel “en amper met ‘n snik gevloek” het.

“Ás ‘n besondere gebaar van vriendskap (hoewel hy seker bymotiewe gehad het om my in sy voordeel te gebruik) het Louis Luyt my ‘n aanbod gemaak: hy sal ‘n volledige kantoor vir my inrig in die Triomfgebou in Milpark en hy sal die salaris van Hélène (Du Plessis, sy sekretaresse van DT se dae af) as my sekretaresse betaal. Wat ook al sy bymotiewe was, was hy die redder vir my infrastruktuur en status. En wat ‘n kantoor het hy my nie aangebied nie! Magtig groot, pragtige meubels, luuks.

Louis Luyt
“Vir ses maande het ek en Hélène ‘n sitplek gehad.”

Hy skryf dat hy baie afhanklik van Du Plessis was. Dit was vir hom ‘n groot skok toe sy skielik getrou en na twee weke weer geskei is. “Ek het gevoel ek ‘besit’ haar.”

Maar terug na Louis Luyt. De Klerk sê wat hy aan Louis Luyt gedoen het, was “eintlik onvergeeflik. Dit hinder my tot vandag toe en ek voel nog steeds skaam daaroor.

“Ek was net twee weke by Rapport – nadat hy my ses maande gehuisves het en dit het hom seker R30 000 gekos aan huurruimte, meubelaankope en as Hélène se salaris ingereken word – toe kom Eddie Botha na my met ‘n soort onthulling-storie oor Luyt se firma, wat korrupsie impliseer. Hy bied dit aan met die woorde dat hy weet Luyt was my weldoener, maar dat nuus nuus is en feite feite is.

Ek was onmiddellik in konflik: as ek Eddie se storie verwerp, gaan dit soos 'n veldbrand in die redaksie versprei dat ek as redakteur buig voor ‘baantjies vir boeties’ (en ek is 'n nuwe besem van twee weke redakteur te wees en wat my naam moet vestig), maar as ek Eddie se storie laat plaas, klap ek Luyt deur sy gesig en hy kan my verwyt as 'n ondankbare rugsteker.

Ek het Eddie se storie gekies (in eie belang) en ek was te bang om Luyt vooraf daaroor in te lig. Daarna het hy my gebel en my amper met 'n snik gevloek. Ek dink ek het dit verdien. Tot vandag toe voel ek soos 'n hond daaroor.

Tydens my Demokratiese Party-inisiatiewe het ek en Luyt weer met mekaar geassosieer en ek beskou dit as ‘groot’ van sy kant. Feit bly, ek het skandalig opgetree.”

• (Daar was seker in baie oud-Perskoriane se loopbane tye waar lojaliteit teenoor vriende, politici, magnate en ander openbare persoonlikhede morele botsings in die hand gewerk het. Vertel ons gerus daarvan. -- Red.)

(Word vervolg: Willem de Klerk en twee vennote se mislukte maatskappy.)