Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

10.12.12

’n ‘Mack’ met ‘n Magnum maak amok

FRIKKIE VAN DER WALT skryf: Lotelinge is in die jare 60 opgelei om met FN-gewere te skiet. Jy kon selfs 'n pantservoertuig met 'n Energa-granaat voor aan die geweer uitwis. Maar die meeste van ons was te jonk om as 'n gewone burger 'n vuurwapenlisensie te kry. Dieselfde wet het vir jong polisiemanne gegeld. Hulle is ook opgelei om verskeie vuurwapens te gebruik, maar kon, as ek reg onthou, eers op 18-jarige leeftyd 'n rewolwer of pistool kry. Hulle is wel met 'n knuppel en boeie toegerus.


Dit net as agtergrond.

Op ‘n dag kry Die Transvaler 'n wenk oor 'n gyselaardrama in 'n woonstel in Hillbrow. Ek, fotograaf Hannes (sy van het my ontglip) en ons bestuurder, in die omgang as Westbury (sy Heimat) bekend, is na die toneel waar ons die gedugte moord- en roofspan verwag, maar daar is geen polisiemotors nie. Ons vermoed dis huismoles, maar katvoet in elk geval die gebou binne. Waar ons ons in 'n skare woonstelbewoners en ander agies vasloop. Iemand bevestig dis wel 'n gyselaardrama en sê 'n “mack” met 'n magnum het reeds 'n skoot geskiet.

Volgens ons woordvoerder is die polisie te bang om die aangehoudene te ontset. By nadere ondersoek stel ons vas gemelde polisie is 'n jong konstabel wat net met 'n knuppel gewapen is. Die woonstelbewoners dring daarop aan dat hy die beleg beëindig omdat iemand reeds vermoedelik doodgeskiet is.

Een van die inwoners het intussen die moord- en roofafdeling gebel en twee speurders daag op.

Ná 'n paar vinnige navrae versoek hulle ons om pad te gee, maar niemand luister nie. Ons inkluis.

Die speurders gaan staan weerskante van die woonsteldeur, beveel die mense binne om uit te kom en word met 'n voertsek begroet. Hulle stel hulle as polisie voor en dreig om die ootreders met geweld uit te dwing. Iemand in die woonstel dreig om hulle te skiet.

Die manne haal hul pistole uit en beveel die agies om pad te gee. Ons staan almal 'n paar tree terug en 'n speurder dreig om die deur af te skop. Sy maat voel aan die deur en stel vas dis nie gesluit nie.

Hy stamp die deur oop en sy maat storm in. 'n Man met 'n magnum-rewolwer wag vir hom, maar voordat hy kon skiet gly die speurder op 'n matjie en seil onder om in. Sy vuurwapen is na 'n blitsige aanranding afgeneem en hy is geboei.

Die ander speurder het intussen nog twee mans in die woonstel aangekeer en geboei.

Die twee wetstoepassers se adrenalien het so sterk gevloei dat hulle al ons agies in besonder krutaal beveel het om pad te gee of toegesluit te word.

Ek en Hannes het 'n woonstelbewoner bevriend en is saam met ons nuwe maat na sy woonstel waar ons die gebeure deur 'n venster dopgehou het. Die res van die toeskouers het in woonstelle verdwyn of padgegee.
'n Diensoffisier en nog speurders het opgedaag om vas te stel waar die skoot heen is en of iemand dalk deur 'n dwaalkoeël beseer is.

Die mans in die woonstel is met hul hemde oor hul koppe met militêre presisie verwyder. 'n Fris speurder het Hannes se steelfoto bederf deur voor ons venster te staan, maar ons het wel 'n voorbladberig gekry.

Haastig om betyds by die koerant te kom, het ons by die gebou uitgedraf. Westbury het gesorg dat die motor se deure oop is. Voor ons kon verduidelik daar is nie 'n probleem nie, het hy met skreeuende bande weggetrek.

Ons het later vasgestel twee rampokkers het gehoor 'n inbrekervriend het 'n groot slag geslaan en wou hom van sy buit beroof. 'n Intimidasieskoot in 'n muur het hul roofpoging verydel en die drie is met die buit en wapens en al in hegtenis geneem.