“Dit maal in my kop dat walg, ellende, verrotting, lyding die uitgemete deel is en dat ek deel daarvan is en dat lewe hel is – groen hel, nie rooi nie. Dis soos 'n gevoel dat ek nou die insig gekry het dat ontbinding die lot is en ekself met die mensheid daarin versmelt,” was een van Willem de Klerk se waarnemings gedurende siekte wat hom letterlik by die dood laat omdraai het.
Peritonitis – 'n gebarste blindederm en ernstige ingewandsbesmetting – het Willem de Klerk op 16 Februarie 1983 soos ‘n “donderslag in my lewe” getref en dokters het hom 'n week later 'n kans van 60% (oorlewing) en 40% (dood) gegee.
Hy het sy siekte en sy waarnemings van Woensdag 16 Februarie tot Woensdag 9 Maart noukeurig aangeteken en dit sorg vir boeiende en ietwat makabere leesstof.
“Dit was eenuur op Woensdag 16 Februarie dat hy 'n diep snypyn in sy buik gevoel het. “Slim-verby se self-diagnose sê ‘maaggriep’, maar teen vieruur die nag vreet dit soos suur en die deur-die-slaap dokter koop my storie dat ek maar pieperig vir pyn is. 'n Inspuiting laat my droomloos slaap die hele Donderdag met kort-kort 'n dosis maaggrieppille.
Donderdagaand is die verdowing weg en die pyn nuut in heftigheid. 'n Inspuiting sit my weer weg en Vrydagmôre lê ek soos 'n dragtige dier met 'n buik wat wil bars en 'n pyn wat alles rondom my laat ronddraai.
Toe, Vrydagoggend vroeg na die Sandton-kliniek met 'n gulp-ritssluiter wat nie 'n duim kan skuif oor my geswolle ingewande nie.”
Die eerste diagnose was dat dit waarskynlik 'n gewas in die dikderm is. 'n Deel sal verwyder moet word en 'n ontlastingsakkie sal permanent gedra moet word. Maar gelukkig bevind die radioloë toe dat dit nie dikdermgewasse is nie, hoewel hulle nie weet wat dit is nie.
Die middag is dit teater toe – van 17:30 tot 21:30. Gebarste blindederm, is bevind. Dit was geweldig groot en reeds ver ontbind. Die ingewande is met 25 gellings soutwater gespoel en tot 25 Februarie is 5,5 liter antibiotika in sy are gepomp.
Die volle week het hy niks geëet of gedrink nie. Hy’s die hele tyd in 'n semi-slaap. Maar sy koors is 39 tot 40 “en ek word swakker”. Saterdag 26 Februarie word besluit om “alle drips, ook antibiotika, af te haal en my liggaam 'n kans te gee om ‘alleen te veg’. Vier uur later is die koors normaal.
“Saterdgaand kyk ek TV. Sondag bly koors normaal en ek begin met baba-kossies. Maandag steeds normaal. En Dinsdag 1 Maart kom ek huis toe. Elke dag word alles beter...
Onder die opskrif “Dink/voel/yl/droom/sien” skryf hy:
“Dis die ander wêreld – die onderwêreld. Geen pyn (verdowing), net die onbehae van jou lyf. Jy is net lyf en elke deel van jou lyf is swaar en vol en voos. Alles vereng tot lyflikheid.
Binne-in my skree die groot skrik woordeloos. Ek voel die vrees soos iets wat op my bors sit. Dis nie doodsvrees nie. Dis eksistensiële angs vir iets onbepaalds.
Die “gesigte” wat Willem gesien het “teen die mure en in die gordyne en oor die plafon en teen die bedwande – en dit vir dae en nagte – was deurentyd enkel makaber en grotesk.
En tog... die wete – helder – dat God juis God is om die mensdom uit hierdie drekwaters te verlos.”
- Spoelende waters vol opdrifsels, hoofsaaklik hope drek en tussen die drek groen ontbinde stukke vleis.
- Opeengehoopte lyke – erg vermink en ineengeskrompel en ontbind – wat in die waters soos eilande uitrys. Tussen hulle erken ek klein Elzabé.
- Slagvelde waar jong seuns met oopgesnyde buike lê met uitpeulende binnegoed.
- Die Christus aan die kruis – groen aangeslaan en in 'n staat van verrotting – wat in die vuil waters wegsink en weer oprys.
- Siek gestaltes – hoofsaaklik gesigte – met hol oë en monde, ook groen gekleur, wat oor mekaar kruip.
- Mense wat in primitiewe hospitale geslag word.
- Drakefigure teen die mure met gloeiende oë en kort-kort 'n flitsfoto van my pa wat my streng aankyk.
- By die ‘gesigte’ beleef ek geen angs nie, selfs nie afsku nie. Eerder 'n gevoel van solidariteit. En 'n groot verruimende jammerte vir die mensdom. Dis of ek ‘filosofies-voel’ en nie emosioneel nie. Dit maal in my kop dat walg, ellende, verrotting, lyding die uitgemete deel is en dat ek deel daarvan is en dat lewe hel is – groen hel, nie rooi nie. Dis soos 'n gevoel dat ek nou die insig gekry het dat ontbinding die lot is en ek self met die mensheid daarin verswelg.
- God en Christus was vir my, soos Van Wyk Louw sê, ‘soos iets wat agter bome roer’. Dié ‘teenwoordigheid’ was vager as die teenwoordigheid van ontbinding.
Onder die opskrif “Nawerking” skryf hy:
“Eers tuis breek dit deur.
Die deernisgevoel.
Die jubel om te leef.
Die begeerte om alles in te drink – son, blom, gras, huis.
Die dankbaarheid en nuwe hunkering na God, Christus en die Bybel.
En die tere gevoel oor jou mense – vrou, ma, gesin, vriende wat jou bygestaan het en gebid het en groet. My vriendskappe is verinnig. Ruimer, sterker, sagter en kleiner is ek nou.
Ek wil huil oor die lewe en oor gesondheid.”
Daar was later ook ander kwale wat hom na operasietafels teruggedwing het. 'n Verdikte aorta-hartklep, algemene rumatiekagtigheid, 'n psigo-somatiese sinus-aanval wat deur druk veroorsaak is wanner sy neus bottoe slaan en niersteen-aanvalle – “die ergste pyn wat ek nog in my lewe gehad het”.
Hoewel hy in die algemeen gesond was en nie moeg geword het nie, was Willem nooit in sy lewe fiks nie en het “’n voortdurende stryd teen oorgewig, boepens, opgepofde wange en dikgesig” gevoer. Hy sê hy was “seker meer as honderd maal op dieet. Nooit verstandig nie, maar altyd kitsuithonger-poeierdiëte wat my regruk in 'n drie weke se tyd en dan hou vir so 'n vier maande voor my belt se gaatjies weer na buitetoe skuif.
Nooit was ek regtig vet-vet-vet nie, maar 'n oorgewig-man is vir my obseen. Veral die vreeslike swanger pens wat spoel oor die broek, is vir my walglik.”
(Volgende week: “Ja, ek is ydel oor my voorkoms. As ek goed lyk, voel ek ook goed,”
skryf Willem in sy “Opruiming”. En ons kyk bietjie na sy siening oor 'n mooi vrou ook
en wat God dink van 'n man wat 'n haar loer.)