Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

9.1.13

Papierskeurder in plofbare drukkoker van subkantoor

Aansluitend by die berigte wat die afgelope tyd oor die subkantore van verskillende Perskormedia verskyn het, skryf  WILLIE BUYS:

In my aanvangsjare as kadetjoernalis by die destydse Die Transvaler in die jare sestig was die gebruik dat beginners eers ’n inisiasiedraai gaan maak het in of die koerantbiblioteek (wyle André du Bruyn, Frikkie van der Walt, wyle Chris Beetge en ander het daar begin).

Die filosofie was dat jy ’n grondige kennis moes opbou van hoe ’n koerant inmekaar steek, want as jy weet van al die prosesse waardeur jou berig gaan voordat die afgeronde produk op straat in koerantvorm uitgespoeg word, was jy ‘n vollediger joernalis. En, belangrik, jy moes weet waar om wat te kry aanvullend tot jou berig soos agtergrond, foto’s, illustrasies, ens.

Die volgende deel van die leerkurwe was in die nagkantoor waar ’n klompie manne -- en later vroue -- geboë agter klatterende tikmasjiene geswoeg het (lees vertalers van Sapa-, AP- en Reuters-nuusagentskappe se berigte). Jou amptelike titel? Papierskeurder. Die hoofvertaler was destyds oom Mac MacDonald (nou nie meer met ons nie). Hy is later opgevolg deur oom Jorrie Jordaan, ook nie meer in ons midde nie. In samewerking met die hoofsubredakteur, Nic Hefer, later wyle Das Herbst, ens. is die kopie in storie-volgorde uitgemerk en jou taak was om te skeur en aanmekaar te kopspeld of met skuifspelde te orden. Jy was ook die nie-amptelike bode wat rondgestuur is vir enigiets, van toebroodjies en ander versnaperings vir die swoegende manne en vroue tot drank vir die laataand-partytjies wat partykeer gehou is.

Wie van die destydse Voortrekkerpers sal ooit vergeet van die beroemde/berugte partytjie waartydens onder meer tikmasjiene van die dak en deur vensters soos missiele gelanseer is om onherstelbaar beskadig op die grond te beland?

En dié oorlewering wat die ouer garde grinnekend opgehaal het as hulle met heimweë terugverlang na die “goeie ou dae” toe dit nog nie krimineel was om drank te gebruik nie. Die ene van ’n sub wat baie vaak geword het ná ’n gefuif en toe in die deur van wyle dr. GD Scholtz gaan lê het om sy roes af te slaap. Toe die statige en eerbiedwaardige doktor, vroeg-vroeg soos sy gewoonte was, by sy kantoor opdaag, het hy eenvoudig oor die slapende sub geleun, die deur oopgesluit en aangegaan met sy dagtaak asof niks snaaks gebeur het nie. So al asof ’n opgekrulde, slapende man in sy deurkosyn maar iets alledaags is! (Dié man is nou oorlede, maar sy naam word weerhou om sy gesin verleentheid te bespaar. Kollega Japie Bosch het hom goed geken.)

Terug na die nagkantoor. Te midde van dié ruisende geroesemoes was daar ’n ander slim klompie manne wat (vir die buitestaander) in vreemde lippetaal, oftewel lettertipetaal, gekommunikeer het . Dit was net onderkas, bokas, soveel punt, “bold” en allerlei vreemdsoortige klanke.

Douglas Jones
Mense besef nie altyd hoeveel hope energie ingaan om ’n koerantproduk op straat te kry nie, waarna dit dikwels afsydig/onverskillig in ’n vullisdrom gestop word – of soos wyle kollega Douglas Jones dit gestel het, in blokkies geskeur aan ’n spyker in plaastoilet gehang word.

Ewenwel, die subkantoor: toe ek nog ’n praktiserende joernalis in verskeie uitvoerende poste was, was ek pynlik daarop gesteld om daarop te wys dat die subkantoor die drukkoker-hart van ’n gedrukte produk is. Nuus vloei vanuit verskillende wêrelddele daarheen vanwaar dit gestalte kry in gedrukte berigvorm.

‘n Groot waarheid is dat ‘n onverskillige subredakteur jou berig kan maak of breek met sy/haar hantering daarvan, ongeag die tyd en moeite wat jy as joernalis daaraan bestee het. (Daarom was daar maar altyd konflik tussen sub en joernalis.) En dit is ’n groot kuns om opskrifte te skryf wat die leser as’t ware prikkel/dwing om die berig te lees. Ek het dit so belangrik geag dat ek in my tydperk as voorsitter van die Forum vir Redakteurs van Gemeenskapkoerante ‘n spesiale kategorie vir beoordeling ingebring het in die jaarlikse kompetisie vir die die gemeenskapspers!

Terug na die drukkokersituasie. Dinge kan warm raak in die subkantoor as die spertyd onverbiddelik vir jou grom. Só het wyle hoofsub Peet Smith my letterlik met ligaamlike leed gedreig toe ek (op spertyd, natuurlik) in dié pruttende pot van emosies instap en ’n totaal misplaaste grappie probeer maak het. Hy het hardop oor ’n opskrif met homself (en ander?) gedebatteer en ek het op my ontaktvolle beste aanbeveel dat hy by Die Burger se subs moet gaan kers opsteek. Peet het onbeheers geraak en toe was dit net donder en bliksem! En ek wat haastig die aftog moes blaas!

Nike van Niekerk
Op ’n ander keer het ’n hoogs ontstoke Mike van Niekerk – toe nagnuusredakteur en ook bekend om sy soms erg onhoflike reaksies – my in geen onsekere taal nie luidkeels en erg vernederend ten aanhore van die hele ademlose nagkoor vertel presies wie en wat ek is en waarheen ek kan vlieg met my onskuldig-bedoelde aanmerkings. Dit het ’n draai by die destydse waarnemende besturende redakteur Hermie Hendriks genoodsaak, waar hy op sy takvolle manier dié taai tameletjie ontbondel het.