Ek het vreeslik gesukkel om die tikmasjien baas te raak, en was heel verbaas om te lees dat Suzelle Fourie dieselfde probleem gehad het. Ek het my verbeel dit was uitsluitlik 'n manskwaal en dat my vroue-kollegas almal tik as vak op skool geloop het.
(Suzelle se herrinneringe aan haar verblyf in Sjina was ook heel interessant, veral toe sy skryf oor die jong skoolseuns wat reeds grys is.
Ek het in my twintigerjare erg grys begin word, en ek is gou laat verstaan dat dit aan 'n genetiese afwyking te wyte is.
Hoekom Sjina met sy miljarde mense 'n probleem daarmee het, is vir my duister, maar dis nie moeilik om die verskynsel onder ons Afrikaanssprekendes te verduidelik nie. Die klomp Hollanders wat in 1652 hier aan wal gestap het, het 'n betreklik klein verskeidenheid gene saamgebring.
Deur die daaropvolgende eeue heen het geskiedkundige en maatskaplike faktore meegebring dat die genepoel onder die Afrikaanssprekendes nie juis vergroot is nie. Ek sidder wanneer ek dink hoe ons daar sou uitgesien het as dit nie vir die latere byvoeging van Engelse, Franse en Duitse bloed was nie.
Peet Simonis |
Dit was so hittete of ons het almal na 'n Blou Bul rugby-ondersteuner getrek.)
Om terug te keer na my stryd met die tikmasjien, toe ek in 1973 by Die Transvaler begin werk het, het Peet Simonis en Fanie Hattingh ons nuwelinge se kopie nagegaan.
Ek het my stories eers met die hand uitgeskryf en dan twee uur lank geswoeg om hulle uit te tik.
Wanneer Peet of Fanie dan die storie nasien, gewaar hulle 'n tikfout in die voorlaaste woord en is ek en die ellendige tikmasjien weer twee uur lank aanmekaar.
Só het dit in die beginmaande dikwels gebeur dat ek as hofverslaggewer lank na middernag eers by die kantoor weg is.
Ek weet nie hoekom ek nie sommer net my vriendinne op die redaksie met 'n tjoklit omgekoop het om my stories te tik nie.
Ek was ook heel verbaas om van Jakkie Groenewald te verneem dat die hofverslaggewers by Beeld destyds self foto's geneem het. Ek was onder die indruk dat dit slegs by Perskor die gebruik was.
Die fotograwe by Die Transvaler het Nikon-kameras gebruik en die verslaggewers het Asahi Pentax-kameras gekoop. Die Pentax was 'n goeie kamera, maar heelwat goedkoper as 'n Nikon.
As ek reg onthou is 'n verslaggewer destyds R5 betaal wanneer een van sy foto's in die koerant verskyn het. Pas na my aankoms het Die Transvaler na kleur oorgeskakel en ons is toe R10 vir 'n kleurfoto betaal.
Ons was altyd geweldig trots wanneer 'n kleurfoto wat ons geneem het, op die voorblad verskyn het.
Ek is net spyt dat die tegnologiese rewolusie my nie oorval het onderwyl ek nog in die veld verslag gedoen het nie.
Ek weet verslaggewers gebruik jare lank reeds skootrekenaars om hul stories te skryf en by hoofkantoor af te laai, maar ek sou graag 'n selfoon byderhand wou hê toe ek destyds in die veld was.
My kollegas sal die gesukkel onthou om 'n telefoon in die hande te kry wanneer jy 'n storie in 'n afgeleë plek gaan doen het. Om die storie te kry was immers nutteloos as jy nie in verbinding met hoofkantoor was nie. 'n Selfoon sou natuurlik die problem oplos.
Daarbenewens is my selfoon toegerus met 'n kamera van twaalf megapiksels wat pragtige
foto's neem.
Destyds moes 'n mens wag tot jy terug was op kantoor voor jy jou foto's te siene kon kry, maar met 'n selfoon weet jy onmiddelik wat jy aangevang het. 'n Mens kan die foto's redigeer ook. Trouens, ek kan op my foon bykans alles met die foto's aanvang as die fotograwe destyds in die donkerkamer. Dan SMS jy net die voltooide produk aan hoofkantoor.
Ek sou graag net een keer met 'n selfoon op 'n storie in die gramadoelas wou gaan om te ervaar hoe dié toestelletjie 'n verslaggewer se lewe kan vergemaklik.