Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

13.12.12

Nou is daar ook Piet Pitte!

Eers was daar Piet Pille (Roos), die apteker. Nou is daar ook Piet Pitte. PIET ROODT is deesdae 'n geldskieter of uitlener van kleiner bedrae geld as wat die tradisionele instellings soos banke doen. K’rant het hom gevra om meer van hierdie interessante loopbaan te vertel.

Hy skryf: Ons kliente is almal in die laer inkomsteklas en jy moet jou keer ken om nie deur hulle probleme oorweldig te word nie. En dan het hulle
snaakse kultuurgebruike.
Ons leer in die Bybel die dooies moet die dooies begrawe, maar hulle sal wragtig alles wat hulle het, gebruik net om geld te kry om iemand te gaan begrawe en dan nog daarna “die rou af te haal”. R30 000 en meer vir so ’n geleentheid is nie buitensporig nie en dan eet hulle net pap!

Of ’n ou skoonmakerma by ’n staatshospitaal kom hier ingestap. Die kind is êrens op die een of ander universiteit. Ma moet geld voorsien. Syself kan met ’n honderd rand of twee per maand klaarkom, maar die kind moet leer. Dis goed om dit te sien. Al wat my pla is, ‘n mens sien nie daardie kundigheid elders nie.

Hoe iemand geld aan pensioentrekkers kan leen verstaan ek nie. Ons doen dit glad nie. Daar kom wel sulke gevalle by ons ingeloop, maar ek kan dit wragtig nie oor my hart kry om iemand wat R800 tot R1 000 per maand pensioengeld kry se geld te vat nie.

Om mikro-leners as "loan sharks" of gewetenlose uitbuiters te beskuldig is nie waar nie. Ander mense belewe nie die bedrewendheid van manipuleerders nie. As iemand skielik voor my aan die huil gaan omdat hy/sy kwansuis so sukkel, help ek hom glad nie. ’n Mens kan nie altyd bepaal of iemand vir jou sit en lieg nie. En lieg kan hulle gedoriewaar!

Die kredietnavrae-stelsels wat beskikbaar is, is ook nie 100% betroubaar nie. Daai lener van Marikana wat R1 000 geleen het en nou meer as R10 000 skuld se storie het ’n baie lang stert. Hy’t die geld geleen, toe nooit betaal nie; toe is hy oorhandig. Daarna probeer hy onder administrasie gaan; nog later probeer hy skuldberading -- en elke keer moet die prokureur hom probeer opspoor. Dis om goeie geld agter slegtes aan te gooi. Of die uitlener uiteindelik sy geld gaan terugkry, is te betwyfel. Intussen moet hy die prokureur betaal, wat hom per slot van rekening ’n paar duisend rand gaan kos.

Dis hoekom ek liewer sulke bedrae heeltemal afskryf. Dis nie die moeite werd om agter skelms aan te hardloop nie.

Ek onthou vroeër kon 'n balju jou kom toesluit as jy nie jou skuld betaal nie. Nou het almal "menseregte” en sulke goed. Nou vier uitstaande skuld hoogty en die skelms word beskerm. Maar dis seker die “nuwe Suid-Afrika”.

So 'n klompie jare gelede het ons nog kliënte se bankkaarte en “pin”-nommers gehou. Dan’t ons middernag by verskillende OTM’s die geld gaan trek. Soms gewapen en met 'n koeëlvaste baadjie aan!

Deesdae is daar goeie stelsels in werking wat dit nie meer nodig maak nie.

Om nie jou skuld te betaal nie, is dieselfde as om te steel. En dis deesdae aan die orde van die dag.

Voorts voer ons maar 'n saai bestaan en is dankbaar om kop bo water te kan hou.

Vroeër het Piet laat weet: My kinders sȇ “Pa is BC”! Maar ek verstaan eers nie wat dit beteken nie, totdat een sȇ “Before Computers”! Dis hoekom ek eers heelwat later op K’rant se webwerf afkom en sien daar was ‘n navraag oor my en Frans se doen en late.

Broer Frans bly op Riebeeck-Kasteel waar hy sy eie ding doen.

Ek’t ná Die Transvaler wel redakteur gespeel van die Rustenburg Herout totdat die SAW my sake kom deurmekaar krap het. Later het ek by Hoofstad politiek geskryf. Daarna het ek my eie drukkery in Pretoria gehad.

Deesdae woon ek op Vereeniging. Sal seker hier doodgaan.

Raak nogal bewoë en vol heimweë as ek K’rant se webwerf bekyk en al die oud-kollegas raaklees. Die mense stuur of ou foto’s of net ek het oud geword, want hulle lyk dan almal nog so jonk!

Ek sal graag wil weet wat het van Hennie Venter geword wat by Die Transvaler was. En wat van Harry Lombaard wat sportverslaggewer was?

Sal maar later nog ’n ou storietjie of twee aanstuur. Net om kontak te hou.

(Ons sien met groot verwagting uit na die “storietjie of twee”. – Red.)