Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

17.12.12

Etienne het spore in ander lewens getrap sonder dat hy dit besef


Oud-kollega ETIENNE KRIEL is op 6 Desember in die ouderdom van 66 jaar in Pretoria oorlede. Nadat hy hom as bosbouer bekwaam en ’n tyd lank in dié bedryf gewerk het, het Etienne besluit om joernalis te word en onder meer vir die Perskor-publikasies Oggendblad, Die Vaderland en Die Transvaler gewerk. Hy was ook die redakteur van die gewilde boerekoerant, Die Kouter. Hy was die afgelope 23 jaar die redakteur van die gesaghebbende hengelblad Stywe
Lyne, en hoewel dit as hengelskrywer was dat hy volksbesit geword het (hy het onder meer ‘n hengelrubriek in Perskor se Pretoriase weekblad Metro behartig), het hy ook sy merk as motor- en landbouskrywer gemaak.

Piet Coetzer
PIET COETZER, in sy koerantdae onder meer politieke korrespondent van Die Transvaler en Washingtonse verteenwoordiger van Perskorburo, skryf: Daar is mense wat spore in ander mense se lewens trap sonder dat hulle dit altyd besef. Etienne Kriel was so ’n mens.

Ek sit hier op Danabaai in die Suid-Kaap waar ons vir ’n paar dae by vriende kom uitspan het. So met die gesels gisteraand oor wat ek nog wil doen voordat ek vandag saam met my laatskapie van 15 gaan rekspring, vertel ek dat ek iets oor Etienne wil skryf.

Toe ontdek ek dat hul seun as jong kind vir Etienne ontmoet het vir een van die beste ervarings van sy lewe. ’n Goeie klompie jaar gelede was hy as 13-jarige een van die wenners van ’n wedstryd by Stywe Lyne, die tydskrif waarvan Etienne redakteur was. Die prys: ’n visvangbesoek aan Mosambiek.

Etienne Kriel was nie verniet redakteur van Stywe Lyne nie.
Foto: Salomé Kotzé, Etienne se dogter en 
redakteur van die Klerksdorp Rekord.
En, soos die ongelooflike netwerke tussen mense soms verloop, studeer daardie jongman vandag wildbestuur by wat destyds die ou Bosboukollege was. Dit is deselfde instelling waar Etienne ná matriek ’n bosboukursus geloop het.

Een van my sterkste herinneringe aan Etienne, wat van graad een tot klaarmaak saam met my op skool was, was sy ongelooflike liefde vir die natuur. Lank voor dit mode geword het, het hy ’n wrewel gehad aan hoe “moderne” ontwikkeling dikwels die natuur verwoes en bederf.

Ons het letterlik ’n klipgooi van mekaar in Vanderbijlpark, aan die oewer van die Vaalrivier, groot geword So rondom sewe of agt jaar oud was ek smoorverlief op sy ma. Sy was vir my vreeslik mooi en ek baie graag tyd by hulle aan huis deurgebring.

Vreemd genoeg het ’n hele paar klasmaats uit daardie skooldae in die mediawêreld beland. Onder hulle was ook Hoepel Scheepers, wat ook sommer net anderdag oor die Groot Rivier is. Dan was daar Peers Hartzenberg, wat in die laat 1960s by Die Vaderland was, en later die vervaardiger van die vroeë TV-program “’n Boer maak ‘n Plan” geword het.


Een vakansie was die Voortrekker-seuns op ’n fietstoer. Iewers in die Oos-Transvaal het Hoepel op ’n vragmotor-binneband in ’n swembad rondgedryf om ná ’n dag se trap af te koel. ’n Paar van ons het van die kant af bo-op hom gespring. Hoepel het amper verdrink, en toe die band kantel en hy baie benoud opkom vir asem, swaai hy blindelings maar woes met die vuis.

Peers, wat nie deel van die “moordbende” was nie, is teen die oogbank getref dat die bloed gespat het. Ja, ons was voorwaar bloedbroers!

Regs: Bloedbroertoer: Dié foto is op daardie fietstoer geneem. Die man links van Etienne (wat tweede van links staan) is Nico Vallent- goed, Ettiene se boesemvriend tot sy dood. Nico was voorheen hoof-opleidingsvlieënier van die SA Lugdiens en vlieg steeds. Hy was in die Kaap besig om aan boord te gaan om Etienne te gaan "groet" toe hy die boodskap op sy selfoon kry dat Ettiene oorlede is. Die toer was 49 of dalk 50 jaar gelede toe ons so 15 of dalk 16 jaar oud was. "Ek herken die ander gesigte op die foto, maar die name kan ek sowaar nie so op my eie onthou nie. Ons was "tawwe" manne daardie tyd – kyk net bietjie die kaal voete," sê Piet Coetzer. (Die foto is in Etienne se begrafnisbrief gepubliseer. – Red.)

Peers was die eerste van hierdie groep om ons te ontval. Sy vriendekring aan “daardie kant” is nou vinnig aan die groei. So tussen Etienne se visvang, Peers se prentjies maak en Hoepel se vreedsame dryf op ’n binneband, moet hulle maar die “gatsae” reghou – ons kom.

Thus Human
Gerhard Kleijn
THYS HUMAN skryf: Etienne was Oggendblad se laaste nuusredakteur – en hy was 'n goeie een. Hy is ook as sulks deur die redaksie waardeer. En die sukses wat hy van Stywe Lyne gemaak het wys net hoe 'n voortreflike joernalis hy was.

GERHARD KLEIJN skryf: Etienne was seker die heel “genuineste” koerantman en moontlik die beste vriend wat ek langs my Perskorpaadjie raakgeloop het. Ek sou graag later meer oor hierdie merkwaardige mens, uit my ervaring, met K’rant se lesers wou deel. (Gerhard is tans met vakansie en K’rant hoop om binnekort van hom te hoor. – Red.)

Philip Deetlefs
Joe van Buuren
PHILIP DEETLEFS skryf: Maggies, dit was vir my 'n groot skok toe ek vanoggend sien Etienne is dood. Ek stem volmondig met Gerhard Kleijn saam dat Etienne 'n onopgesmukte, eerlike mens sonder enige klokkies en fluitjies was. ‘n Mens se mens!

JOE VAN BUUREN skryf: Bitter jammer om van Etienne Kriel se heengaan te hoor. Hy en André Pienaar (A.B.J.) was twee van die gemoedelikste ouens wat ek geken het.