Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

14.12.12

'n Vrou wil eroties raakgesien word


“As ek aan my baie-naby ouderdom dink (en ek het abnormale angs daarvoor) is die kernding wat my aan die keel gryp die liggaamlike aftakeling. In my geval die verlies van die identiteit van mooi-wees.” Oor die vrou skryf hy: “Haar lippe en oë, swaai van die lyf, reukwater en juwele, is uitlokkend, selfs koketterig. Sy wil eroties raakgesien word, selfs in die kyk van die oë.

In sy “Opruiming” skryf Willem de Klerk uitvoerig oor die vrees van oud-word: “Die waterige verskrikte ogies, krom rug, aanskuifbene wat nie meer loop nie, maar grondlangs skuif-skuif, pap mond, aftrekkende gesigslyne, verskrompelde bobbejaanhandjies en 'n gees wat so half simpelrig naïef is (as dit nog goed gaan met 'n mens)... dis my angs. Nie soseer die dood nie of die eensaamheid en verstotenheid nie. Dis die oupatjie-figuurtjie wat werklik verskriklik op my senuwees werk.

“Ek doen daar nie veel aan om dit te verhoed nie. Ek leef hard in drink en rook en werk en alles, sonder oefening.

 Nina Overton-de Klerk
“Op onbewuste vlak verklaar hierdie sterk geaktiveerde vrees van my dalk ook vir Nina (prof. De Klerk-Overton) in my lewe. Dis 'n soort paradoks: ek vrees die verspotheid van die oupatjie langs die mooi jong vrou en aan die ander kant wil ek die oupatjie red deur die jong vrou, hopende (beslis in my onderbewussyn) dat sy aan my sy, my oupatjie-word sal vertraag.”

Hy skryf dat dit sy trots is dat hy hom nooit jonger hou as wat hy is nie, “maar my amper oumensliggaampie in die spieël gee my telkens 'n skrik. Ek voorsien dat in my oudwees dit 'n probleem gaan wees – depressie, skaamwees, onttrekking, wegkruip... vanweë liggaamlike verwerping van myself.”

Ek onthou goed hoe hy eendag omstreeks elfuur by die kantoor opgedaag het en in die gang aan my gesê het: “Ek was vanoggend uiters depressief oor so baie dinge wat verkeerd loop dat ek eers na 'n haarkapper toe is waar ek my laat skeer en my hare laat sny het. Wonderlik wat dit aan 'n mens se gees doen as jy voel dat jy so goed lyk as wat jy kan. Ek kan die uitdagings sommer nou met ywer en geesdrif aanpak, die reddelose gevoel van vanoggend is skoonveld.”

In sy “Opruiming” stel hy dit heelwat blatanter: “Ek is 'n mens van liggaamlikheid. Dis primêr by my. Ydel liggaamlikheid. En my ligaamlikheidsverlies gaan 'n krisis by my word.

“My gedagtes is ook – so half abnormaal – dikwels met lyke onder die grond besig. My treur, die eerste paar weke, oor iemand wat dood is, bly vashaak by die ontbindende liggaam, die wurms, die vrot vleis wat in stukke afval... en later, soos Opperman gesê het, die ‘suikersakke bene’.”

In 'n ietwat uitbundige luim skryf hy in “Die Vreemde God en sy mense” oor liggaamlikheid en die genot van die vlees:

“Genot is 'n lewensdrif wat nie met agterdog bejeën moet word nie.

Liggaamlikheid is juis die volheid van menslikheid.

Vrolikheid is 'n deug.

Die erotiek is 'n uitbundigheid wat op baie maniere geniet mag word.

Die verwysings in die Bybel dat gelowiges nie wêreldgelykvormig moet word nie, kan tog nie beteken dat genot sonde is nie.”

Hy verwys na mense vir wie omtrent alles sonde is: skoonheidskoninginne, seksualiteit as lyfspel wat slegs in die donker beoefen word en waaroor nie gepraat mag word nie – “dis 'n eksklusiewe huweliksvoorreg die allesverskriklikste sonde om roeringe van begeerte te voel vir ander mense of vrouens of om selfs blink oë te kry as jy in gesprek is met iemand van die teenoorgestelde geslag; geslagtelikheid as sodanig is 'n groot sonde, wat 'n mens moet verdring, behalwe wanneer jy jou ‘pligte’ in die huwelik nakom...”

Hy sê die preutses is dikwels moraliste wat verengde reëls en regulasies daarstel wat tyd- en kultuurgebonde is en wat dan summier tot godsdienstige eise verhef word. Die preutses bou 'n lewensbeskouing op halwe waarhede. Die Bybel waarsku wel teen onsedelikheid, oordadigheid en die versoekinge van die vlees, maar die “vreugde van liggaamlikheid – binne die verband van selfbeheersing – is 'n bestaanswyse wat ook aanbeveel word.”

Hy stel dit later só: “God het vir sy mense die tafel gedek vir genot, lus en plesier.”

Onder die opskrif “Erotiek is skoon en heilig” skryf hy: “Die erotiek is 'n uitbundige geskenk van God aan sy mense.

“Alles wat lewe is in die siklus van rypwording en bevrugting... Lus, 'n ingeskape seksuele dryfkrag, vind uiting in penetrasie en orgasme... In die mens het seksualiteit, naas 'n voortplantingsdoel, 'n dieper dimensie van lyflike liefdespel, wat sy klimaks bereik in 'n sensasie van 'n liggaamlike lekkerkry van 'n blinde soort genot.”

En: “Die erotiese lewe wat God vir sy mense bied, mag nie belemmer word nie. Vertakkinge van die Christendom en vroom Christelike mense het baie kwaad gedoen met die verdagmakery dat seksualiteit 'n donker ding is.”

Hy bepleit seksuele etiek, maar begrens dit deur te sê dat dit nie erotiese volheid in die wiele moet ry nie. Jongmense behoort nie verdoem te word oor voorhuwelikse “seksuele verkenning” nie, hoewel teen roekeloosheid gewaak behoort te word.

Hy rig ook ‘'n waarskuwing aan die kerke: homoseksuele mense behoort ook nie veroordeel te word nie. “Jou geslagskeuse vir 'n seksuele verhouding hoef jou nie te vervreem as jy een van God se mense is nie.”

Oor vroue uit 'n man se oogpunt skryf hy: “Verskillende vorme van erotiek, buite die huwelik of sonder 'n liefdesverhouding, kan deur God se mense geniet word... Die estetiese erotiek is die bewustheid van vroulike gestalte. Die ‘raaksien’ van die vrou... 'n vrou se hele liggaam is eroties en sy dra hierdie liggaam met 'n gees van erotiese intensie.”

Oor feminisme skryf hy dat dit reg is dat vroue volkome gelykheid op alle vlakke moet hê. “Maar as dit lei tot die vrou se aflegging van vroulikheid, verkoop sy haar geboortereg, haar vroulike gene, haar uniekheid en haar rol in die erotiek.”

Verderaan: “Die vrou is eroties op haar meesleurendste as sy die leiding neem.”

Hy sluit af met die gedagte dat die tradisionele Christendom die hoofstuk dalk sal bestempel as “hedonisme en permissiwiteit”.

Maar: “Mense van God wat hierdie hoofstuk met instemming lees, moet nie skuldig voel oor hul instemming nie, want die hoofstuk wou juis oorreed dat God – in 'n menslike beeld – glimlag vir sy mense wat soos kinders speel met die genietinge van die lewe.”

* En vir diegene van ons met krom, verskrompelde oupatjielyfies is daar dié troostelose aanhaling van Willem uit ‘n ongeïdentifiseerde knipseltjie van 'n baie ou man wat oor vroue uitgevra is:

“Ek dra nou die jare op my rug. Ek is afgeleef en onseker. Die saad – my sperms of my geestelike saad – is aan die opdroog. Maar ek voel nog die vreugde om na 'n vrou te kyk. Die bewegings van haar liggaam onder haar klere, die rondinge van haar borste wat wieg, die sagtheid van haar dye en die volheid van haar mond. As ek na haar kyk, gee dit my vreugde en onrus en verskeurdheid en groot eensaamheid. Ek sou graag wou aanhou om geestelik of fisies by haar in te gaan en myself op te los in die warmte van haar siel of liggaam. Maar ek weet dat dit vir my te laat is. En juis dit gee vir my 'n droefheid. Dat ek vroue by my moet laat verbygaan.”

Ai...

(Alles is nie noodwendig reg of verkeerd nie.)