Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

5.12.12

Suzelle laat Gert China toe verlang

GERT COETZEE skryf: Suzelle Fourie se vertellings uit landelike China was eerstens skitterend saamgeflans en tweedens vir my baie besonder, omdat ek my heeltemal kan vereenselwig met die plek en sy magiese bekoring.

My oorspronklike reproduksie is naamlik al 20 maande in China en ongelukkig is die kêrel nie joernalisties ingestel soos die derdegeslag-verslaggewer wat hy as 'n seuntjie oorweeg het om te word nie. (Ek en my pa het hom aanhoudend, in stereo, afgeraai om in ons voetstappe en nering te volg.) Gevolglik is die skrywe en bellery en skypery so skraps van sy kant af dat ek my vrek sit en verknies van verlange.

Ek het langer as drie jaar terug bloot in die Kaap beland om vir hom te kom kuier. Ek's steeds hier en hy het afgesit na die Carletonville van die wêreld, Erdos, Binne-Mongolië, China, om sy eie ek te gaan ontdek.

Net ter agtergrond: dieselfde klein pokkel wat baie Transvaler- en Vaderland-mense sal onthou omdat hy te oulik altyd beriggies getik en gaan ingee het by Oom Mike en Oom Hennie en Oom Frikkie en Oom Willie as ek hom saamgesleep het hoofkantoor toe, het ontaard in 'n reus. Die man staan knap duskant twee meter en as hy goed fiks is, weeg hy so 'n 110 kg plus.

Waar Erdos vandag staan (dis waar die Mej. Wêreld-kompetisie pas plaasgevind het), was tien jaar gelede niks nie – totdat groot steenkoolneerslae en olie ontdek is en die Chinese hierdie baie moderne wêreldstad gebou het. Probleempie: Die stad is vir 'n hele swetterjoel nuwe inwoners opgerig, maar hulle het nooit ingetrek nie met die gevolg Erdos is eintlik 'n spookstad. En hoewel die geboue pragtig is, het hulle nie hysbakke nie en moet jy maar trap slaan om by jou woonstel te kom. Ook is die elektrisiteit- en watervoorsiening nie so betroubaar soos ons vanselfsprekend in Suid-Afrika aanvaar nie. In Chinese kultuur het die stad verskeie openbare badhuise waar jy jou kan gaan blink skrop.

Wat ek dadelik agtergekom het toe ons oudste sy Z-visum hier by die konsulaat reël, is dat die Chinese oor die algemeen baie nuuskierig is en geen geheim daarvan maak nie. Hulle verstaar hulle openlik aan eienaardighede, soos 'n enorme Afrikaner-man van 35.

Nou vertel oudste vir my hy was die eerste keer maar half skaam om sy daaglikse ritueel onder die stort uit te voer tussen 'n klomp klein mannetjies wat, in sy woorde, stremming met hul groei in sekere opsigte opgedoen het toe hulle vyf jaar oud was; kortom, Chinese mans is blykbaar glad nie bedeel nie (en julle weet 'n Afrikaner spog maar altyd, of dit nou oor sy kar, rugbyspan of enige ander attribute is). Die mannetjies het oudste stom aangestaar, een-een verdwyn en weer teruggekom met ander mannetjies. Oudste kom toe agter hulle het hul pêlle gaan haal om ook te kom kyk.

Die wêreld van Genghis Khan het oudste 'n ruk lank aangestaan (die skaaptjops is volgens hom Karoo-lam se kaliber, 'n bier sterker as ons Black Labele en kos R6), maar hy het ook genoeg gehad van onder meer die -27-grade-winter en verhuis na die Riviera van China, Dalian aan die Koreaanse See. Daar woon hy saam met sy nefie wat hy ook China toe gesmokkel het om die Chinesies te leer Engels praat.