Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

10.1.13

Tergende teleksraaisel uiteindelik ontrafel

DIRK BENADÉ, perdewedrenredakteur van Die Transvaler van 1977 tot 1987 (hy het Chris Oberholzer opgevolg), skryf: Dit was vroegaand op ‘n Vrydag – vroeg as jy wil begin drink en laat as jy nog nie begin het nie – toe die brandewyn-en-coke-gedagte (die eerste keer daardie bepaalde dag) my by die telekshoof van Beeld, Whitey Odendaal, laat beland het.

Ek ek het g’n benul hoekom ek dié watergat gekies het nie, maar Whitey
was die “go-to-man” as jy wou kuier, veral gesien in die lig van die karige inkomste waarmee ’n koerantman moes toor om ’n bestaan te voer, en dus nie kroegpryse kon bekostig nie.

Nie dat hy die manskoeldrank voorsien het nie, maar hy het wel die drinkplek op kantoor. Whitey was nooit juis punteneurig oor etiek waar en wanneer hy ’n dubbeltjie wou wegslaan nie en sy geselskap was aangenaam. En Whitey het sy werk – nugter of effens aangeklam of smoordronk – stiptelik gedoen en op sy manier die (sy) telekskantoor soos ’n glad geoliede masjien bedryf.

En wat ’n karakter was hy nie! Een van die mánne, ’n duiweboer duisend met ’n houvermoë vir drank waarop ’n gesoute koerantman trots sou wees. Hy het op sy tyd ook die Jackpot gewen: R33 000 was in daardie dae ’n fortuin.

En dit was juis omdat Whitey so gekonfyt was met die telekskantoor – o, ja, en vanweë die liter Klippies en twee liter Coke – dat die spreekwoordelike papaja in die waaier beland het.

“Jy weet, Pappie,” het Whitey luidrugtig laat hoor nadat die liter tot ’n “halfjack” gereduseer is. “Julle het nie ’n #%&ken telekskantoor by Perskor nie. Julle is %$#@ed-up. Julle is agteraf en ek gaan dit nou bewys,” het hy gesê, so selfvoldaan soos iemand wat 'n gelukkie raak geloop het.

“Wie sal ons sê is dood of wat kan ek stuur om daar vrekkige spul aan die loop te kry? En dis nou al saktyd op ’n Vrydag. Kom ons %$# hulle goed rond.”

En na ‘n oomblik van nadenke: “Ja. Kom ons stuur ’n teleks en sê Swapo het Suidwes se administrateur-generaal, Theunie Steyn, vermoor. Hulle sal nie eens weet waarvandaan dit kom nie.” En daar gaat die teleks uit Beeld se telekskantoor!

Die glase klink weer en Perskor word opnuut deur die modder gesleep. Die keer nie net die “telekskantoor” nie. Van Jooste, Buitendag, De Klerk tot selfs by Verwoerd kom aan die beurt. En die R11,50 se nag-en-naweektjeks. O ja. En die gevriesde hoender – ons bonus.

Die minute stap verby en ons hoor niks van die teleks nie.

“Kyk. Hulle weet nie eens van die #*#ken teleks nie,” het Whitey voortgetier.

Net toe storm ‘n Beeld-verslaggewer die telekskantoor binne.

“Whitey, het jy nie van Reuter, Sapa, Die Burger of wie ook al iets gekry van Theunie Steyn wat deur Swapo vermoor is nie?” het die meisie gegil.

Whitey het so ’n stywe teug gevat en geantwoord asof hy al die tyd in die wêreld tot sy beskikking het. ”Nee, my ‘girl’. Die telekse is stil. Dis mos Vrydag. Waar hoor jy dit?”

“By my kontak by Die Transvaler. Hulle is besig om kommentaar in Londen en New York te kry, en by die VV. Hulle het die rolpers gestaak om die storie op die voorblad te dra.”

Sy het daar uitgestorm en Whitey het begin lag. “Wat het ek jou gesê? As daai teleks hier uitgekom het, sou ek dadelik geweet het waarvandaan dit gestuur is. Kom ons gaan hoor by Vegkop wat daar aangaan.”
Dit was soos ’n byenes toe ons by Vegkop instap.

Enesyds was Swapo onder skoot: “Ek is sommer lus en vat my pêlle en gaan skiet daai uitvaagsels dood!” Ek is sommer van vooraf die moer in vir die klomp Swapo’s!”

Andersyds die gekskeerders met die teleks: “Verdomde idiote wat sulke @&% vals boodskappe na Die Transvaler stuur en moedswillig my naweek op%$#.”

Waaroor is julle so die moer in? vra ons asof ons van geen sout of water weet nie.

Dis asof die aangespreekte verbaal begin kots teen die spoed van lig soos hy Swapo en die poetsbakkers in dieselfde asem verdoem.

Die hotelbaas, Diamond, het net geglimlag en die kasregister met die elegansie van ’n pianis geslaan.

Vergete was die rugby en alle ander lekker dinge. Swapo was weer vyand nr.1. En Sam Nojoma natuurlik. En die onnoembare fopper/s wat nie werk vir sy/hulle hande het nie!

Sesuur die volgende aand het ek (Pappie) by een van die Kotzé’s se huis – of was dit nou Wimpie se plek – vir die jaareindgeselligheid opgedaag. Sommer met die intrapslag hoor ek by die Groep van Sewe – dis nou Gert Kotzé, Hennie Kotzé, Wimpie en ’n paar ander – hoe hulle vure moes doodslaan in Londen, New York en wie weet waar nog.

Omdat ek darem die verskil tussen “tjoklits” en moeilikheid ken, het ek maar verby die kringetjie geloop.
Kan nie onthou of ek die drank op die partytjie moes koop nie, maar ek het weer lekker gekuier, dié keer sonder die teleksmasjien.

Ns: Ek sal nou nie met sekerheid kan sê wanneer nie, maar daardie tegnologie het lankal gekalf. En die ou tikmasjien. En skakelbordmeisies. En tiekiebokse om stories deur te bel. En die fabrieksouens om die blaaie op te maak. En… voeg maar self by. My geheue-fabriek het ook die gees gegee.

RIV W. Odendaal.

(Perskor het nie heeltydse teleksoperateurs gehad nie. Berigte is in drievoud getik en die afskrifte – “bloutjies” – is onderskeidelik in die Pretoria- en Sapa-mandjies geplaas. Daarvandaan is dit per motor afgelewer. Telekse wat ontvang is, is deur die vertaalkantoor verwerk en waar nodig na die nuusredaksie verwys. – Red.)