Soos wat die gebruik onder politieke korrespondente was, het ek ook maar so
van kantoor tot kantoor gestap, van minister tot minister, op soek na nuus.
Fanie Botha |
Ek was geesdriftig oor die storie en wou net skryf. Maar Fanie vra my toe om net te wag tot hy al die besonderhede van die direkteur-generaal van sy departement bekom het, dan gee hy die storie eksklusief aan Die Transvaler.
'n Week of drie later belê Fanie toe 'n mediakonferensie en nooi tot die Sondagkoerante – waarvan die politieke korrespondente nie op 'n Maandag diens doen nie, omdat hulle Saterdae moes werk – na die mediakonferensie.
Daar vertel hy toe die houtsparstorie. Gaap-gaap sit almal dit en aanluister. Die verdienste aan buitelandse valuta waarmee hy gespog het, was nie eens 'n druppel in die emmer van die totale staatsbegroting nie.
Ter afsluiting seg Fanie toe: “As julle nou vir my 'n interessante vraag wil vra, kan julle vra hoe daardie hout na Japan vervoer gaan word?”
Oorbluf. Dis al manier om die joernaliste se gesigte te beskryf. En niemand vra die vraag nie.
Uiteindelik red Jaap Venter van SAPA toe die situasie: “Mnr. Botha, hoe kom die sparre in Japan?”
Fanie: “Per skip.”
Stomgeslaan sit die joernaliste hom en aanstaar.
• Wat my onwillekeurig laat dink het aan 'n uitdrukking wat Robert Louis Stevenson gebruik het in Travels with a Donkey through the Cevenees: “Talking of the force of logic: there it sits in all its weakness.”