Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

19.12.12

Joernaliste met ‘Perswetenskap’? Wat de *&^% is dit?

JOHANN DE JAGER, oud-Hoofstadter skryf: 

Die begin

Die dae toe ek in die joernalistiek begin het, was ‘journalism’ by Rhodes en ‘perswetenskap’ by die destydse Potchefstroomse Universiteit vir CHO – in 1959 begin – erg onder verdenking by gesoute joernaliste van die dag. Hulle het vas geglo dat ʼn joernalis gebore word en NIE geleer kan word nie!

Dit het ek gou agtergekom.

Anders as wat ek op die Puk geleer is – deur wyle prof Gert Pienaar en prof Calvyn Snyman – moet ek nou by die spits van die piramiede begin en NIE by die bo-kant van die omgekeerde piramiede nie!

Nadat ek vroeg in November 1968 my laaste vakke vir my BA klaar geskryf het – Perswetenskap en Sielkunde – het ek begin werk soek. 'n Paar plekke probeer, want my oorlede pa was nie te opgewonde oor my keuse om ʼn joernalis te word nie. Niks gekry nie.

My pa het wel besef dat ek NET ʼn BA sou kon doen en NIE ʼn onderwyser sou kon wees nie – ek is veels te ongeduldig. Nadat ek somme in St. 8 gedop het en in matriek ʼn E vir Wetenskap en ʼn F vir Wiskunde gekry het, was my studiekeuses maar min! (Na my St. 8-sommestryd het my somme-meneer, mnr. Frik Grobler, van die Hoër Seunskool Hugenote in Springs ʼn dominee in die NG Kerk geword. Dit was vir hom toe reeds duidelik dat hy Bykomstige Hulp gaan nodig hê om my deur matriek te kry.)

Hermie Hendriks

Mitchellstraat 161, Pretoria-wes
So beland ek by Die Vaderland in Johannesburg – onderhoud met die ‘formidabele”- askies Burgersubs! – Hermie Hendriks! Was erg geïntimideer, het immers die man se boeke (Rooi Jan?*) al van kleintyd af gelees! Tipies Hermie Hendriks het hy gou met my klaargespeel! “Nee &^^% jong, ek sal Attie de Beer in Pretoria bel. Gaan liewer soontoe. Daar is ʼn koerant, Hoofstad, hulle het dalk nog plek vir jou! Hulle is in Mitchellstraat in Pretoria-Wes.

Hermie Hendriks
(Daar word vertel dat Hermie Hendriks destyds toe dr HF Verwoerd in die parlement vermoor is die SA Polisie ingeroep het om Die Vaderland se verslaggewers – dit was ná saktyd -– uit die verskillende kuierplekke te gaan haal, nadat ʼn toe jong Ferdi Hand lank vrugteloos probeer het om hom te oortuig dat die storie pas met drie paddastoeltjies oor die Sapa-teleksmasjien ingekom het. Weet nie of dit waar is nie.)

Hy bel sommer dadelik: “Jy moet môre agtuur by Attie de Beer aanmeld! Hy is assistent-redakteur. Dis ʼn nuwe koerant van Perskor en dr Andries Treurnicht is die redakteur!”

Hoofstad

Andries Trewurnicht
Die volgende oggend – dink dit was 20 November 1968 – staan ek in Hoofstad se nuuskantoor. ʼn Traumatiese ervaring, want ek is al omstreeks 04:00 uit Springs, ken Pretoria nie en was bang vir verdwaal en laat wees. ʼn Hele vloer vol glashokkies met snaakse ooms en tannies wat sit en tik en nie eers opkyk nie. (Die ‘tannies’ het ek later uitgevind, was Joey Steyn en Anita Chittenden.)

In die middelste hok vra ek beskeie na mnr. Attie de Beer. “Dis ek’! se ʼn groot, gryskopman met blou-blou oë, baie gulhartig en vriendelik, wat dawerend kon lag. Langs hom was ʼn netjiese donkerkopman met ʼn swartraambril. Hy lyk net effens vriendelik en kyk my goed deur. Gou gehoor dit is Jan van Vreden, die nuusredakteur.

Langs die middelste hok was daar ʼn groter glashok met ʼn U-vormige tafel. Aan die een kant het ʼn paar jonger mense gesit met sulke groen papiertjies en getik dat dit bars – Sapa en Reuters vertaal, het ek later uitgevind. Hoor toe dis die subkantoor.

Na ʼn BAIE kort gesprek, sommer so staan-staan, hoor ek ek moet more begin. Oor my nood-slaap- en -verblyfreëlings sal ek maar swyg. Gelukkig was daar die hotel op die hoek, die ‘Western’. Oor dié hotel bly ek nog stiller.

Die kollegas

Die volgende dag was ek reeds om 07:30 daar, “Meneer” de Beer ook! Een-een kom die joernaliste aan, hy stel my voor. “Juffrou Steyn sal na jou kyk!” Soos my ma my geleer het, sê ek “aangename kennis”. “Wie sê vir jou dis vir my aangenaam om jou te ken?” vra mej. Steyn met ʼn vonkel in die oog, wat ek toe glad nie raakgesien het nie! (’n Paar weke later en ná haar troue met ʼn bekende geoloog – het nou sy naam vergeet – het ons baie goeie vriende geword.) Wat ʼn klomp suurgatte! Die enigste ligstraal was Betsie Steyn, die redaksie-sekretaresse, en Anita Chittenden, die vroue-redaktrise! Hulle het immers geglimlag!

Werkloosheid begin nou na ʼn baie beter opsie lyk. My pa kan darem nog vir my sorg. Hierdie plek…?
Gelukkig loop ek twee oud-Pukke raak, Johan Huyser en Marietjie Swart. Hulle leef nog en lyk nie te sleg nie.

Dat ek geïntimideer was, kan julle verstaan. Skielik bevind ek my tussen mense soos dr Andries Treurnicht, SWD se skrumskakel teen die All Blacks in 1949, predikant en Kerkbode-redakteur; dr Felix Calitz (sy doktorale studie het glo oor vloek en skel in Afrikaans gegaan) was die assisten-tot-die-redakteur, met soos genoem Attie de Beer die assistent-redakteur; Jan van Vreden die nuusredakteur.

Daar ontmoet ek toe in vlees en bloed die groot name wat ek oor jare in my ouerhuis in Die Vaderland en Die Transvaler, Dagbreek en Sondagnuus en andere gelees het:

Tom Smit, graad in Geskiedenis en onderwysdiploma, wat besluit het om die onderwys te verlaat nadat hy glo in die klas gesê het die Voortrekkers was “’n klomp hardegat dwarstrekkers” en die skoolhoof toe baie ongelukkig was. Volgens oorlewering was Tom een van die manne wat daartoe gelei het dat die tikmasjiene in die ou SAUK-gebou in Commissionerstraat aan die lessenaars vasgeketting was! Met die Vontsteen-saak, wat Tom ‘gedek’ het, het Hoofstad se dag-tot-dag verkope die eerste keer dié van die Pretoria News verbygesteek. Hy het dan enkele minute voor saktyd by die kantoor aangekom en die hoofstorie vir Betsie Steyn gediktee.

Koos Venter, BSc in Plant- en Dierkunde, natuurkenner met ʼn verbysterende algemene kennis en wat vir maande in die Namibwoestyn kon wegraak.

Eddie Breytenbach, wat verstommend vinnig met twee vingers foutloos kon tik en elke dag ʼn donker pak klere, wit hemp en bypassende das gedra het.

Jaap de Bruyn, wat voor elke storie die Royal-tikmasjien ses of sewe keer laat ‘kling, kirrr” het voordat hy begin tik het.

André (Bakkies) Rossouw, die hoofsub, wat van Die Burger af gekom het, Hiemstra uit sy kop geken het, nooit geglimlag het nie en later redakteur van Sarie geword het.

Andries van Wyk was nog ʼn oud Burger-sub met ʼn onverbiddelike rooi pen en ʼn ongelooflike lelike handskrif.

Groot Frans was die hooffotograaf, ernstig, maar altyd gewillig om ʼn onervare joernalis te leer.

Neville Langley, nog ʼn fotograaf. Hy kon op Loftus Versfeld saam met Jannie Engelbrecht die kantlyn afhardloop om die drie wat hy teen Noord-Transvaal gaan druk het, af te neem.

By hom en Frans het ek baie van koerantfotografie geleer. Self ʼn voorbladfoto geneem van die baie mooi Oostenrykse tydrenner, Heidi Utz, waar sy aan haar motor gewerk het toe die Total-tydren nog voor die Pretoriase stadsaal begin het.(Dink steeds die oliestreep op haar wang en die ‘cleavage’ – toe nog ongewoon in Suid-Afrika – het die ding gedoen en nie juis die gehalte van die foto nie!)

Leon Gouws was die sportredakteur met Sys Meyer en Jakkie Domincus (later) van die verslaggewers! Leon was Noord-Transvaal verbete en lewenslank bitter oor ek hom destyds gewed het Griekwas gaan die Curriebeker wen. Die bottel White Horse Whiskey, weliswaar leeg, het ek nou nog. Oor die whiskey was Leon nie bitter nie…

Thys Human
Harald Pakendorf
Wens ek non meer name onthou, maar die ouderdom haal my in: Blikkies Blignaut, Barenda du Plessis, Mike Hattingh. Later het nog legendes by Hoofstad aangekom; Dirk van der Walt en Eric Ströh (fotograwe), Burger Botha, Wilkie van Schalkwyk, Stoffel Mynhardt. Thys Human en Harald Pakendorf, toe redakteur van die Rhodesian Financial Gazette, het ek op ’n respekvolle afstand dopgehou.

My eerste treë

My eerste opdrag was om ʼn onderskrif vir die foto van TUKS se nuwe studenteraad te skryf. Jan gee vir my die foto. Waar de *&&^ begin ʼn mens om die mense se name te kry? Na ʼn lang gedink oor die saak gaan vra ek vir Jan wie ek kan bel om die name te kry. Ewe vriendelik vat hy die foto en sê: “Kyk net agterop, ou Johantjie!” My hele BA Perswetenskap-ego in my *&&^!

My eerste berig was oor een of ander munisipale sakie. Dit was naby saktyd. Jan van Vreden het gesê ek moet die beriggie sommer vir André Rossouw gee. Ewe gedienstig betree ek die heiligdom van die subkantoor en oorhandig my berig. Bakkies neem dit sonder om op te kyk en gooi dit met een handbeweging in sy snippermandjie wat by sy linkerbeen gestaan het. My hele BA Perswetenskap-ego WEER in my *&&^! Op die eerste dag al!

Oom Engeltjie
Dit het nogal lank so aangegaan, maar ek het bitter vinnig geleer hoe Afrikaans geskryf moet word – Hiemstra versus Perskor se Oom Engeltjie. Lekker berigte geplaas gekry as ek Eddie Breytenbach (eb) of Jaap de Bruyn (jdb) se name regs bo op die velletjie getik het en nie my eie jdj nie!

Subkantoor

Nadat André Rossouw terug is Burger toe het Pierre de Villiers – met sy immer rokend pyp – hoofsub geword. Hy kon ʼn volblad binne enkele minute uitlê, EN die berigte vir oulaas lees. Hy het my geleer hoe bladuitleg gedoen word, want ná net meer as ʼn jaar as verslaggewer het Jan van Vreden my aangesê om sub-kantoor toe te gaan.

Eers eindeloos Sapa en Reuters vertaal, toe begin redigeer en toe middelblaaie begin “opmaak” – onder die wakende oog van Oom Pierre! Het selfs later as hoofsub waargeneem. (Wyle Bakkies Rossouw het toe ek in 1973 by die Burger na die nuwe rekenaar-setproses gaan kyk het, vir die eerste keer sedert ek hom ontmoet het, breed geglimlag toe ek hom die storie vertel. Van vreugde of van verdriet…dit weet ek steeds nie.)

Die subkantoor en bladuitleg het daartoe gelei dat ek in 1973, ná ʼn paar maande as redakteur van SASOL-nuus, by die Puk se Departement Perswetenskap aangestel is vir Praktiese Joernalistiek – skryf, vertaal, bladuitleg en fotografie. Vir agt jaar as die skiktydnuus- en subredakteur saam met ʼn hele paar joernalistiekstudente per jaar by die Heraldgroep se koerante in Potchefstroom gewerk.

Vandag

Hoe ek by Volkskas en Absa beland het, korporatiewe identiteite verander en ontwikkel het, bankdrag vir die personeel help ‘ontwerp’ het… dis ʼn anderdag se storie!

Wat ek by Hoofstad en die "karakters" wat toe my kollegas was geleer het, het my tot vandag toe bygebly en vir baie jare in my beroepslewe gedra.

Deesdae is joernaliste met grade in Kommunikasiekunde en Joernalistiek algemeen. Talle van my oud-studente is vandag senior nuusmense by koerante, tydskrifte, die radio en televisie. Hulle is baie professioneel en doen goeie werk.

Ek verwonder my of HULLE ook nog nuwelinge se eerste poging ongelees in die snippermandjie gooi. Seker nie, met die nuwe tegnologie "delete" hulle seker net.

My voorgangers en tydgenote met Journalism of Perswetenskap is nou oud en afgetree, talle al oor die Jordaanrivier. Teen skemeraand kan ons wel nog onhou… Sommige van ons moes seker iewers iets reg gedoen het, want jare later het selfs die Universiteit van Stellenbosch ‘n Honneursgraad in Joernalistiek begin, met die legendariese Piet Cilliers as die eerste professor, nogal!

(Johann de Jager is, na twee aftredes al, dosent aan die Noordwes-Universiteit op Mafikeng. – Red.)

* Hermie se broer Reinardt het die Rooi Jan-boeke onder die skuilnaam Casper H. Marais geskryf en die reeks Temmers van die Woestyn as R. Hendriks. Hermie het die reekse Diamantveld-avontuur en Elda van Eck geskryf.