"Wat sal ek van my lewe sê? Dit was regtig vir my sinvol en bevredigend. My beroepe, my gesinne. Al het ek ‘n tendens tot donker emosies in my gehad, was ek tog gelukkig. En baie geseënd ook. Ek het nie gely onder gebrek nie. Ek het boorde vol liefde ontvang.”
Willem de Klerk skryf in sy “Groetebrief” wat by sy begrafnis voorgelees is dat hy “nie anders wou gelewe het nie.”
Maar tog, lamenteer hy:
• “Ek sou meer wou geniet het van die son en die spel en die leeglê en die gewoon gesellige menswees.
• “Ek sou meer wou geniet het van poësie/letterkunde/die estetika. Ek sou daarin wou studeer het. Ek was te besig met myself en my probleme.
• “Ek sou meer wou geniet het van die warmte van menswees en die skoonheid van die aarde. Die sin van lewe is om te lewe. En ek sou meer die liefde geniet het – die gee en ontvang van liefde – want dit is die kristal van die lewe.”
Hy bely ook: “Baie sondes het ek gepleeg. Ek het God ook baie verloor vir lang tye en as ek hom gevind het, het ek nie genoeg erns daarvan gemaak nie.”
Hy berus hom: “My gees is nou in God se hande. Alleen as hy God is van onmeetbare vergiffenis, sal Hy my gees opneem. Ek glo vas Hy sal my genadig wees.
“Vir julle en vir my gaan ek nou die Onbekende in. God en die ewige lewe is wesenlik misterie. Ek wens ek kon julle iets daarvan laat weet. Maar ek sal nie kan nie, want ek glo nie aan verskynings en spoke nie.”
Sy versugting was: “Ek groet met nostalgie en verlange. Ek groet julle onwillig. Ek wou nog by julle wees. Maar die sterflikheid is ‘n feit.”
In die vreemde God en sy mense het Willem reeds begin besin oor die dood en oor oud word. Hy maak gewag van die gesegde dat almal wil hemel toe gaan, maar niemand wil doodgaan nie. Mense word al ouer, maar die “probleme van bejaardes is meer as hul seëninge”.
Bejaardes word geïsoleer, gestroop van waardigheid, nutteloos en verwaarloos deur hul naasbestaandes. Hul sintuie, geheue en logika verswak. “Die wil verloor sy gerigtheid” en kommunikasie raak lomp.
“Dis in die meeste gevalle ‘n leuen dat ouderdom wysheid bring.”
(O, gaats, daar is nog een van my vasklougoed in sy moer in!)
Ongelukkig is dit so dat bejaardes “se persoonlikhede bly versier en bevlek met die tipe mens wat hulle hulle lewe lank was. Die lelike trekke word leliker en die mooi trekke bly skyn, ondanks die aftakeling. Ouderdom maak nie van mense nuwe mense nie.”
En: “Die terugblik maak twiste, konflik, oorwinnings en prestasies amper onbenullig. Geskiedenis minimaliseer. As die tyd afgeloop het, word alles kleiner en jy leer dat jy eintlik nie ‘n merkie nalaat nie. Oudwees leer dat dit sinvol is om dinge te relativeer wat jou beset in jou lewe as jeugdige, volwassene en middeljarige.”
“Die filosofie redeneer dat die sin van die lewe juis daarin lê dat dit ‘n einde het… Mense ken net hul eie menslikheid. Die lewe van God is vir hulle vreemd. Dis die menslikheid wat die lewe bekend maak – drifte, strewe, konflik, angs, woede, verlange, eet en drink, seksualiteit, bereiking en verlies gee tempo, afwisseling en keuses in die lewe.”
Die dood is deel van die lewe en nie straf vir die sonde nie. Die Bybel weerspreek dit dikwels, maar “binne die waarheid van die paradoks en die misterie is dit moontlik om saam te leef met die stelling van die twee pole…”
Die ewigheid is vir hom “nie oorgang via doodgaan nie, maar ‘n oorplasing, ‘n verhuising van een dimensie van ewigheid na ‘n ander dimensie toe.”
Oor die praktiese sy van doodgaan, skryf hy: “Dat ‘n mens so waardig, gemaklik en geborge moontlik sal sterwe, is die ideaal. Sonder te swaar verdowing en sonder allerlei mediese drukte en apparaat. Tuis in die eie wêreld, en saam met die uitgesoekte dierbares. Nie in ‘n hospitaal met sy kliniese steriliteit nie, maar knus (hoe ironies dit mag klink) in die eie bed en omgewing…
“Daarom moet ‘n mens weet dat jy sterwend is of finaal opgeskrywe is vir die dood. Jy het reg op die waarheid. Gelukkig begin medici en familie al hoe meer openlik wees oor die sterwenswaarheid.”
Die fases van die sterwensbelewing begin met skok oor die bewuswording dat daar ‘n terminale siekte is. Daarop volg die ontkenningsfase, wat glo die diagnose is verkeerd en genesing is moontlik. “Dan kom aggressie en afreagering oor die dood wat aanklop. Die fase van kompromie is waar die persoon sy laaste hoop opbou dat iets tog die dood gaan stuit, dalk God, gebed of medisyne. Die volgende fase is depressie oor pyn, verlies, bekommernisse en angs en die groei van die skeidingsdepressie. Dis die stille droefheid van afskeid en die terugblik op die goeie en slegte van die lewe. Dis ook skuldgevoelens en angs. Daarna volg die aanvaarding wat onafgehandelde sake afhandel, laaste wense en versugtinge nog probeer waar maak en uitreik na die naby-mense. Die aanvaarding verloop in ‘n onttrekking waarin die sterwende inkeer en oorgee.”
Daar is navorsers wat meen dat “begeleiding van die sterwende, deur die dood op die tafel te sit, as ‘n groot verligting belewe word”. Hy skryf dat “begeleiers” wat empaties na die sterwende luister tot groot hulp is. “Tog word aanbeveel dat ‘n een-tot-een verhouding in sterwensbegeleiding die beste ruimte skep vir bystand aan die sterwende.”
Sterwendes moet, “al luisterende” gehelp word om die sin van hulle lewe te vind. Ontknoop saam met hulle ou konflikte en woedes. Vertel hulle dat liefde sterker is as die dood, want hulle gaan vir ewig liefde geniet en in liefde sal hul nagedagtenis voortleef in hulle naby-mense...
“Die lig, na duisternis van die siekte en dood, sal al die misverstande verdrywe, al die skuld, aggressie, angs en depressie laat verdwyn, al die paradokse oplos en al die hartseer wegneem.
“Sit by die sterwende in daardie laaste dae of ure van onttrekking met ‘n gerusstellende hand wat vasgehou word, en in stilte wat bo woorde uitgaan. Die stilte van die misterie.”
En dan?
Koos du Plessis |
Gedenk my in die sentimentele rympie van Koos du Plessis, die sanger. As julle saam buite gaan staan, kyk op. En ek sal in julle hart sê:
As jy my kan volg…
Sal jy my spoor in die Melkweg vind,
My tent tussen sterre sien staan.
Geteken: Willem Johannes de Klerk