(Die hunker-stukkie is darem nou nie wat Kitty prontuit gesê het nie.
‘n Oujongnooi soos sy sou g’n nooit so iets selfs in joernalistieke geselskap sê nie. Dis nou maar wat ek in my innerlike gedink het … )
Kittie Vermaak |
Die profeet, Natan, was baie, baie, baie “deadlines” gelede getaak om met koning Dawid te gaan praat oor dié se ongure owerspel met Bátseba en rig toe na ‘n taktvolle, roerende storie van die lammetjie uiteindelik die harde beskuldiging: “U is die man, o koning!” Wel… dit was toe ook wat Kitty die dag daar soos ‘n weerligstraal uit die blou lug vir hierdie gewese hoofsub sê: “Jý is die man; jy het die boude, Jasper !”
Sy moes my dus ongemerk bespied het tussen al die ander manne, dring dit agterna tot my deur… Jip, ek word darem raakgesien.
Ek is met my Hollandse realisme darem nie so voortvarend om ooit te dink dat my sigbare gesig die toppunt van skoonheid is nie. Gevlei oor my onsigbare gesig se skoonheid… dit was ek nogal so stilletjies! Ek was skielik ‘n model! Eenklaps in ‘n unieke liga met my “beboude gebied”!
Maar ek had nie eens tyd om “wintie” te voel daaroor nie. Ek moet nog deur ‘n paar “deadlines” vir die dag en sou eers later tot verhaal kom oor my modelstatus.
Sommer nog daardie selfde dag moes die foto geneem word. Daar’s ‘n “deadline”, sien.
Ek meen dit was Kitty se takt wat deurgekom het dat die fotonemery nie voor kollegas sou geskied nie. Dalk wou sy my ‘n spottery gespaar het. Ag, kom ons sê maar daar was nie ‘n mooi genoeg agtergrond in enige van die redaksiekantore beskikbaar nie. Die ander hoofredaksielede had groterige kantore, maar dalk sou hulle gekwets voel oor hulle nie mooi genoeg was vir die titel “Mr Sexy Butt” nie .
Ons is ‘n rukkie later vort onder Kitty se aanvoering. Een verdieping op (of was dit nou twee boontoe?). Nogal daar na die hoofbestuur se “Cadillac”-grootte kantore in Aucklandpark se ou kantore. Marius Jooste en Kie se kontrei.
(“Wraggies, ek IS skielik in ‘n nuwe liga, al julle hunkerende dames … !”)
Illustrasie |
Ek onthou ek moes my hemp netjies in my redelik styf passende broek indruk. “Baggies” en losserige klere was onbekend in daardie middel-70’s. Ja, en ek moet my boude bakkerig “gooi”, kom Kitty se voorskrif. En ek “gooi”. En die kamera klik. En ek “gooi”, weer en weer. En die kamera klik en klik. Hoeveel skote weet ek nie.
Die woord “bakgat” kry skielik vir my ‘n baie treffende nuwe betekenis. En dis jý, ou Jassie!
En toe was Kitty tevrede. En ek tot vandag toe ontevrede oor ek daai artikel se knipsel nie gehou het as ‘n bewysstuk nie. Vervlaks!
Ek moet darem tot Christel, my vrou van meer as 40 jaar se krediet, sê sy hét goeie smaak as dit by boude kom, al hang die veelgeroemde ou “wangetjies” deesdae al so effens.
Sy dink steeds ek is “bakgat”.