Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

11.1.13

"Ek gaan De Klerk fire. Jy moet oorvat"

Dit klink soos ʼn Vegkop-storie, maar te midde van al die destydse woelinge om Willem de Klerk het Marius Jooste eendag besluit hy gaan ʼn sportskrywer as redakteur van Transvaler aanstel. GERHARD BURGER vertel:

Die ou man het nie tyd gemors nie. “Sit!” het hy beveel. En toe ek op een van die kortpoot-stoele gaan sit, sê hy: “Ek gaan Willem de Klerk fire. Ek wil hê jy moet Transvaler oorvat.”

Dit was soos ʼn links-regs-kombinasie van Sonny Liston: een in die ribbes wat jou jou asem ontneem en een teen die kop wat jou sinneloos en spraakloos laat.

ʼn Paar minute tevore het my dagtaak nog om sport gedraai. Die sportredaksie was ʼn sterk span en een van Die Vaderland se beste bates. Toe bel Dot Kruger en sê: “Die baas wil jou sien.”

Marius Jooste
Ons gewone redaksielede het vermoed daar is onstuimigheid op hoë vlak, maar wat Marius Jooste daardie oggend gesê het, het vir my soos die motorbom by Ellispark geklink.

Of hy ooit sy besluit met iemand in die bestuur bespreek het, sal niemand weet nie. En tot vandag toe weet net enkele mense wat dié dag in sy kantoor gebeur het.

Ek het iets gemompel van “eers ʼn bietjie daaroor gaan dink” en in aller yl padgegee.

Harald Pakendorf
As Harald Pakendorf vooraf geweet het wat Jooste beplan, het hy niks gesê nie. Maar hy het verbaas gelyk toe ek by sy kantoor ingestap en sê: “Die ou man is mal. Hy wil hê ek moet Transvaler se redakteur word. Hy gaan Wimpie fire.”

Pakendorf, loshande die beste redakteur wat Perskor in daardie stormjare gehad het, het my help afkoel en ons het die “ou man” se opdrag bespreek.

Die Transvaler het manne soos Gert Kotzé en Hermie Hendriks in die hoofredaksie gehad; my leermeesters in ons Aucklandpark-dae. Daar was ook Hennie Kotze en ander gesoute joernaliste in elke afdeling van die koerant; deur die bank ouer, meer ervare en beter toegerus as ek.

Pakendorf het net so goed soos ek geweet dit is ʼn waansinnige gedagte om my as hoofman oor sulke senior mense aan te stel, veral omdat ek geen politieke agtergrond gehad het nie, en hoegenaamd geen belangstelling in die politiek nie.

Ons is later terug boontoe, ek en Pakendorf. “Meneer, Gerhard voel hy is nie gereed vir so iets nie en ek dink hy’s reg,” het Pakendorf gesê.

Die ou man het brom-brom skietgegee en ek het teruggevlug sportkantoor toe, waar ek min of meer veilig teen sulke intriges gevoel het. Ek het niemand van Jooste se planne vertel nie; ook nie dat hy De Klerk gaan “fire” nie.

Eintlik moes Harald lankal sy weergawe van daardie jare se woelinge geskryf het. Van almal wat nog leef, weet hy seker die beste van wat destyds op bestuur- en direksievlak gesê en besluit is.

Party oud-kollegas sal nie saamstem nie, maar Pakendorf was myns insiens in alle opsigte ʼn beter joernalis as al die ander Perskor-redakteurs wat destyds gekom en gegaan het. Hy het ʼn sterk politieke agtergrond en goeie politieke kontakte gehad, het genoeg van die finansiële bestuur van koerante geweet en was ʼn nuushond wat nie bo ʼn bier in Vegkop verhewe was nie.

Maar op Perskor se bestuursvlak, wat nog te sê direksievlak, was waarskynlik nooit iemand wat ʼn benul van ʼn redakteur en ʼn redaksie se werk en behoeftes gehad het nie; nêrens ʼn Ton Vosloo nie. Dit was een van die oorsake van die latere ineenstorting.

Oor waar die agteruitgang begin het en oor ʼn dokument wat waarskynlik die bestuur finaal laat besluit het om Perskor se laaste Afrikaanse dagblad te sluit, sal ek, DV, in ʼn opvolgstorie skryf.