Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.5.12

Glips: ’n Proefleser stamp hom nie twee keer nie

PIET EBERSÖHN skryf:  In die later jare sewentig het Die Transvaler op ’n keer ‘n bylae oor Klerksdorp die lig laat sien. Dit het onder meer ’n berig bevat waarin verwys is na ’n aantal pioniersfamilies – en hulle is by die naam genoem – wat in die beginjare noord van die dorp geboer het.

Net, toe die nasate van dié families die oggend DT so saam met hul borde mieliepap oopslaan, staan daar dat hulle voorouers noord van die dorp
“gehoer” het. Natuurlik was hulle in hul eer gekrenk. Dit het ’n hele nukkerigheid veroorsaak.

By DT het die inkwisisie geloop en die blaam is vierkantig op die skouers van die proeflesers geplaas. Dié het die brandstapel net-net vrygespring.

Willem de Klerk
’n Wyle later was die volk in rep en roer oor ’n opvoering iewers van William Shakespeare se Othello, met Desdemona se indiskrete weglopery oor die kleurgrens heen met die Moor Othello die middelpunt van die bohaai.

Willem de Klerk het ietsie daaroor te sê gehad in een van sy rubrieke op die hoofartikelbladsy, wat hy toe afgesluit het met die stelling: „’n Hoer bly ’n hoer.” Nou ja, die spreekwoord sê ’n esel stamp hom nie twee keer teen dieselfde klip nie. ’n Proefleser ook nie.

Die volgende oggend eindig Willem se stukkie in DT met die gevleuelde woorde: “Hoër bly hoër.”