Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.5.12

Fotogenie

DIS nie net verslaggewers soos Frikkie van der Walt wat ’n sak vol truuks had om ’n storie te kry nie. Daar was ook diesulkes onder die fotograwe.

By geleentheid het ’n span van Die Transvaler twee oumense besoek wie se seun om die een of ander rede in die nuus was. Hermie Rossouw was die fotograaf.

Die oumense het lekker gesels, maar verheks of hulle vir ’n foto wou poseer. DT se mense maak toe maar aanstaltes om te loop. Op pad deur toe sien Hermie skielik ’n skildery wat vir hom verskriklik mooi is. Mag hy nie dit afneem nie, asseblief?

Die oues van dae is inskiklik en Hermie mik vir die foto. Hy mik die kant en hy mik daai kant, maar die lig val eenvoudig nie so dat dit reg aan die skildery laat geskied nie. Wil die egpaar dit dan nie van die muur afhaal en aan weerskante vashou op ’n plek waar die lig beter op die kunswerk val nie?

So gevra, so gedaan – en siedaar: Hermie het sy twee kop-en-skouerse!