Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.5.12

Proefleser afgedank oor gepaaide berig

ANDRÉ BUYS skryf::  Ek het van 1969 tot 1977 in die proefleeskantoor in Aucklandpark en Doornfontein gewerk. Ek is ’n voormalige redakteur van Die Noord-Transvaler en is tans motor- en sakeredakteur by die Noordelike Review in Polokwane.Ek is ook die broer van Willie Buys, mederedakteur van K’rant en wyle Tom Buys, in lewe nuusredakteur van ook oorlede Die Vaderland.


Mense behoort die volgende staaltjie te geniet:

Dit was in die tyd van die samesmelting tussen die Sondagkoerante Dagbreek en Die Beeld in 1970 waaruit Rapport gebore is. Dit was ook nog in die tyd van die loodset-proses, galeiproewe, nat bladproewe, ens. Dit was ‘n geskiedkundige Saterdagaand waarin die eerste Rapport die lig sou sien en die proefleser wat die voorreg gehad het om die voorblad na te gaan se naam, was John Dercksen.

Hy het egter meer met sy kopiehouer gesels as om in detail in te gaan of die blad reg is. Hy het die blad so half ingedagte geteken.  As jy ’n blad geteken het, aanvaar jy verantwoordelikheid dat hy reg is.

Skaars vyf minute daarna storm Koos Buitendag, later besturende direkteur van Perskor, die kantoor binne.

„Wie het dié blad geteken?"

John Dercksen beduie aan hom hy het die blad geteken.

„Jy is ontslaan!"

John het sy baadjie gevat en hy is daar weg.

Ons almal het gewonder wat met die blad verkeerd sou wees. Ek het egter later uitgevind dat die hoofberig se intro oor twee dele geset was en dat die intro "gepaai" was.

Arme John ...

(Vir die post-loodgenerasie: ’n „Paai” was wanneer die loodstafies waarop die letters geset is, deurmekaar geraak het en die kopie gevolglik nie sin gemaak het nie. Die Drukkerswoordeboek noem dit ‘n pastei, pasteisetsel of puinsetsel. – Red.)