Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

27.5.12

Peet ontpop as beskermengel

PEET SIMONIS skryf:  SULKE kop-omruilery soos wat Japie Bosch vroeër van vertel het, gebeur nogal meer as wat ’n mens dink – met onderskrifte ook. Veral met die oormakery van bladsye tussen uitgawes wat op dieselfde dag verskyn.


Die Transvaler het, byvoorbeeld, in die jare sewentig drie tot vier uitgawes per dag die lig laat sien. Dis ook mos makliker om die nuwe storie en/of foto net in te pas waar die oue uitgehaal is.

DT het by geleentheid ’n onderhoud oor die een of ander bordeeleienaar, wat die vorige dag in die laat uitgawe verskyn het, in die eerste uitgawe van die volgende dag herhaal. Vir die tweede uitgawe moes dit plek maak vir ’n onderhoud met regter Kowie Marais oor die bedrywighede van die Johannesburgse Kunsvereniging, waarvan hy die voorsitter was.

Peet Simonis
Albei berigte is met kop-en-skouer-blokkies geïllustreer. Nagredakteur Peet Simonis het in sy lewe seker nie ’n voet in die masjienkamer gesit nie. Dié nag besluit hy egter om te gaan kyk hoe vorder sake met die druk van die tweede uitgawe. Daar lê nog ’n paar plate wat wag om op die rolpers vasgebout te word, en hy tel een op om te lees.

Dis toe dat hy hom lam skrik. Daar staan dit onder regter Kowie se foto vir ’n ieder en ‘n elk wat wil lees: „Suid-Afrika se selferkende ontugkoning.” Peet het die plaat daar en dan gekonfiskeer en dit is onwaarskynlik dat enigiemand voorheen of daarna die afstand tussen die masjienkamer en DT se nagkantoor vinniger afgelê het.

Hy het gewis daardie nag ’n hele paar loopbane gered. Dis te betwyfel of die hof dit as versagtende omstandighede sou aanvaar dat die regter op daardie tydstip al ’n hele paar keer getroud was.

Die eer-krenkende plaat het jare later nog in ’n kas in DT se nagkantoor in Doornfontein gelê. Hopelik het iemand op die ou end daaraan gedink om dit te bewaar.