Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

19.5.12

"By-lines" aan skerwe!

AUGUST DU PREEZ skryf: Toe K'rant se redaksie my versoek om meer te vertel oor die klouterdief wat Johannesburg in die 70’s op hol gehad het, het ek onwillekeurig teruggedink aan my soeke na „by-lines” as jong en onervare verslaggewer by Die Vaderland.
Pas 19 en eintlik nog ’n „cub reporter” wat as misdaadverslaggewer by Frikkie van der Walt oorgeneem het, moes ’n mens êrens jou merk probeer maak (en die „by-lineˮ was baie belangrik!) Twee sulke doelgerigte pogings
duik na 42 jaar in my gemoed op.

August du Preez in die sirkus. (Foto: Willie Havenga)
Die eerste was toe ek sprakeloos, maar „by-lineˮ-gerig moes instem toe nuusredakteur Frans du Toit my grynsend meedeel dat Die Vaderland Boswell en Wilkie-sirkus se sweefstok-artieste tot ’n sweefstryd uitgedaag het en dat die lot op my geval het. En dit nogal tydens ’n stampvol amptelike openingsmiddag by die ou skouterrein in Empireweg.

Onnodig om te sê dat my erge graad hoogtevrees my lot bepaal het en ook onnodig om te sê dat ek maar taamlik bedroewig uit die stryd getree het met eina-skaafplekke op ’n baie strategiese plek en waar geen pleister geplak kon word nie.

Suzelle (du Preez) Fourie sal daarvan kan getuig en oorlede Willie Havenga was die fotograaf

Klouterdief

En dan was daar Houghton se klouterdief. Hierdie gesoute klouter was inderdaad ’n „spider man” wat geen muur of gebou of diefwering ontsien het om Houghton se rykes se juwele en skatte te beklouter nie. En wanneer hy toegeslaan het, was dit met mening. Dan hier, dan daar en heeltyd in Houghton.

Oggend ná oggend en week ná week het brig. Stoffel Buys, gevreesde Randse speurhoof, met hande so groot soos skopgrawe, ons in sy kantoor in John Vorsterplein oor hierdie gesoute misadadiger se jongste aanslae en suksesse ingelig. En sy aanslae was al meer en meer gewaagd en die rykes in Houghton al meer en meer paniekerig.

Intussen het ek gereeld oproepe van iemand ontvang wat hom as die klouterdief voorgedoen het.

Lekkerskryf-detail oor spesifieke inbrake is tydens hierdie gesprekke met my gedeel en sy gespoggery het voorsprong-luister aan my stories verleen.

 „Hierdie is die geleentheid om werklik my merk te maak,” het ek begin glo en besef dat ek al die truuks* wat Frikkie van der Walt my geleer het en nog meer sal moet inspan om sommer groot naam te maak. 


Tydens een van die gesprekke slaag ek toe daarin om ’n afspraak met die man te reël – laat-aand in ’n donker woonstelgebou neffens-noord van die Hillbrow-toring. My deurklop word beantwoord deur ’n verwaarloosde vrou met huilende kind in die agtergrond: „Jammer, hy is nie hier nie. Weer uit op een van sy nagtelike besoeke.”

In die sitkamer begin sy gesels oor die treurigheid en onsekerheid in haar lewe en dat sy nie weet wanneer haar man gevang en weer toegesluit gaan word nie. Hy was reeds agter trallies en hy het boonop opgeskorte vonnisse wat in werking tree.

Ek begin twyfel of ek op die spoor van die werklike klouterdief is.


Daar en dan besluit ek dat ek in hulle slaapkamer moet kom en ’n skoen in die hande moet kry wat hy moontlik in sy klouter-eskapades kon gebruik het.

Met die verskoning dat ek die badkamer moet besoek kry ek toe die geleentheid en met ’n tekkie-tipe skoen agter in my broek versteek is ek toe daar weg.

Onnodig om te sê dat die skoen toe nie die klouterdief se afdruk gepas het nie en my droom van ’n „bold by-line” aan skerwe gelê het ... net soos my „nerwe” in die sirkus. 
  • Een van Frikkie se truuks: Daar was ’n moord in Bezuidenhoutvallei en ek is saam met hom na die huis. Buite in die straat was ’n klomp verslaggewers en in die tuin by die hekkie het ’n reus van ’n man met ’n bofbalkolf niemand toelaat om naby te kom nie. Frikkie gaan koop toe ’n bos blomme en toe hy, blomme in die hand, by die hekkie aankom word hy vriendelik ingelaat om te gaan simpatiseer. (Sy storie het hy gekry.).