Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

27.5.12

Oor setters en ketters

DIE drukkersduiwel? Daar’s g’n net een nie, daar’s ’n hele settery vol, of was minstens daardie jare in Doornfontein.

Daar was die handsetters Belg Pannas (ek dink sy van was Vicene), Steyntjie, Frans, Tommy, Mike, Brian, Alfie, Barros en sy maters uit Mosambiek. Hulle het in die naloodse era „strippers” geword.

Dan was daar Des en sy Portugese masjiensetters, en die litograwe Rudi Mioch en Steve . Die matrysmaker, Olifant. Afsonderlik en gesamentlik die nagmerrie van enige steensub.

En moenie die hoofmanne oor vyftig en honderd, Johan Engelbrecht en Abdol van der Merwe, oorsien nie. Dit daar gelaat.

Só gebeur dit op ‘n dag dat die drukkery besluit om te staak. Kenlik ongelukkig omdat oortyd drasties besnoei is. Die mantel val toe op Pannas as „vader van die kapel”, m.a.w. die voorsitter van die plaaslike tak van die drukkersvakbond, om die boodskap aan besturende direkteur Marius Jooste oor te dra.

Só ook het Pannas later oor sy sending verslag gedoen: „Hy laat my nie eens sit nie. Vra net ‚Wat se nasie is jy, Vicene’. ‚Een Belg, meneer,’ seg ek, en hy seg: ‚Nou toe, wat staat je hier rond? Loop doet je werk voor ek je gat skop’.”

Staking? Watter staking?

□ Dan was daar George van stereo, wat die plate gemaak het, daar neffens die diepdrukrolpers waar o.m. Die Voorligter gedruk is. George, wat so lekker kon skrik en ’n gevloekery nie kon verduur nie. Gevolglik is hy kort-kort skrik gemaak. Ook is daar meer in sy teenwoordigheid gevloek as op enige ander plek. Net om hom op sy besonderse manier te hoor sê: “Kê-hirk vi-ir je-hou!”