Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

7.5.12

Ons het ’n stap-probleem

PHILIP DEETLEFS was sedert Januarie 1973 aan Die Transvaler verbonde. Hy is die volgende jaar na die Londense kantoor verplaas, waar hy eers saam met Hennie Kotzé en toe Thys Human gewerk het.

In 1978 is hy terug Johannesburg toe. Op 1 September 1980 het hy by Die Republikein in Windhoek aangesluit. Ná ’n draai by Nampo en Vleisboer op Bothaville is hy terug Windhoek toe waar hy nou „vasgesweis” is.

Hy is na Ou Mutual, waar hy tot die pos van bemarkinsgestuurder vir Namibië gevorder het, voordat hy hom as onafhanklike makelaar gevestig het. Sy vrou, Wilma (née Rudman), het ook in die laat jare sewentig as verslaggewer by DT gewerk. In Namibië het sy ’n paar maande lank onderwys gegee voor sy by die staatsdiens aangesluit het.

 Philip skryf uit Windhoek, Namibië:

Drinkebroers in die Namib.
Net maar EEN van die dinge wat ek by die koerant leer doen het, is drink. Ek het op skool leer rook. Dis nie so erg soos wat dit klink nie. Ek hoor alkoholiste hou op en dan begin hulle weer drink en dan woon hulle ook vergaderings by. Ek het nog nie opgehou nie en woon ook nog nie vergaderings by nie. Darem nog nie.

Ná letterlik jare van drink en rook, ontmoet ons toe ’n groep vriende hier in Windhoek wat ook twee gewoontes het. Hulle drink en in plaas van rook, stap hulle. Ons het toe hierdie stapgewoonte ook aangeleer en darem gelukkig die rook-ene afgeleer. 

Philip in die Seder se krake.
Nou moet ek bieg dat ons aan stap verslaaf geraak het. Toe die tweede paar stapstewels in die asdrom beland, was daar min keer. Die Visrivier-spoelvallei by ons in Namibië het ons nou al sewe keer gestap, die Os du Randt van multidag-staptogte, die 8-dag-Naukluft-roete gedoen, die Otter- én die Walvisroete in elf agtereenvolgende dae afgelê met die dag tussen-in om van Nature’s Valley tot by die begin van die Walvisroete naby Swellendam uit te kom.

En drie keer al van Königstein af in die Brandberg, die hoogste spits in Namibië, die eindelose bekoring van die Namib onder ons ingeneem. Dan die Sederberge gestap-klim na die Wolfberg-boog en die ander lieflike rotsformasies in daardie omgewing.

Mev Atlas.
Dielangste stap was die 750-km-pelgrimsroete van St. Jean Pied de Port in Frankryk aan die voet van die Pirenese Gebergte tot in Santiago de Compostela naby die weskus van Spanje. Die Camino de Santiago – altesame 23 dae se elke dag stap. Party dae oor die 50 km op ‘n dag.

 Maar, of dit nou onder in die Vis is of bo in die Sederberge, die Naukluftberge of die Brandberg of op die pelgrimsroete in Spanje, maak nie saak nie. As jy die aand klaar gestap het, drink jy ‘n dop (of twee) want daar’s min dinge wat dan met soveel genoegdoening lekkerder smaak.

Prosit!