Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.5.12

'n Koppie word 'n kop en 'n foto word 'n kaaskoek

JAPIE bOSCH vertel fotograaf-stories: Vaderland-fotograaf, Frank Rousseau, het tydens ‘n munisipale verkiesing in die vroeë 70’s vir ‘n lekkerlag-insident gesorg.
Op dié betrokke dag was ek en Frank by ‘n stembus in Linden waar Carel Venter, die leier van die NP in die stadsraad, kandidaat was.

Vroegoggend by die stembusse is daar gewoonlik nie juis veel opwinding nie. Frank het ‘n plan gemaak en Carel en ‘n paar van die mooiste meisies daar rond saam laat staan en koffie drink.

Carel het sy koppie met die een hand en piering met die ander vasgehou, maar sy voorarms het half op sy groot maag gerus en die koppie was buite die korrel van die kameralens.

Frank het hom versoek: “Lig die koppie, mnr Venter,” want Carel moet mos wys hoe samesyn by die stembus lyk.

Carel het sy kop gelig.

Weer het Frank gevra: “Mnr Venter, lig die die koppie”.

Carel het sy kop verder na agter gestrek.

Toe Frank die derde keer die versoek rig, was Carel se reaksie: “Maar ek kan nie meer nie”.

Die meisies aan Carel se sy het uitgebars van die lag, want Carel was 'n groot ou en 'n koppie het hy gewis nie op sy skouers gehad nie.. Hulle het Carel se hoof toe vorentoe gedruk, sy koffiekoppie en piering vír hom gelig en Frank het ‘n pragfoto van dié joligheid gekry.


Waar sit jou verhemelte?

Die einste Frank was Engelssprekend, maar sy Afrikaans was nie sleg nie. Plek-plek het hy soms die verkeerde woorde gebruik.

Soos die dag toe hy, ná ‘n storie by ‘n selfmoord, by die nuustafel met ‘n onplaasbare foto aankom. Hy wou vertel het dat die persoon hom in die slaap geskiet het. Met sy wysvinger reguit en duim in die lug het Frank na sy regterslaap gewys en gesê: “Die ou het hom in die verhemelte geskiet”.

 Hoe kan 'n kaaskoek nou 'n foto wees?

Wat Douggie wou hê.
‘n Ander mooi fotograaf-storie is van die dag toe Vaderland-nuusredakteur Douglas Jones ‘n nuwe, jong fotograaf opdrag gegee om ‘n “cheese cake”-foto by een of ander aanvallige model te gaan neem.

Wat Douggie gekry het.
Vir Douggie was ‘n goeie “cheese cake” amper net so belangrik soos ‘n “scoop”. So goed soos hy ‘n storie kon vertel, so goed het Douggie die fotograaf beduie dat die model been moet wys en waar moontlik nog meer, baie meer. “’n Lekker ‘cheese cake’,” het hy beklemtoon en ‘n vietse vroue-figuur in die lug geteken.

(‘n “Cheese cake”-foto was wat deesdae ‘n agterblad-meisie is.) 

Dit was bekend dat dié fotograaf (sy naam word liefs verswyg) al te dikwels in ‘n droomwêreld was.

Toe hy by die model aankom, het hy haar glo gevra:

“Waar’s die koek?”

“Watse koek?”

“Die kaaskoek.”

“Waarvan praat jy?”

Vir die waarheid kan ek nie instaan nie, maar die storie het geloop dat die fotograaf uit sy eie sak ‘n kaaskoek gaan koop het. Die model moes dit vashou en maak of sy daarna hap.

Douggie het glo amper stuipe gekry.