Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

21.5.12

Amper afgedank oor slaptjips

ANDRÉ BUYS, toe nog proefleser in Perskor-diens, vertel: DIT was ’n Saterdagmiddag in 1969 en oom Cas Pretorius, hoofproefleser, het gesê ek kan gou met ete gaan. Ek het besluit om winkel toe te gaan en soontoe te stap. Ek het slap ‚tjips’ gekoop en was op pad terug toe ek skielik in oorlede Marius Jooste, die besturende direkteur, vasloop.

Hy het my gevra waar ek vandaan kom en ek het gesê ek was gou winkel toe. Hy was klaarblyklik woedend omdat daar niemand voor by die hek was nie. Ek het gedog dit was die einde van die storie, maar intussen het baas Marius vir wyle Koos Buitendag, later sy opvolger, ontbied.

Oom Koos het my ontbied en ek het sy kantoor met vrees en bewing betree. Hy het my gevra wat ek gedoen het, en ek het ook aan hom vertel dat ek slegs winkel toe was. Later blyk dit toe dat baas Marius my wou afdank, omdat ek nie tydens ete (winkel toe gaan) uitgeklok het nie.

Die probleem was dat ek nie geweet ek moes dit doen nie, aangesien ek toe slegs ‘n paar maande in diens was. Oorlede Tom Buys, toe nuusredakteur by Die Vaderland, en Willie Buys, assistant-nuusredakteur by Die Transvaler, my twee broers, het van die voorval te hore gekom en uiteraard in my onskuld geglo.

Hulle was só ernstig oor die eksentrieke onreg dat hulle bereid was om en force te bedank as baas Jooste my sou ontslaan. Gepraat van broederlike hefboomkrag! Nou nie dat die grootbaas van Perskor die soort man was wat hom laat afdreig het nie en Tom het na hom gestap met die besluit om die diplomatiese pad met 'n verduideliking van die die situasie te volg.

Die uiteinde was dat ek my jop behou het en het nou ’n leeftyd van diens aan Perskor en sy filiale agter die rug het.