Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

11.5.12

Andries Botha se politieke poeding (2)

ANDRIES BOTHA vertel staaltjies uit sy dae as politieke skrywer.

Min koerantmanne het so ’n aktiewe rol in die politiek as die destydse redakteur van die Sunday Times, mnr. Joel Mervis, gespeel.

Een Sondag het hy sy hoofberig gewy aan ’n oproep op die Leier van die Opposisie, sir De Villiers Graaff (foto links onder: Div Looks Back), om te bedank weens die agteruitgang van die party in sy tyd. Die opskrif was: "Thirteen Reasons why Graaff Must Go”. 

De Villiers Graaff
In die wantroue- debat in die Volksraad het John Vorster uitvoerig oor die berig gepraat en verwys na die Sunday Times se uiters vleiende artikel oor sir De Villiers toe hy adv. Koos Straus as Opposisieleier opgevolg het. Vorster het in besonderheid vertel van die agteruitgang van die Verenigde Party met elke verkiesing en hoe die party in sir De Villiers se tyd sowat 20 kiesafdelings aan die Nasionale Party moes afstaan.

"En nou sê die Sunday Times, wat sir De Villiers so opgehemel het toe hy aangestel is, dat hy moet bedank. Maar ek dink hy’s die beste Leier van die Opposisie wat die land nog gehad het. Hou hom daar!”

 ----------------

Blaar Grobbelaar
Uit die destydse Persgalery het daar ook soms juweeltjies gekom. Joernaliste had hul eie eetkamer/kroeg waar LVs slegs op uitnodiging welkom was. Daar was ook luidsprekers waar ‘n mens kon hoor wat in die Volksraad aangaan.

’n Kollega, Blaar Grobbelaar (foto regs: Die Transvaler 50 Jaar), het Die Volksblad verteenwoordig en as een van die 13 Vrystaatse LPs gepraat het, moes hy daaroor berig of daar was pêre. Op ’n dag staan ons daar oor ’n drankie en gesels toe Blaar ons stilmaak. „Wat gaan aan, Blaar?” wou ons weet.

"Die vlak van die debat is nou laag genoeg. Ek beter in die persbank gaan sit. Daar kan nou enige oomblik ‘n Vrystater toetree.”
----------------
Dis dieselfde Blaar, nou saliger, wat op ’n dag vir ’n hoogtepunt gesorg het toe daar ’n leierskapstryd in die Transvaalse Verenigde Party was tussen mnr. Marais Steyn, toe die leier en verteenwoordiger van die "Old Guard” in die VP., en mnr. Harry Schwarz, leier van die Jong Turke.

’n Verkiesingsvergadering is met geslote deure in die kongreshotel van die VP, vandag ’n bordeel in Joubertpark, gehou. Die Jong Turke was in die meerderheid. Merk wyle Schalk Pienaar, redakteur van Rapport, toe op: "Marais Steyn moet seker nou voel soos Daniël in die leeukuil. ”Waarop Blaar reageer: "Met respek, meneer, daar is een groot verskil: Daniël het darem hulp gehad.”

 ----------------
Op politieke vergaderings sou ’n mens nie graag aan die ontvangkant van Vorster se bytende humor wou wees nie. In sy dae as Minister van Justisie spreek hy in Pietermaritzburg ’n besonder oproerige vergadering toe.

In vraetyd spring ’n student op: "Mnr. Vorster, elke keer as ek iets sê, klap iemand my van agter teen die kop en ek is seker daarvan hy is ’n veiligheidspolisieman. Kan u as Minister van Justisie my die versekering gee dat ek nie aangerand sal word die oomblik as ek hier uitstap nie? ”Vorster: 'Jongman, daar is twee blokke hiervandaan ’n polisiekantoor en jy kan dit daar aanmeld as jy aangerand sou word, maar ek kan jou die versekering gee dat jy nie aangerand sal word nie, want jy is nie ’n klap werd nie!'”

 ----------------
Vorster kon in private gesprekke ook besonder skerp wees. Op ’n dag in sy dae as justisieminister het Bram Fischer uit die tronk ontsnap, ’n baard gekweek en as "Mr. Black” in Corlett-rylaan in Illovo weggekruip.

 Sê Vorster toe in ’n vertroulike gesprek aan ons: „As ek daardie Bram Fischer vang, sluit ek hom so diep weg dat hy sy brekfis eers in die aand kry.”

 ----------------
In verkiesingstye het al wat LV was meegeding om die gewildste sprekers in hul kiesafdelings te laat optree. Pik Botha en Hendrik Schoeman was twee van die gesogtes.

Een aand moes Schoeman op Welkom praat en die volgende dag was dit De Aar. Hy besluit toe ná die aandvergadering dat hy sommer gaan deurry De Aar toe. Sy motorbestuurder was al ’n ouerige man wat ’n slag van die pad af in ’n mielieland beland het. Schoeman het toe die stuur oorgeneem.

En hy was ’n haastige man wat geen respek had vir die destydse snelperk van 80 km/h op nasionale paaie nie. Keer ’n verkeerskonstabel hom toe in die omgewing van Kimberley voor en Hendrik dink vinnig: "Meneer, ek vervoer minister Hendrik Schoeman na ’n baie belangrike vergadering. Hy lê nou hier agter en slaap, maar as hy daar wakker word, is die hel los!”

Die verkeersman het doodsbleek geword en sê toe: "Jammer, meneer, ry maar net versigtig en pasop, daar by Britstown is nog ‘n snelstrik.”

----------------
Hierdie is die tweede van drie aflewerings deur Andries Botha, ‘n gewese assistant-redakteur van sowel Die Transvaler as van Die Vaderland, oor politieke humor in die ou bedeling.