Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

10.5.12

Ivanoff-pêrels vir die "swyne"

JAPIE BOSCH vertel: Met die aftrede van Die Vaderland se spotprenttekenaar, Victor Ivanoff, in die vroeë sewentigs was ek jonk, dom en onkundig. Eintlik was die hele redaksie dom. Laat ek liewer sê die algemene redaksie.

My lessenaar was by die deur van die ingang van die algemene kantoor.

Daarop was net ‘n stokou tikmasjien en miskien ‘n koerant of twee. Toe ek dié oggend, gekôller en getaai daar aanland, was die een kant van die lessenaar meer as twee liniale hoog gestapel met ou spotprente.

Chou En-lai, eertydse eerste minister van Rooi China, 
het op ‘n tydstip hard na Afrika se steun gevry.
“Dit het iets met die skoonmakers te make,” het ek gedink. “Daardie Rus gaan nie hiermee gelukkig wees nie, maar dis darem nog hier.”

Voor ek nog tyd gehad het om verder te dink, het nuusredakteur Frans du Toit (of was dit Tom Buys?) die redaksie geroep vir stories uitdeel. Daarna gaan sit en bel jy, neem notas en bel weer, jy word aangejaag en jy tik (sestien reëls op ‘n “seksie” = 4 duim).

Ná deadline het ek Ivanoff raakgeloop en hom vertel wat op my lessenaar is. “Dis my afskeidsgeskenk aan die redaksie, want ek tree af,” het hy met ‘n breë glimlag gesê. “Vertel die ander.”

Ek was hartlik in my dank en het onderneem om die boodskap aan die redaksie oor te dra.

Harold Wilson, eerste minister van Brittanje krap kop ná Ian
Smith van Rhodesië se eensydige onafhanklikheidsverklaringin 1965.
Eers wou ek op my eie aas, maar die storie het gou versprei. Die ander verslaggewers en later die fotograwe het by my lessenaar saamgedrom en deur die prente “geblaai”. Kieskeurig was nie die woord nie. Party het een of twee of miskien drie geneem, ander niks.

Ek raai daar was ‘n stuk of 100 of 150 (miskien meer) spotprente. Daarvan was daar net vyf wat ek wou hê. Kan jy glo! Aan die einde van die dag was daar nog ‘n klomp oor. Selfs die volgende dag ook. Hier en daar het iemand weer kom kyk. Selfs die base het die goed laat lê. (Miskien het hulle hulle eie hoop spotprente gekry.)

Die verkiesingspook besorg die Progressiewe Party se Helen Suzman
en die Verenigde Party se De Villiers Graaff, Jakes Jacobs en Japie
Basson slapelose nagte. Daardie verkiesing was op 30 Maart 1966.
Nog ‘n dag of wat later was als skielik weg. Tot vandag wonder ek daaroor. Pleks dat ék die “oorskot” gevat het. Ek wonder ook of ons Ivanoff nie teleurgestel het hom en hom in die gesig gevat het nie.

Ons het nie die waarde van dié geskenk wat in ons skoot geval het, besef nie. Menige koerantman en versamelaar sal seerseker vandag sy voortande daarvoor gee.

Ek het my vyf laat raam. Vier van hulle pryk hier voor my soos ek tik. Anderdag het my oudste seun een gegaps. Hulle het al baie geselsies met kuiermense opgelewer.


Die Nasionale Party met Hendrik Verwoerd as Eerste Minster stuur
die Verenigde Party en sy leier, sir De Villiers Graaff, met 126 setels
teenoor 39 planketoe in die 1966-verkiesing.
Een van die kenmerke van Ivanoff se spotprente was die hond wat oral by was. Daardie hond kon alles doen. Hy het nie veel gepraat nie, maar sy lyftaal het alles vertel. Hy kon enigiets daamee wys. Met sy ore, sy mond en tande, sy neus en sy pote kon hy amper meer as die spotprent self vertel.

‘n Rukkie voor Ivanoff se vertrek het hy vergeet om sy motorlisensie betyds te betaal. Ek was munisipale verslaggewer en hy het my gevra of ek kan help. Dieselfde dag nog het hy lisensieskyfie gehad sonder dat hy ‘n boete moes betaal.

Ene mnr Wood was die lisensiehoof. Hy was alte danig daaroor om ‘n man met die naam Victor Ivanoff te kon help.

Die volgende oggend het Ivanoff my geroep. In sy kantoor het hy aan my ‘n kleurskets van myself gegee, geteken V. Ivanoff 72 – ‘n kleinnood van ‘n beskeie man met ‘n groot naam en baie talente.

DIT was eintlik die Rand Daily Mail wat Victor Ivanoff omstreeks 1940 uit Wit Rusland na Suid-Afrika "ingevoer" het.

Die eertydse redakteur van Sunday Express en later Sunday Times, Joel Mervis, skryf in sy boek The Fourth Estate:

“Ivanoff found him on Johannesburg station with nobody to meet him. Carrying his bags he trudged from the railway station in search of the Rand Daily Mail building that was about five blocks away.

“Ivanoff spoke very little English, but managed to indicate to passers by that he was seeking a newspaper office.

"Die Vaderland, an afternoon newspaper, also had premises in the area and Ivanoff was mistakenly directed there.

"Die Vaderland did not ask too many questions. They grabbed Ivanoff. He stayed with Die Vaderland until his retirement many years later.”