Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.5.12

Speur’sant V’Riebeeck slaan toe

OP ’n dag maak Gert Swiegers (links), misdaadverslaggewer van Die Transvaler in die laat jare sewentig kontak met die een of ander leier van die Johannesburgse onderwêreld en hulle spreek af om mekaar laterig een aand in Vegkop te ontmoet.

Omdat Gert ’n versigtige man was, vra hy vir Frans Scheepers en Piet Ebersöhn om saam te kuier – soort van as kwasi-lyfwagte, vir wat dit werd is.


Gert en die man van die onderwêreld het goed gekliek en hoe later hoe gemoedeliker het dit daaraan toegegaan. So goed en gemoedelik dat die kêrel in die vroeë oggendure besluit die koerantmanne moet saam om ’n vriend van hom ‘n poets te gaan bak.

Hulle is daar na Berea se koers toe. In die straat voor die deur het ’n stokou en gehawende wynrooi Vauxhall Cresta, gestaan – die model sonder die stertvinne waarvan die vervaardiging in die middel jare sestig gestaak is.

Die joernaliste moes hulle as polisiemanne voordoen wat ’n saak van motordiefstal betreffende die Cresta ondersoek. Te oordeel aan die buurt en die motor kon die manne se sindikaat nie alte suksesvol wees nie, maar dit daar gelaat.

Die „leier” had ‘n sleutel vir die voordeur en die viertal het geluidloos op die slapende slagoffer afgesluip. In die kamer gekom, het Gert hom aan die skouer wakker gepluk, ’n vyfrand-noot voor sy gesig geflits, en kortaf geblaf (soos hulle in die spanningsverhale geskryf het): „Speur’sant V’Riebeeck, John Vorsterplein!” Ja, dis so lank gelede daar was nog vyfrand-note, en tweerand-note en een-randnote. (Toe laasgenoemde kort daara deur ‘n munt vervang is, is gespot dat dit gebeur omdat ‘n noot nie in ‘n parkeermeter werk nie.)

Terug na die storie. Die arme man was so oorbluf en deur die slaap dat hy nie eens Gert se blufspel opgemerk het nie. Hy het net, asof in ’n refleksreaksie, geskerm dat hy onskuldig is en die kar op ’n eerlike manier bekom het …! „Asseblief, meneer, ek is nie ’n skelm nie!” Toe kon die „speurders” hul lag nie meer hou nie.