Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

19.5.12

Koerantglips: Sportmanne word skurke

JAPIE BOSCH vertel van een van die snaakse koerantglipse wat iewers in die middel sewentigerjare voorgekom het toe hy nuusredakteur en John Moody hoofsubredakteur van Die Vaderland was.

Gholfspeler Gary Player en diskusgooier John van Reenen was daardie jaar gesamentlik as Sportman van die Jaar aangewys. Player het weer Suid-Afrika se naam op die gholfbaan hoog gehou en Van Reenen het die wêreldrekord in diskusgooi na 68,48m verbeter.

Daar was ‘n pragfoto van dié twee saam wat met glimlagte hul trofeë ontvang. Die kop by die foto was feitlik vanselfsprekend: “Sportmanne van die Jaar”.

Terwyl John (miskien was dit ‘n ander sub) besig was om dié bladsy op te maak het ‘n dramatiese foto van ‘n skietery in Frankryk oor die landlyn gekom. Dit het gewys hoe twee boewe in die straat doodgeskiet is.

'n Verslaggewer het gou 'n byskrif geskryf en die sub het die opskrif  “Die einde van twee skurke” gemaak.

Die twee foto’s het op dieselfde bladsy verskyn.

Maar by die “steen”, soos ons toe gepraat het, het iets verkeerd geloop. In die “primitiewe” drukproses van toe is die twee opskrifte omgeruil.

Die wêreld word toe vertel dat die oorhandiging van Gary Player (foto: zar.co.za) en John van Reenen se trofeë die einde van twee skurke is en die twee rampokkers in die straat word toe sportmanne van die jaar. Die foto was soortgelyk aan die een regs, maar die polisie se skietgoed en die skurke was meer prominent.

Soorgelyke foto.
Toe ou Arrie (wie sal hom vergeet), die bode, 'n pak van die eerste uitgawe van die drukkery af bring, was Dirk Richard langs my by die nuustafel. Hy was tevrede met die voorblad en John Moody ewe danig oor hoe hy die blad opgemaak het.

John Moody was baie gesteld op die blaaie se voorkoms en die subs se werk. Hy het vinniger deur die koerant as ek of Dirk geblaai en die fout eerste gesien.

John se kragwoorde het al wat ‘n plafon is getref en deur die gebou getrek. Hy is vinniger as die Concord daar weg steen toe. Wat hy dáár gesê het moes die einde van iemand se normale dag, selfs week of maand, gewees het.

Intussen lóóp die rolpers en die bondels koerante word op die lorries gelaai, op pad na die ver plekke -- Pietersburg, Klerksdorp, Witbank, Rustenburg, oos, wes, noord, suid. En op duisende lesers wag daar ‘n lekkerlag blaps en 'n koerantverleentheid.

Vir die tweede uitgawe is die fout reggestel, maar John het selfs die volgende oggend nog stoom afgeblaas. Nodeloos om te sê dat Dirk ook erg opgetrek was.

Later was daar sprake dat Van Reenen wou prosedeer, maar ek dink dit was 'n wolhaarstorie.