Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

24.5.12

August se sirkustruuk uit die Sans Souci beskou

PAUL KRUGER was eens munisipale verslaggewer van Die Vaderland en redakteur van HANEKRAAI, personeelkoerant van die Afrikaanse Pers Beperk (APB). Hy vertel hier hoe August du Preez se sirkusstorie destyds in Hanekraai weergegee is.

Hierdie storie kom daar uit die vroeë sewentigerjare toe Die Vaderland, as die grootste middagkoerant in die land, hoog op die gewildheidskruin gery
het. Dit was, om die minste te sê, ‘n groot voorreg om deel van die beroemde koerant se redaksie te wees.

Gemanipuleerde foto
Die gebeure van August du Preez se storie het ek nie self beleef nie, maar grootliks by die hoofkantoor van koerant (sic), die Sans Souci Hotel, van sy maters gekry. Geen rede om hulle nie te glo nie, hulle was immers almal geloofwaardige koerantmanne! In daardie selfde tyd het die sirkus sy tente daar in Braamfontein opgeslaan en August het as ‘n pasgebore verslaggewer opdrag gekry om ‘n sirkustriek dáár te gaan uithaal.

Hy gaan kuier toe vir die manne daar in beheer. Dié vertel hom toe hy tree voor honderde mense op die openingsdag op. August besluit toe dat die geswaaiery daar bo in die dak van die tent, die sogenaamde trapeze, die ding vir hom is, en so kom hy toe met die sirkusmense ooreen om tydens die middagvertoning die komende Woensdag sy swaai te swaai.

In die dae voor die vertoning, het August se senuwees tot breekpunt gespan. Die Woensdag vroegmiddag sit hy toe af sirkustent toe waar die swaaimense vir hom beduie wat om te doen. Hy gaan net heen en weer swaai en nie enige bollemakiesies uithaal nie.

Hulle sê toe mooi vir August wat om te doen. Hy moet ‘n paar keer swaai en dan die stok los mooi op die punt dat hy terugswaai. Daar is niks om te vrees nie, want die yslike net daar onder sal hom vang. Maar dis baie belangrik dat hy die stok los met sy rug na die net. So val mens sonder probleme.

In afwagting vir sy triek om aangekondig word, het August so ietwat aan die bewe gegaan en sy maters wat saamgegaan het vir ondersteuning, besluit toe op ‘n versterkwatertjie – net vir ingeval. Hy het homself in ‘n sweetpak geklee vir die gebeurtenis. Uiteindelik kom August se beurt en hy klouter daar met die tousteppies boontoe tot op die platform. Hieronder bulder die aankondiger aan die skare wat nou aan die gebeur is, die eerst keer in die sirkus se geskiedenis dat ‘n volslae amateur daar bo gaan swaai, en dit sonder dat daar eers geoefen is.


Die swaai-arties hou toe die swaai vir August gereed, die tromme begin rammel en daar trek August. Hy swaai en swaai en toe op ‘n kol kom die oomblik dat hy nou moet los en val. Daar in die lug begin hy bietjie te vergeet oor wanneer hy moet los, waarskynlik het die versterkwatertjie ook iets hiermee te doene gehad. Toe besluit hy dat die terugvallery in elk geval nie vir hom reg klink nie, ‘n mens moet mos sien waarheen hy val. En met die los hy die swaaistok op die punt toe sy gesigkant grond toe wys. Net mooi wat die instruksie gesê het hy nie moet doen nie.

Hier moet ek eers verduidelik dat die net so half met ‘n boog hang, die entkante hoër as in die middel. Toe val August mooi bo-op die net se skuinste, maar voordat die net hom vorentoe skiet, skuif hy so in die momentum voorwaarts en die nettoue stroop sy sweetpakbroek wat net met ‘n rek bo gehou is, van sy lyf af en onbloot August se spierwitboude, kroonjuwele en als. Met die volgende proses, in die momentum, skiet August voorwaarts, en terwyl hy so deur die lug trek, haal hy ‘n triek uit wat die sirkusmense hom nie sal kan nadoen nie. So in die lug, gryp hy sy broek en trek dit op. Toe hy weer op die net val, is hy weer ten volle geklee. Uiteindelik swaai hy van die net af tot op die grond onder ‘n merske gejuig van die skare.

Dit was egter nie die uiteinde van die storie nie. Toe hy buite kom, skink sy maters ‘n yslike oorwinningsdop vir August, maar hulle sien hy is erg ongemaklik, loop nie lekker nie, en so. Toe maak hulle kringetjie en August trek sy broek af, en mense, wat ‘n gesig. Daai toue van die net is mos growwe goed, en met die skuifslag toe hy op die net val en sy broek verloor, het die toue sy kroonjuwele mooi netjies bygekom en die velle aan die bokant die volle lengte van Jakop Regop afgeskraap!

Dit was donners seer! August het vir lank nie baie mooi kon loop nie en van meisies was daar ongelukkig vir ‘n geruime tyd geen sprake nie.
  • August het voorgaande weergawe bevestig.