Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

21.5.12

Die lotgevalle van bladsy 9

PIET EBERSÖHN skryf:DAAR was ‘n tydstip in die laat jare sewentig in Doornfontein dat Die Vaderland (‘n middagblad) bitter vroeg al begin sak het. Só vroeg dat hulle eerste skof al ingeval het nog voor Die Transvaler (‘n oggendkoerant) se laatskof hul nagkantoor ontruim het.

Een nag, hier skuins na middernag, kom die berig dat DV se vroeë skof in ‘n opgeruimde bui is en die DT se mense welkom is om aan te sluit as
laasgenoemde se finale uitgawe af is. Nou ja, ons was mos nog nooit gekant teen ‘n plesierigheidjie nie, en toe DV se vroeë skof hul oë uitvee het hulle etlike gaste. En laat ons dit nou maar so stel: Toe DT se laatskof daar aankom, was DV se vroeë skof sommer al lekker warm. Tafeldansery en al.

Een van die stories wat nog versorg moes word, was ‘n (ek wil al sê diepte-ondersoek, maar dit kan verkeerd vertolk word; indringende sal ook nie deug nie) deeglike ondersoek wat misdaadverslaggewer Rynier Abrahams na die “werksaamhede” van die omgewing se straatvroue geskryf het, foto’s en al.

Dis toe dat hoofsub, wyle Ferdi Hand, Rynier se stapeltjie harde werk opfrommel en op die vloer neersmyt. “Bladsy 9 is af!” het hy geskater.

Ferdi Hand
Die arme Reynier was erg onthuts. Toe bied ek maar aan om, as my goeie daad vir die dag, gou die bladsy op te maak – en sien nou nog die verligting op Rynier se gesig.

Ook maar onnutsig, gebruik ek toe sommer die geleentheid om ‘n paar vryhede te pleeg, wat DT nooit so gedoog nie.

Reg oor die bladsy was ‘n omkeerblok wat min of meer die woorde  
Vaderland-soeklig op meisies van die nag  uitgebasuin het. By ‘n foto van ‘n polisieman met ‘n op en wakker herdershond was die opskrif “Die ene ore”. (Onthou julle nog daar is destyds algemeen na die polisie as “ore” verwys.)

Die volgende dag laat weet Rynier: Dirk Richard het hom ingeroep om met die artikel geluk te wens – ook met die mooi opgemaakte bladsy!