Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.8.14

Doodluiters beland Hanlie in Oostenryk

KARIN PRETORIUS skryf: Tant Bybie Hyman Van Rooi Rose se opdrag aan my was baie duidelik: jy kom nie terug van Oostenryk sonder die onderhoud met Hanlie Swanepoel in Wene nie.

Hanlie het die baie gewilde rubriek ‘Doodluiters’ in Rooi Rose behartig – ‘n rubriek wat nog deur die redakteur van destyds, wyle Marthie Snyman, aan haar gebied is en wat op 14 Julie 1971 sy eerste publikasie gesien het.

21.8.14

Prinse en boere voor Herman se lens

KARIN PRETORIUS skryf: Tydens die bosoorlog in die ou Rhodesië was ek bevoorreg om in September 1979 as die enigste genooide joernalis die huwelik van min PK van der Byl met prinses Charlotte von Liechtenstein in hul familiekasteel in Waldstein, 25km suid van Graz in Oostenryk, by te woon.

Mnr Van der Byl was toe die minister van vervoer, krag en poswese in die nuwe kabinet van Zimbabwe-Rhodesië en 'n gebore Kapenaar.

6.8.14

Oor knorpotte en gesteelde toebroodjies

GERT COETZEE skryf: Oom Mike van Niekerk bel my op ’n aand toe ek die Ooste vir Die Transvaler beman; ek moet die een of ander storie dringend gaan doen, foto’s neem en dit so gou doenlik deurstuur vir die volgende oggend se uitgawe.

Ek vertel vir Oom Mike my Skottie, McDonald, is siek en ek moet hom dadelik veearts toe vat. Oom Mike sê hy is jammer om dit te hoor, hy het nie mense om die storie te doen nie en as ek dit nie doen nie, ek my toekoms by die koerant gerus maar die volgende dag met Die Pous moet bespreek.

1.8.14

Boom slinger oor Dirk se pad

DIRK BENADÉ skryf: Destyds, ná n goeie dag weddenskapsgewys by die perderenbaan en 'n vreemde klein wit pilletjie op die verkeerde tyd gesluk om my gestel te laat herstel, is ek op pad terug kantoor toe met Perskor se Volkswagen Passat.

Die uitwerking van die wit pilletjie was toe om my onverwags en agter die stuur van die Passat aan die slaap te sus. Net toe ek aan die slaap raak, het 'n yslike groot boom voor my oor die pad gestap met gewelddadige gevolge.

30.7.14

Woonstelmaats na 40 jaar weer bymekaar


GERT VAN ROOYEN skryf: Ná byna vier dekades is die drie woonstelmaats weer verenig! Ja, dit was voorwaar ʼn reünie in die kleine toe Joe van Buuren (links), Alwyn Strydom (regs) en Gert van Rooyen mekaar by die Perskor-reünie op 31 Maart raakloop. Dit was in die middel jare sewentig toe dié drie besluit het om ʼn woonstel in Bordeaux, Randburg, te betrek. Die woonstelblok was reg langs die Braamfonteinspruit, waar die laaste episodes van die befaamde Transvaler-produksies se Don Spaghetti- en Don Ravioli-film geskiet is, en die drie was natuurlik ook karakters in die film! Later het Danie Malan (wat toe net van Australië af teruggekeer het) ingetrek en mettertyd nog een of twee ander mense so deur die loop van die jaar! Maar, dit was lekker ou dae en aande, waar tequilas met suurlemoen en sout weggesluk is en ‘n hele paar samekomste (tot die ergenis van die ander inwoners) naby Dittonlaan 10, Aucklandpark gehou is.

25.7.14

Moordlyste en dodelike draaie

FRIKKIE VAN DER WALT skryf: Ek het Le Roux Terblanche in Die Vaderland se gange leer ken toe hy lesers onder die skuilnaam Karwats oor die land se vinnigste perde ingelig het. Volgens Essie se skrywe het hy Le Roux se donker kant by The Citizen leer ken toe hy op sy moordlys beland en 'n vriendskap onherstelbaar verbrokkel het.

Jare gelede het ek by Die Vaderland 'n geleentheid gekry om my platsaksalaris as motorredakteur met gratis motorritte aan te vul. Ek kon tussen verskillende modelle kies en het elke week 'n motor met 'n vol tenk petrol kry om te toets.

21.7.14

Italiaanse Tshipise fnuik die sentrale

HANS LOMBARD skryf: In April 1974 was ‘n groep van ons op pad na Salisbury (Harare). Ons besluit om ‘n aand op Tshipise, iewers tussen Louis Trichardt en Messina, in Noord-Transvaal, oor te bly. Uit verskeie oorde het ons verneem dat dit so ‘n wonderlike uitspanplek is.

Om 13:30 op ‘n Saterdag bel ek die sentrale van my woonstel af in Johannesburg en bespreek die oproep na Tshipise nommer 4 om plek te bespreek. Die meisie by die sentrale vra hoe dit gespel word.

16.7.14

Bang prokureurs sorg vir lekker naweek in die buiteland

PIET ROOS skryf: Rondom 1976 kom ek die storie te hore dat Suid-Afrikaanse prokureurs gaan registreer in Lesotho. Dit het hulle outomaties toelating gegee in die Statebond en kon hulle sodoende maklik landuit en in Engeland of Australië gaan werk.

Ek vertel dit vir die nuusredakteur en hy sê nou hoe gaan jy die storie kry?

Ek sê ek kan dit nie kry nie, maar my vriend, 'n prokureur, sal saam gaan en hy ken die wette en hy sal die storie kan losmaak.

14.7.14

Möller Dippenaar oorlede

Möller Dippenaar, voormalige politieke korrespondent van Hoofstad, is Woensdag, 2 Julie 2014, aan ‘n hartaanval in die Eugene Marais-hospitaal, Pretoria oorlede. Hy was 72.

Die begrafnis was verlede week.

Möller wat gesond- en fiksheidbewus was, laat sy vrou, Christine, en twee dogters agter.

4.7.14

Niks is vir altyd nie

Ons verskyn nog, net nie meer elke dag nie.

Daar is net soveel gewese oud-Perskor-kollegas (wat ongelukkig elke jaar ook nog al hoe minder word) en net soveel stories wat ons uit ons vaer wordende geheues kan loskrap.

Dit beteken dat K'rant uiteindelik nie meer stories sal kry om te publiseer nie want die stories en die skrywers van die stories het opgeraak. (Hopelik hou die skrywers die langste!)

Alles het 'n begin en 'n einde. K'rant het bietjie meer as twee jaar gelede begin en vir die grootste deel van hierdie tyd elke werksdag van die week 'n vars storie gepubliseer. Ons het besef dat dit nie volhoubaar is nie.

Ons statistiek wys reeds dat die bydrae-tempo begin afneem en ons het begrip daarvoor.  

Die hartseer gevolg daarvan is dat K'rant voortaan nie meer elke dag met 'n vars storie vorendag sal kan kom nie want daar is eenvoudig nie meer vyf nuwe stories wat elke week inkom nie.

Ons wil sterk aanbeveel dat enige leser wat graag wil weet wanneer K'rant 'n vars storie het, moet inteken om van die storie kennis te kry. Die alternatief is om elke dag by K'rant in te loer en self te kyk.

Hierdie aankondiging is nie die einde van K'rant nie, maar wel die einde van K'rant soos dit die afgelope byna twee jaar daagliks met vars stories die lig gesien het. 

Vir enige oudkollega wat lus voel om met ons enige van jou werksherinneringe by Perskor te deel, stuur vir ons jou storie!

Om vorentoe van vars stories kennis te kry, moet jy net op K'rant inteken deur jou epos-adres te voorsien in blokkie met die opskrif "Teken in op K'rant" regs bo.

3.7.14

My NP-plakker op ‘n SAP-tante se motor

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Ek was as koerantman ‘n vurige Nasionale Party-man en het met groot passie en opgewondenheid deel gevorm van die verslagspan wat in die ou dae verkiesings gedek het in en om Port Elizabeth. Toe was dit Sap teen Nat.

Die optelsommetjie van die destydse politiek was dikwels: Sap + Nat = BLOED. Halwe(hartige) houe slaan was nie op die spyskaart nie.

2.7.14

Mammie tik beampte terwyl Karin swem

KARIN PRETORIUS skryf: Wat was pa en ma nie trots op hul 13-jarige langbeenmeisiekind wat die skole-byeenkoms in Durban vir 55-treemeisiesvryslag 0-14 gewen het nie en daarmee in 1958 haar junior Noord-Transvaal-kleure vir swem verwerf het! Die pragtige donkerblou sakwapen met die rooi disablommetjie was tog almal se trots.

Maar, die Oos-Transvaalse beampte wat voor ma op die paviljoen in die bloedige Durban-son gesit het, het nie dieselfde sentiment gedeel nie.

1.7.14

Lita leer van dissipline by Transvaler

LITA KOTZÉ vertel hoe haar pad in die joernalistiek gekronkel het: Met ‘n onvoltooide onderwysgraad het ek in 1981 in die joernalistiek beland. Ek het ná universiteit by my ouers op Randfontein gewoon en werk gesoek.

Op ‘n dag loop ek in die hoofstraat, sien die bordjie van die Randfontein Herald, steek my kop by die deur in en vra vir die ontvangsdame of hulle nie werk het nie.

30.6.14

Geisja-danseres maak amok op NG Kerkraad

HANS LOMBARD skryf: Ná my besoek aan Japan in 1959 het ek ‘n boek geskryf oor my ervarings, “Straalvlug na die Ooste.” Dit is deur Nasionale Pers uitgegee.

‘n Resensie van die boek deur Frans Esterhuysen het op 6 Januarie 1962 in die Evening Post, ‘n koerant in Port Elizabeth, verskyn onder die opskrif: “Afrikaner liked Japan and its women.” (Leef Frans Esterhuysen nog? Ek het hom nooit ontmoet nie - Hans.)

27.6.14

Die Valiant kom terug

FRIKKIE VAN DER WALT skryf: Perskor het só baie publikasies gehad dat die manne in die fabriek groot geld met oortydwerk verdien het. Die meeste van hulle het soggens ingeklok en laat saans huis toe gegaan. Een van die baie voormanne, Rudie Mioch, het een aand gespog dat hy teen Woensdag reeds sy weeklikse kwota ure gevul het en op Donderdag soos hy dit gestel het op tyd en ‘n half gegaan het. As hy dan nog naweke gewerk het, was dit volgens hom dubbeltyd.

26.6.14

Om die storie te veroorsaak

PHILIP DEETLEFS skryf: Die Goudstadse Onderwyskollege was in die jare sewentig net om die draai van Perskor in Auckland Park en baie naby Brixton. Die polisie se blitspatrollie-eenheid met brigadier Theuns Swanepoel (die Rooi Rus) aan die roer van sake was ook in Brixton.

Ek weet nie of Buks Pietersen of (klein) Dana Niehaus hierdie storie nog kan (of wil) onthou nie, maar destyds toe ek misdaadverslaggewer by Die Transvaler was, was Buks misdaadverslaggewer by Rapport.

25.6.14

Geskiedkundige Persfoto’s opgediep

SOMARIE GREY, dogter van Perskor se oprigter, Marius Jooste, het ‘n versameling kosbare geskiedkundige foto’s uit die verlede van Die Afrikaanse Pers Beperk (APB), Die APB (1962) en Perskor tot K’rant se beskikking gestel. Ons spring weg met twee foto’s wat die geboorte van die Pretoriase middagblad Hoofstad herdenk en ‘n ietsie oor die stigting van die blad.

Goudstad en Hoofstad vat mekaar se hande

24.6.14

APB-man is een van wêreld se beste filmgrimeerders

JAPIE BOSCH skryf (byna 44 jaar gelede): Die APB het nou maar eenmaal baie talent in sy midde. Op die derde verdieping in Aucklandpark werk mnr John Dercksen, 'n proefleser, wat nie net as die beste grimeerdeskundige in Suid-Afrika geag word nie, maar as een van die bestes ter wêreld.

Uit: November 1970
En dis nie sommer net praatjies nie. Kort gelede het mnr Dercksen 'n tydskrif, Der Filmwelt, uit Duitsland ontvang waarin hierdie stelling gemaak word. Behalwe hierdie puik getuigskrif, het hy ook net ná die voltooiing van Die Kandidaat, 'n spesiale toekenning van die SA Vereniging van Rolprentverspreiders ontvang wat hom aanprys as die beste grimeerder in Suider-Afrika.

23.6.14

Prof Chris wag met breë glimlag vir sy storie!

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Vroeg in 1982 moes ek as landboujoernalis ‘n artikel gaan skryf oor oorle prof Chris Barnard, meer beroemd vir sy hart-pionierswerk, maar toe skielik ook stoetboer met Simmentaler-beeste.

“Hy’t ‘n plaas gekoop daar naby Sedgefield in die Suid-Kaap en het groot planne met ‘n Simmentaler-stoetery. Gaan kry die storie vir ons,” kom die opdrag van die redakteur uit die Kaap.

20.6.14

Pannekoek en piesangs prikkel die lagspiere

KARIN PRETORIUS skryf: Na aanleiding van die Ope Vraag oor snaakse onderhoude het ek twee baie snaakse ervaringe gehad wat my nou byval. Eerste 'n onderhoud met Tobie Cronjé wat op 26 April 1978 in Rooi Rose verskyn het.

Die reën het neergesif op Pretoria se blink teerpaaie en ek was op pad na Tobie Cronjé vir ’n onderhoud vir Rooi Rose. Wat nuut kon ek oor die bekroonde akteur skryf wat nog nie gesê is nie en watter invalshoek kon ek gebruik, het ek gewonder?

19.6.14

Viool besorg Jacoby werk met die kwas

PIET EBERSOHN skryf: Victor Ivanoff is nie die enigste spotprenttekenaar wat op onkonvenionele wyse by Perskor se voorgangers werk gekry het nie. (Lees “Ivanoff-pêrels vir die 'swyne'.”

Dagbreek se besturende direkteur, mnr Marius Jooste, het die Hongaars-gebore George Jacoby in Rome raakgeloop toe hy en kollegas Willem Schoombee en Otto Schwellnus op ‘n sakebesoek daar was. Jacoby, met sy viool, en ‘n kitaarspeler het eters in ‘n restaurant met hul musiek vergas, en soms ook by die tafels vir hulle gespeel.

18.6.14

Die vetste hond in Indië

HANS LOMBARD skryf: K´rant vra: “Wat is die snaaksste ervaring wat jy in jou koerantloopbaan ervaar het?” My storie hier onder is eintlik 'n lag met 'n traan.

“No dogs and South Africans allowed.” Dit is die kennisgewing wat my in die gesig staar op die lughawe van Kalkutta in Indië.

17.6.14

Kunsredakteur nael 100 tree in 10.2s

Hooffoto:  Thijs Nel, die atleet, in 1958.
Inlas:  Thijs Nel, die kunstenaar, in 2014.
Gerhard Burger het verlede week onder meer vertel dat Thijs Nel, oudkunsredakteur van Die Vaderland, ‘n knap atleet was. Op versoek het Thijs in sy fotoalbums gaan soek en dié foto wat uit 1958 dateer, gekry. Dit het destyds die Noord-Transvaler se sportblad gehaal. “Ek was 13 jaar oud en het die 100 tree in 10,2 sekondes op daardie dag afgelê. Thijs was ook ‘n goeie 220 tree-, 440 tree- en verspringatleet. “Ook ‘n kranige swemmer maar toentertyd was daar nie skoolgalas nie,” vertel hy. “Dit voel soos 'n 100 jaar gelede.”

(K’rant sal graag foto’s van oudkollegas se sportprestasies wil ontvang. – Red.)

Ope Vraag 10: Is die media eerliker vandag of net nie skaam nie?

PHILIP DEETLEFS skryf: Piet Ebersöhn noem nou die dag dat die taalgebruik (en die gebruik van ons taal?) in die hedendaagse media veel te wense laat.

Die jong mense van vandag gebruik allerhande snaakse afkortings om vinnig iets vir 'n maat met sy foon te vertel. Koerante en tydskrifte gebruik nie meer regtig slangetjie- en krulletjie-karakters en die destydse Scope-sterretjies om growwe taal en kaalfoto's te verbloem nie.

13.6.14

Die misterie van etaoin shrdlu

SCHALK SWANEPOEL skryf: Wat my, as oud-Linotype-operateur by Perskor betref, is die Linotype-masjien ongetwyfeld die ingewikkeldste masjien waarmee ek te doen gehad het in my loopbaan in die koerantbedryf.

Dié wispelturige monster van ’n tikmasjien – uitgevind deur die Duitse horlosiemaker, Ottmar Mergenthaler en deur Thomas Edison beskryf as “die agste wonder van die wêreld” – kon ewe eens jou vriend of jou vyand gewees het.

12.6.14

Bekendes en beroemdes het saam met ons gewerk

GERHARD BURGER skryf: Ja, dit was nogal ʼn ding; die slag toe ek en JR Ewing mekaar in Londen raakgeloop het. Die Engelse het hom Larry Hagman genoem, maar ek het sommer van ou JR gepraat - dis mos hoe ons hom geken het.

Eintlik het ons mekaar nie werklik raakgeloop en gegroet nie. Hy het toevallig in ʼn swart motor voor ʼn hotel stilgehou toe ek verbystap. Lekker hardegat ook. Hy’t nie eens teruggewaai nie. Hy en sy vrou, wat ʼn mens nie juis as mooi kan uitskel nie.

11.6.14

Jasper beskryf joernalis-wees meesterlik!

Nog 'n reaksie op Jasper Schellingerhout se storie oor Die chemie van joernalistiek.

LITA KOTZE skryf: Ek wil graag hoor oor of Jasper Schellingerhout se bydrae in K’rant oor die chemie van joernalistiek spesiaal en vars vir K’rant geskryf is, of het K'rant dit opgediep uit ou argiewe? (Jasper het dit eksklusief en kraakvars vir K´rant geskryf - Red.)

Ek moet weet want ek is besig om dit die wêreld vol te stuur (danksy Japie Bosch, die joernaalmeester, se koevertjie onder links) aan vriende, familie en kollegas.

10.6.14

Dis mos lekkerte op lekkerte

Jasper Schellingerhout se storie Vrydag in K'rant oor wat hy noem die chemie van die joernalistiek, het 'n baie sagte plekkie in al wat koerantmens is, se harte getref. Ons plaas vandag en more die (chemiese) reaksie wat ons ontvang het.

PIET EBERSÖHN skryf: Wat ‘n lekkerte is dit nie om K’rant soggens te lees sonder enige verantwoordelikheid om dit “op straat” te kry nie. Volpunte aan die redaksie en die bydraers. Bespeur ek ‘n verdieping in die bydraes of verbeel ek my?

Drie stories het my nogal die afgelope paar dae getref. Schalk Swanepoel oor die brand by Hoofstad; Estelle de Bruyn oor die moderne joernalis; en Jasper Schellingerhout oor die chemie van die joernalistiek.

9.6.14

Gerhard praat met 'n wêreldrekordhouer

Daardie baadjie met die fênsie lapelle was al so vier of vyf jaar uit die mode toe Gerhard Burger ‘n onderhoud met Sydney Maree gevoer het. Hulle het in Rosebank, Johannesburg, gesels gedurende die jare toe Maree een van die beste middelafstand-atlete ter wêreld en Gerhard ‘n sportredakteur by Die Vaderland was.

Maree, wat op Cullinan gebore is, het in 1983 die wêreldrekord oortref toe hy die 1500-meter in 3 minute 31,24 sekondes gehardloop het. Hy het die afstand later in 3:29,77 afgelê – ‘n Amerikaanse rekord wat van 1985 tot 2005 gestaan het. (Video HIER.) Hy het die myl in 3:48,83 gehardloop, die eerste Fith Avenue Mile in New York  in 3:47,52 gewen, die VSA in 1987 by die wêreldkampioenskap verteenwoordig en ook as veldloper uitgeblink. Oor die tronkstraf wat hy ná sy terugkeer na Suid-Afrika uitgedien het, sê Gerhard: “Kom ons los dit eerder. Hy was ‘n ongelooflike atleet op wie ons baie trots behoort te wees.” (Foto en byskrif ingestuur deur Gerhard Burger.) 
 

6.6.14

Die chemie van joernalistiek


JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Jy kry ‘n tinteling in jou binnewerke – amper ‘n soort chemiese reaksie op ‘n plek wat jy nie eintlik weet waar dit in jou gestel lê nie – as jy iets hoor wat jy meen ander vir seker sal wil lees of wraggies móét weet.

En as jy die vermoë van visualisering in jou denke het, dan ‘sien’ jy voortydig al die storie en die opskrif (dalk op bl 1?). As ek darem die ou kan wees wat die storie breek! dink jy so ewe. ‘n Scoop verdriedubbel die adrenalien aan dié gedagte.

5.6.14

Waar is die dae?

ESTELLE DE BRUYN skryf: Waar is die dae waar daar skelm en soms nie eens so skelm nie op kantoor gedrink is, ‘n asbak op byna elke lessenaar gestaan het, snippermandjies tot oorlopens toe vol was en ‘n sub nie gehuiwer het om bulderend en vloekend oor die vloer ‘n jong joernalis in te lig wat hy van sy/haar taalgebruik dink nie.

Waar is die dae dat jong joernaliste die vrees van die dood vir die nuusredakteur gehad nie en “come hell or high water” jy nie sonder ‘n storie-idee by ‘n dagboekvergadering opgedaag het nie.

4.6.14

Berig roep ou herinneringe op

SOMARIE GREY, emeritus-professor en ondervoorsitter van die Dagbreektrust, skryf: Ek sien onlangs (31 Maart 2014) die berig in K'rant oor die gruwelike motorongeluk waarin my ouers (Marius en Margeurite Jooste) en die motorbestuurder in Oktober 1973 betrokke was en hulle genadig almal dit oorleef het. Ek was daardie tyd in Boston (VSA) en het eers daarvan te hore gekom toe alles verby was. Sowel my suster Elize as broer Klasie onthou die voorval goed en het die detail aan my deurgestuur.

3.6.14

Hermie Hendriks beseer

Hermie Hendriks
HANS LOMBARD skryf: Hermie Hendriks wat in die aftree-oord, Huis Hoëveld in Johannesburg woon, het ‘n ruk gelede in sy eenheid geval. Hy is met ‘n ambulans na die Flora Kliniek geneem waar gevind is hy het sy heup gebreek en hy moes ‘n operasie ondergaan. Ek het hom daar gaan besoek en hy het baie mooi aangesterk. Hy is nou ontslaan en opgeneem in die siekeboeg van Huis Hoëveld waar hy besig is om te herstel.

Hier's Ona!

Iemand het onlangs gevra wat van Ona Viljoen geword  het. Wel, sy bevind haar steeds in die Baai,waar sy na jare by die  Wolraad afgetree het, met seker 'n paar duisend radio-verslae van die  wolveilings agter haar naam. Maar sy bly bedrywig. Sy behartig steeds  die Wolraad se elektroniese nuusbrief en het onlangs haar kennis en  kontakte aangewend om Gerhard Burger se kleinkinders uit Australië te  gaan wys hoe die wol in Port Elizabeth gesorteer word. Soos almal kan  sien, dra Ona haar jare veel beter as Gerhard. (Foto en byskrif ontvang van Gerhard Burger. -- Red.

2.6.14

Die dag toe Hoofstad vlamgevat het!

SCHALK SWANEPOEL skryf: Dit was redelik onlangs dat ek K’rant op die internet ontdek het – ’n ontdekking wat my gedagtes meer as 40 jaar teruggevoer het na die begindae van Hoofstad en Oggendblad.

Laat my begin deur te sê my verbintenis met Hoofstad en later Oggendblad spruit nie uit die redaksionele sy van hierdie twee publikasies nie, maar wel uit die tegniese kant. Ná my vakleerlingskap by die Pretoria News in die jare sestig – aanvanklik as handlettersetter en later as Linotype-operateur – het ek my in 1970 by Hoofstad as Linotype-operateur aangesluit.

30.5.14

Leeu brul ons by die paal op

PHILIP DEETLEFS skryf: In die jare 70 toe André de Bruyn by Die Vaderland was en ek by Die Transvaler, het ons in 'n stadium albei veldmotorfietse gehad en Sondagoggende graag vir die pret in die veldpaadjies rondom Johannesburg gaan rondry.

Een Sondag het ons saam met Digby Wesson, skakelman van Honda, in 'n westelike rigting in die voetpaadjies gery toe André se agterwiel skielik pap geword het. Ons blitsige oppomp-goed werk nie op die skeur in sy band nie en rondom ons kan ons net veld sien – niks huise nie.

29.5.14

‘n Ligte teleksmistykie op ‘n Sondagaand

ARRIE DE BEER skryf: Ek het inderdaad soos die redakteur K’rant se lesers aanbeveel het in my brein gaan rondkrap, maar om die een of ander rede onthou ek nie juis ‘n groot boel regtig snaakse stories in my dae by Die Transvaler nie – dalk omdat ek te kort daar was, of te lank alleen aan die Wes-Rand en later vir promosiewerk rondgery het.

Dit hang natuurlik ook nou af met wat ‘n mens as snaaks beskou. WAT sê die woord kan ‘n hele paar betekenisse hê: Om jou snaaks te hou (gemeen, katterig), ook om iets eienaardigs gade te slaan, of dan ook grappig, koddig of klugtig.

28.5.14

Daar's iets in Durban se drinkwater

PIETER KRUGER skryf: In Maart 1982 het Ali Bacher, Martin Locke en Peter Cooke die Engelse rebelletoer met Graham Gooch as kaptein gereël. Ons krieketskrywers is heeltemal onkant betrap, want die toer is in groot geheimhouding gereël.

Net ‘n paar krieketskrywers (ekke van die Vaderland, Hennie Brandt van Beeld, Jan van der Merwe van Die Transvaler, Rodney Hartman van The Rand Daily Mail en John Kennedy van The Star) het verslag oor die toer vir die dagkoerante gedoen.

Ons is inderhaas Durban toe vir die eerste wedstryd en het in die kraaknuwe, superluukse suites in die
Royal-hotel gebly, wat pas sy deure geopen het.

27.5.14

Wie is Schalk Swanepoel?

SCHALK SWANEPOEL het laat weet dat hy onlangs K´rant ontdek het en vir ons sommer met die intrapslag 'n goeie storie geskryf. Baie dankie, Schalk! Om homself aan ons voor te stel het hy vir ons 'n bietjie van sy Perskor-agtergrond gegee want baie van ons sal hom dalk nie onthou nie of het hom nooit geken nie. - Red.

Schalk skryf: Daar is nog heelwat staaltjies wat ek uit daardie dae kan onthou, wat ek hoop om met K’rant se lesers te deel. Soos genoem, hou die staaltjies verband met voorvalle wat aan die tegniese kant van Hoofstad en Oggendblad plaasgevind het, eerder as aan die redaksionele kant.

26.5.14

Fotodag 30: Vinnige vingers en 'n joolprinses

Dié dollas kón 'n tikmasjien warm maak.  Dis Die Vaderland se sekretaresses van 1970's. 
Van links af is Jorina van der Lelie, Susan Axel en Julia Kotze. Regs voor is Corrie Perkins.
Verteenwoordigers in 'n buitekantoor was, het hul stories daagliks na hulle 
deurgebel.  So ook verslaggewers wat op 'n toneel was en hul berigte knap voor spertyd
op die  nuusredakteur se tafel moes kry.  As verslaggewers vasgebrand het met 'n woord of 
om 'n sin te voltooi, het hulle dikwels gehelp.
Regs is ‘n baie jong Elma Potgieter wat as een van Tukkies se joolprinsesse gekies is. 
Toe ek hierdie foto in 1965 geneem het, het ek nie gedink dat ek vyf jaar later 
saam met haar in die vroueredaksie van Die Tranvaler sou werk nie!  
Elma het later 'n aktrise geword. -- Foto en byskrif gestuur deur Karin Pretorius.

23.5.14

Monument wat tart

PIET EBERSöHN skryf: Maurice Pieterse se storie gister laat my sommer weer met ‘n rooi gesig van lank gelede.

Nadat ek in 1979 by Die Transvaler weg is, is ek na ‘n maatskappy wat die destydse Suid-Afrikaanse Landbou-unie se Die Boer/The Farmer en ‘n groot aantal tydskrifte vir landboukoöperasies uitgegee het. Die SALU-blad was my verantwoordelikheid, maar ek moes soms ook vir ‘n kollega by een van die koöperasieblaaie instaan.

22.5.14

Ope Vraag 9 - Laat die verbeelding loop!

Elkeen van ons kan seker dink wat die heel grootste, lekkerste en mees
opspraakwekkende storie is wat jy graag sou wou/sal wil skryf? Vertel ons daarvan.

PHILIP DEETLEFS druk voor in: As ek my verbeelding die loop laat vat, dink ek die storie wat ek die graagste sou wou skryf is as daar lewende wesens van die buitenste ruim toevallig voor my iewers in die Namib vir die eerste keer op planeet aarde sou kom land.

21.5.14

Kuier in guerillakamp lewer wêreldscoop

KARIN PRETORIUS skryf: Op 12 Februarie 1981 is die Entumbane militêre kamp naby Bulawayo in ‘n slagveld omskep toe Zipra- en Zanlamagte van Joshua Nkomo en Robert Mugabe onderskeidelik slaags geraak het.

Dertien pantservoertuie en Russiese troepedraers van Zipra se militêre basis aan die Gwaairivier (ook Gwayi-rivier -- Red.) in die

20.5.14

Murphy’s Law tref my dubbel en dwars

HANS LOMBARD skryf: Murpy’s Law, wie hy ook al was, verskyn in geen woordeboek nie. Dié spreuke word algemeen aanvaar as iets moet verkeerd gaan, gaan alles tegelykertyd verkeerd. So is ek op ‘n dag deur Murphy’s Law moedeloos, in die grootste verleentheid, wat alle professionele, dissiplinêre vereistes aan flarde laat spat het, getref.

‘n Vooraanstaande Duitse maatskappy, wat onder meer

19.5.14

Fotodag 29: 'n Partytjie vir die redaksies

MNR HENRI LAURIE, ons adjunk-besturende direkteur, het onlangs (1974 –Red.) 'n onthaal vir redaksielede by sy huis gereël om dankie te sê vir die spanpogings wat daartoe gelei het dat daar ‘n styging in die sirkulasiesyfers van veral Die Vaderland en Die Transvaler was.

Hieronder is 'n paar foto’s wat tydens die geselligheid geneem is.

Laat weet van jou

Het jy al 'n oudkollega van Perskor van K'RANT vertel? Het jy hom/haar vertel om op K'rant in te teken? Regs bo.

Skryf vir ons 'n storie oor jou koerantdae van toeka. Moenie van foto's vergeet nie.  
Reageer op 'n storie met 'n brief.  Stuur 'n wenk.

16.5.14

Spesiale plek in die hel vir koerantmanne

PIETER ROOS skryf: Met die inwyding van die nuwe Bybelhuis van die Bybelgenootskap was ek daar. Die gebou is in Kemptonpark en is die streekhoofkantoor van die genootskap.

Dit was in die laat 1970's en dr Koot Vorster was die Moderator van die NG Kerk. Hy was die broer van onse premier/president John Vorster. Dr Koot het die amptelike inwyding waargeneem.

15.5.14

Vaderland-babas maak oom Apie lam

SUZELLE FOURIE skryf: Ek sien julle ouens voer ‘n stryd om K‘rant se wiele aan die rol te hou. Dit verstaan ek goed. Dis mos maar soos enige koerant ook is: ‘n onversadigbare monster wat jy moet bly voer!

In die lig hiervan werp ek ‘n stuiwertjie in die armbeurs en hoop dis van nut. Gelees in die politieke gees van 2014 is die storietjie helaas so onkorrek (of is dit nou inkorrek?) as kan kom, maar dis vir julle ouens