
Dié wispelturige monster van ’n tikmasjien – uitgevind deur die Duitse horlosiemaker, Ottmar Mergenthaler en deur Thomas Edison beskryf as “die agste wonder van die wêreld” – kon ewe eens jou vriend of jou vyand gewees het.

Vanweë die ingewikkelde werking van die Linotype, sal dit ryke woordkuns van my verg om die proses van begin tot einde bloot te lê, dus volstaan ek daarmee om te sê, as die operateur nalaat om nie voldoende voorsorg te tref dat die matryse nie styf in die gietvorm pas nie, bespuug die masjien jou soos ’n volksvreemde lama met ’n straal kokende lood.
Maar, die bedoeling is nie om met hierdie storie die deugde, al dan nie, van die Linotype-masjien te besing nie – dalk by ’n volgende geleentheid. Vandag se storie gaan oor die operateur wat dood onskuldig sy vingers oor die Linotype se sleutelbord laat gly en só ’n storm in ’n teekoppie kon veroorsaak.

Soos die mens se natuur is, sal hy altyd die kortste uitweg soek. Die maklikste manier om die vakkie te vul, was om jou vingers al langs die eerste onderkasry van die masjien se sleutelbord te laat afgly en siedaar, die matryshouer is gevul. Nou was dit net ’n geval van die “lyntjie” wegstuur en só van jou vingerfoute ontslae raak.
Ongelukkig was dit net waar die meeste van ons van die lyntjie vergeet het. As dit in die gesette berig bly vassteek het en by die proeflesers verbygeglip het, was dit neusie verby. Dan het die lyntjie alfabeteuterd in die dag se uitgawe beland vir al wat volk en vaderland is om gade te slaan.

Die Linotype-masjien se sleutelbord het geheel en al anders daar uitgesien as dié van ’n rekenaar, waarmee die meeste van ons vertroud is. Die linkerkantste blok van die sleutelbord het al die onderkasletters van die alfabet bevat, die regterkantse blok al die hoofletters, terwyl die middelste blok uit leestekens en syfers bestaan het.
Dus, sodra die operateur sy vingers oor die eerste twee rye sleutels laat gly, laat hy die matryse met die letters “etaoin shrdlu” in daardie volgorde los, wat tesame met ’n paar spasiebande gewoonlik genoeg was om die lyn vol te maak.
En, dit was hierdie einste etaoin shrdlu wat menige redakteur en verslaggewer laat kopkrap het sodra dit in druk verskyn het. Waarom altyd dieselfde onsinnige “rympie?” Nodeloos om te sê, dit het menige proefleser met rooi gesigte gelaat.
Maar, wie laaste lag, lag die lekkerste en dis natuurlik die Linotype-operateur ... want etaoin shrdlu was ons geheim!