Jasper Schellingerhout se storie Vrydag in K'rant oor wat hy noem die chemie van die joernalistiek, het 'n baie sagte plekkie in al wat koerantmens is, se harte getref. Ons plaas vandag en more die (chemiese) reaksie wat ons ontvang het.
PIET EBERSÖHN skryf: Wat ‘n lekkerte is dit nie om K’rant soggens te lees sonder enige verantwoordelikheid om dit “op straat” te kry nie. Volpunte aan die redaksie en die bydraers. Bespeur ek ‘n verdieping in die bydraes of verbeel ek my?
Drie stories het my nogal die afgelope paar dae getref. Schalk Swanepoel oor die brand by Hoofstad; Estelle de Bruyn oor die moderne joernalis; en Jasper Schellingerhout oor die chemie van die joernalistiek.
Schalk Swanepoel |
Schalk se storie vul een van die groot leemtes wat K’rant tot dusver ervaar het – die herinneringe van die drukkery se mense. Watter nostalgie roep die verwysing na vergange prosesse en masjinerie nie op nie, selfs beroepslyne wat nie meer bestaan nie.
As leser hoop ek werklik dis nie die laaste van sy stories uit die drukkery nie en dat hy uiteindelik die katalisator skep dat die oudgediendes uit ander afdelings en filiale van Perskor en sy voorgangers meer van hulle laat hoor. Julle mense het ook ‘n verantwoordelikheid om te verseker dat dié dinge nie in die vergetelheid verval nie.
Estelle de Bruyn |
Philip Deetlefs en Raymond Dicker het al by geleentheid daarop gewys hoe die moderne tegnologie van die elektroniese eeu dit tot steeds groter hoogtes vir die eindproduk leen. Al kry dit die nuus gouer en aanskouliker by die verbruiker sien ‘n mens nie dat dit juis diepte aan die joernalistiek verleen nie. Van taalgebruik praat ons nie eens nie.
Jasper Schellingerhout |
En Jasper se verwoording van ‘n onwillekeurige en onbewuste proses wat soveel jare lank 'n inherente deel van ons daaglikse bestaan was, selfs wanneer ‘n mens “ontspan” het, bied ‘n sielservaring sonder weerga. Dis eenvoudig skitterend.
Ek vertrou ons gaan nog sommer baie sulke bydraes in K’rant lees.