Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.6.14

Die vetste hond in Indië

HANS LOMBARD skryf: K´rant vra: “Wat is die snaaksste ervaring wat jy in jou koerantloopbaan ervaar het?” My storie hier onder is eintlik 'n lag met 'n traan.

“No dogs and South Africans allowed.” Dit is die kennisgewing wat my in die gesig staar op die lughawe van Kalkutta in Indië.

Toe ek my Suid-Afrikaanse paspoort toon, moes ek ‘n hondebelasting in my naam betaal waarvoor ek ‘n hondelisensie ontvang het. Dit het R2,20 gekos. By die hotel waar ek inbespreek het, moes ek my hondebelasting-kwitansie eers toon voordat ek my kamersleutels kon ontvang. Wat ‘n ervaring. Dit was as gevolg van Suid-Afrika se destydse beleid van apartheid.

In 1959 was ek op ‘n vlug van Londen na Japan onderweg. Die vliegtuig moes oornag op Karatsji,
Nieu-Delhi, Kalkutta en Moembaai. By elke lughawe moes ek hondebelasting betaal. Ek was ongetwyfeld die mees belaste “hond” in Indië.

Indië was die vuilste en armste land nog wat ek nog in die wêreld besoek het. Die gemiddelde inkomste per kapita was R60 per jaar. Terug in Londen het ek gewonder hoeveel bestee honde-eienaars gemiddeld jaarliks op hondekos. Ek skryf toe aan die Dierebeskermingsvereniging in Kaapstad en volgens hulle het dit gemiddeld R100 jaarliks beloop. Dus R40 per jaar meer as die per kapita-inkomste van die Indiërs.

Tolleygunge-sportklub
Ek skryf toe ‘n artikel “The best fed dog ever in India” en stuur dit aan die redakteur van die Bombay Times. Hy laat weet terug: “Thanks. The best article I have received in a long time.”

Van apartheid gepraat. Die Britse kolonialiste het in Indië die strengste vorm van apartheid toegepas. Met my besoek, 12 jaar na onafhanklikheid, was dit nog van toepassing. By verskeie openbare swembaddens het ek kennisgewings gewaar: “Europeans Only.” Die beste skool in Kalkutta het geen Indiërkind toegelaat nie.

Foto: Hans Lombard

‘n Vooraanstaande Engelse sakeman van die stad het my vir middagete na die gesogte sportklub, Tolleygunge, genooi. Trots het hy verklaar dat geen Indiër mag lid word nie. Hy mag nie eens op uitnodiging ‘n potjie gholf daar speel nie. Kalkutta se bevolking was destyds 6 miljoen met 20 000 blankes wat hulself al die beste geriewe toegeëien het.

Indië is by uitstek ‘n land van bedelaars. Stap jy by die hotel uit word jy deur ‘n horde bedelaars, oud en jonk, toegesak met ‘n klaende gesanik: “Baksheesh Memsahib, baksheesh, baksheesh; no mamma no pappa!”

Die weersinwekkendse groep is dié wat jammerte probeer afdwing deur doelbewuste liggaamlike skending.

Een aand voor my hotel het die jammerlike figuur van ‘n meisietjie van sowat sewe of agt jaar oud op krukke verskyn (foto regs). Haar linkerbeen is net onder die knie af. Met handjies uitgestrek het die gitswart ogies, soos ronde swart albasters, smekend na my gestaar.

Die deurwag het my versoek om haar nie iets in die hand te stop nie. Haar ma sit net om die draai, verduidelik hy. “Sy het nie haar been in ‘n ongeluk verloor nie. Haar ma het dit doelbewus afgesny toe sy ‘n baba was met die doel om haar te gebruik om te bedel.”