Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

20.6.14

Pannekoek en piesangs prikkel die lagspiere

KARIN PRETORIUS skryf: Na aanleiding van die Ope Vraag oor snaakse onderhoude het ek twee baie snaakse ervaringe gehad wat my nou byval. Eerste 'n onderhoud met Tobie Cronjé wat op 26 April 1978 in Rooi Rose verskyn het.

Die reën het neergesif op Pretoria se blink teerpaaie en ek was op pad na Tobie Cronjé vir ’n onderhoud vir Rooi Rose. Wat nuut kon ek oor die bekroonde akteur skryf wat nog nie gesê is nie en watter invalshoek kon ek gebruik, het ek gewonder?

Nie vir lank nie. By ons aankoms het Tobie ons terstond na sy outydse kombuis genooi waar ‘n houer vol pannekoek- deeg langs die stoof gestaan het.

"Dis pannekoekweer en vandag bak ons volgens my ouma se boereresep daar uit die boswereld van Noord-Transvaal", het hy gesê.

Ek kon my net voorstel watter prag-foto’s ons kon neem en hoewel die akteur nie vir ‘n enkele oomblik snaaks probeer wees het nie, het ons deurentyd gelê soos ons lag.

Tobie het die deeg in die warm pan rondgerol, dit losgeskud, in die lug opgewip en gevang – sommiges, terwyl ander stuk-stuk aan die plafon gekleef het en ander weer op die vloer beland het. Dit was skreeusnaaks met gesigs-uitdrukkings wat eie aan Tobie was.

Daar was egter genoeg pannekoek om vir ons voor te sit saam met ‘n glasie wyn op een van sy spesiale en kosbare Oosterse tapyte.

Voorwaar ‘n talentvolle man.

 ---------

Die tweede lagwekkende ervaring was kort nadat mnr Robert Mugabe in April 1980 as eerste minister van die nuwe Zimbabwe verkies is. Canaan Banana is as die eerste president van die land ingehuldig.

Die dag was ‘n deftige affêre by die Goewermentswoning in Salisbury en ‘n militêre orkes het geparadeer met die verwagte swier en seremonie soos gekenmerk by die opening van die parlement.

Binne in die vierkant van die woning het die uitgenooide plaaslike en internasionale media gewag op die verskyning van die nuwe president. Daar was ‘n gevoel van afwagting, kelners het in kraakwit uniforms silwer skinkborde met liplekker southappies rondgedra en rustige agtergrond musiek – in teentstelling met die militêre marse daarbuite – het oor luidsprekers weerklink.

Pres Banana – ‘n kort maar vriendelike mannetjie – het sy verskyning gemaak en die joernalistse het een vir een met hom hand geskud om hom geluk te wens. Ek het ook as Perskor se verteenwoordiger in Salisbury my beurt afgewag en net toe ek sy hand vat, gebeur daar iets snaaks en onvoorspelbaars. Ek het hard probeer om my lag te bedwing wat nie maklik was nie.

Canaan Banana
Op daardie oomblik sing Harry Belafonte toe oor die luidsprekers sy ‘Yellow Bird up high in the Banana Tree’ – heel toevallig en niemand anders het dit agtergekom nie. Die tydsberekening was uniek.

Al ooit met ‘n president van die land hand geskud en jy wil uitbars van die lag?

Gelukkig het dit vir ‘n ligte berig in Harald Pakendorf se Die Vaderland van destyds verskyn.