Jare gelede het ek by Die Vaderland 'n geleentheid gekry om my platsaksalaris as motorredakteur met gratis motorritte aan te vul. Ek kon tussen verskillende modelle kies en het elke week 'n motor met 'n vol tenk petrol kry om te toets.
Motormaatskappye het gewoonlik so twee dosyn motorskrywers van koerante en tydskrifte van al vier provinsies genooi om hulle nuwe modelle aan lesers bekend te stel.
Alfa Romeo se bestuur probeer op 'n keer hulle vuurwaens aan die polisie verkoop en nooi ons en 'n
klompie polisie-offisiere Kyalami toe. Ons en die polisie was taamlik verras dat ons nie toegelaat word om die motors te toets nie.
Kyalami |
Tydens 'n koffie-, tee- en peuselhappieverposing kry twee blitspatrolliebestuurders en drie joernaliste wat 'n gevorderde bestuurskursus geslaag het, 'n geleentheid om die Alfas te toets. Die res van ons kan as passasiers saam ry.
Ek beland saam met 'n bekende motortydskrif se veteraan en skrik my maag om die eerste draai byna leeg toe ons amper in die veld beland. In die klubhuisdraai haal die noodlot ons in en ons stop in 'n stofwolk in die veld.
Volgens die veteraan het hy vir een of ander ongedierte uitgeswaai wat ek as gevolg van my angsaanval nie gesien het nie. Ek het daarop aangedring dat hy my aflaai en iemand anders 'n geleentheid gee om sy gevorderde bestuursvaardigheid te waardeer. En sy sarkastiese afskeidswoorde ná my potensiële doodsrit: "If you cannot handle the heat, get out of the kitchen."
Jare later beland ek saam met 'n groep motorskrywers op 'n Ford-bekendstelling erens in die Kaap. Ford se skakelbeamptes het hoë verwagtinge gehad oor so 'n stompstert vuurwa met 'n kragtige sessilinderenjin. Ons is gewaarsku dat dit 'n haastige perdjie is wat met ontsag gehanteer moet word.
Ons kry roetekaarte en klim twee-twee in die motors. En saam met wie beland ek? My Kyalamivriend wat terstond as senior skrywer op die sleutels beslag lê ... reg agter die skakelbeamptes wat ons uit die stad gaan begelei.
Sommer met die wegtrekslag gooi hy 'n wheelie (opskopwegtrek klink nie lekker nie) en laai byna 'n geparkeerde motor op.
'n Verskrikte skakelman doen navraag, maar die veteraan verseker hom sy voet het gegly en hy is in staat om die perdjie te beheer.
Die konvooi vertrek teen 'n lykwaspoed uit die stad uit tot ons plaaspaaie bereik. Die veteraan bestuur versigtig en een na die ander Fordjie steek ons verby.
Kort voor middagete haal ons die voorste joernaliste in wat langs die pad geparkeer is. 'n Haastige skrywer het 'n skaap doodgery en die veewagter het daarop aangedring dat ons vir die boer wag om hom vir die skade te vergoed.
Die span en my medebestuurder wat die hele rit bra stil was, simpatiseer met die oortreder en gee raad oor hoe ongelukke vermy kan word. Die skakelmanne betaal die boer en hy wens ons 'n voorspoedige reis toe.
Ons stop vir middagete by 'n gastehuis in 'n prentjiemooi vallei tussen wingerde en die manne geniet die Kaap se uitsoekwyne.
My medebestuurder is oor sy skok en geniet die Kaapse gasvryheid en hulle uitvoerproduk terdeë ... na my mening effens te terdeë, maar wie is ek om skokterapie te beoordeel?
Totdat ons in 'n bergpas beland en ek my Skepper leer ken. Die tydskrifveteraan was moeg om agterryer te speel en het seker gemaak dat niemand ons verbysteek nie. Skrikwekkend seker.
Ek het die tyd in 'n bergpas verwyl deur na die afgrond langs my te staar terwyl ons teen die berg opkronkel en skietgebedjies geoefen.
Toe ek terloops na 'n naelskraapse vermyding van 'n aankomende bus verwys, is ek verseker dat hy ten volle in beheer is. Ek het hom nie geglo nie, maar wou nie sy aandag van die pad aftrek nie en het eerder my wraakgedagtes gesit en vertroetel.
Later die middag hou ons by 'n padstal stil waar benewens plaasprodukte, ook koffie, tee en muffins bedien word. Dis snikheetwarm en baadjies word uitgetrek en oor stoelleunings gehang. Van die manne skimp vir 'n wyntjie, maar die skakelmanne het vermoedelik gesorg dat dié versterkinkie nie beskikbaar is nie.
Die vermaarde skrywer klou steeds aan die sleutels vas met die belofte dat ek later 'n bestuurgeleenteid sal kry. Ek flous hom met 'n instemmende kopknik en maak 'n draai in die kleedkamer.
Met die terugkomslag vervreem ek die motorsleutels uit sy baadjiesak en kuier rustig saam. Toe ons vertrek, soek hy die sleutels, maar spoor my agter die stuurwiel op. Klim toe maar in en ons verken die plaaspaaie. Tydrenjaers jaag so sydelings deur draaie; iets wat ek ook al op grondpaaie bemeester het.
Namate ek die draaie sydelings kafdraf, raak dit al stiller in die motor. Toe hy op 'n kol verneem of dit regtig nodig is om so om die draaie te jaag, verseker ek hom ek is ten volle in beheer.
Ek gebruik die telefoonpale langs die pad as vroëe waarskuwingstekens om te sien waar en hoe skerp die
draaie is om steeds seepglad sydelings deur te glip.
Toe vang slim sy baas op 'n sogenaamde haarnaalddraai. Pleks van 90 grade, draai die pad byna op homself terug en het die poskantoormanne wat die pale geplant het my vroëe waarskuwingstelsel uitgewis deur kortpad deur die veld te kies.
Ek kon daarin slaag om die motor nie om te gooi nie en het in 'n stofwolk stilgehou. My gewese vriend het die rit saam met 'n skakelbeampte voltooi. As hy 'n moordlys in gedagte gehad het, aanvaar ek my naam sou heel bo gepryk het.
Jare later toets Die Transvaler se motorredakteur, André de Kock, 'n nuwe Alfa waarin ek nogal belang gestel het. Ek vra uit en hy nooi my vir 'n toetsrit.
Ek glip net na die eerste uitgawe saam met hom uit en looi die Alfa op die snelweg, maar kan die vuurwa nie op 'n Perskorsalaris bekostig nie. Met die terugkomslag bestuur André en ek verwys na my doodsritte saam met die tydskrifveteraan met sy sogenaamde gevorderde bestuurskurus. Seg André sulke kursusse is te duur.
"Ry eerder saam met tydrenjaers waar 'n mens baie meer van bestuur kan leer," sê hy.
"Soos wat?" wil ek weet. "Hoe om byvoorbeeld blitsig stil te hou as 'n kind met 'n fiets voor jou inry," sê hy en voeg die daad by die woord.
Hy parkeer op die ou skouterrein in Aucklandpark se parkeerterrein en verduidelik hoe 'n handremdraai werk. Die volgende oomblik jaag hy soos 'n besetene op 'n baksteenmuur af en ek sien die doodsengel grinnik.
Wonder bo wonder hou ons sydelings langs die muur stil. Hy wou nog 'n paar ander toertjies demonstreer, maar daar was gelukkig nie tyd nie omdat Die Transvaler se laat uitgawe nog versorg moes word.