Schalk skryf: Daar is nog heelwat staaltjies wat ek uit daardie dae kan onthou, wat ek hoop om met K’rant se lesers te deel. Soos genoem, hou die staaltjies verband met voorvalle wat aan die tegniese kant van Hoofstad en Oggendblad plaasgevind het, eerder as aan die redaksionele kant.
Linotype-masjien |
Net so 'n bietjie agtergrond: Ná ek weg is by Hoofstad, het ek aangesluit by die destydse Verwoerdburger waar ek advertensies vir dié weekblad gewerf het. Maar, soos dit dikwels met streekkoerante gaan, was ’n mens verplig om jou lyf “Hansie my kneg” te hou.
Die eienaar en redakteur was die oud-LP, Sarel Reynecke – ’n deurwinterde joernalis en ook parlementariër. As ek vandag moet sê waar my beste joernalistieke leerskool was, dan is daar net een man wat ek moet bedank en dit was oom Sarel Reynecke. Dit was toevallig ook hier waar ek oom Sarel se goeie vriend, en later minister, Adriaan Vlok ontmoet het.
Later het ek by Koöperasiepers in Waltloo aangesluit as proefleser. Vandaar is ek na Nissan se hoofkantoor in Rosslyn waar ek by Nissan se Tegniese Redaksie aangesluit het. Later sou ek aangestel word as Hoof van Nissan se Tegniese Redaksie en – wonder bo wonder vir ’n man sonder formele opleiding in die joernalistiek – per brief aangeprys word deur Atlantis Diesel Enjins, vir “die beste vertaling van ’n tegniese handleiding”... ’n eer wat my amper dronkgeslaan het siende dat ek nie tegnies aangelê is nie. Maar, dit was alles die vrugte van harde werk en toewyding.
Dit was dan ook by Nissan waar ek betrokke geraak het by die skryf van “draaiboeke” vir video-opleidingsmateriaal. Nissan het ook ’n maandelikse nuus-video vervaardig wat aan die handelaarsnetwerk versprei is. Ek is genader om die nuusbulletin vir die video te skryf en toe hulle nie ’n aanbieder kon vind nie, toe beland ek so, sonder seremonie, voor die kameras.
Hierdie lopie by Nissan het die deur by die SAUK vir my oopgemaak toe ek ’n pos as skakelbeampte vir Radio Lebowa, Radio Venda en Radio Tsonga aangebied is. En so, terwyl ek skouers geskuur het met die manne van wat toe nog as Radio Jakaranda bekendgestaan het, slaag ek ’n oudisie by Jakaranda as vryskutomroeper.
Met die aanbreek van die Nuwe SA in 1994, was die skrif aan die muur vir die meeste blankes by die SAUK en die meeste van ons het koers gekies na groener weivelde. So beland ek en my gesin op Somerset-Wes (my vrou is 'n verpleegsuster en sy het werk gekry in Somerset-Wes), waar ek genader is om die gemeenskapstasie Radio Helderberg van die grond af te kry. Vandag, tien jaar later, draai Radio Helderberg op ’n omset van R3,5 miljoen per jaar – iets waarop ek baie trots is.
Maar seker iets waarop ek nóg meer trots is, is dat ek Ian (Loslip) Wessels hier in ons kontrei “ontdek” het en hom in Radio Helderberg se ateljee as omroeper makgemaak het. Ek kan vandag met groot dankbaarheid, dog nederigheid sê dat Ian my sy mentor in die uitsaaiwese noem. (Ek word darem ook in sy boek “Loslippig” by die naam vermeld!)
Weens regstellende aksie is ek nie
meer betrokke by Radio Helderberg nie maar ek is gevra om ’n Saterdagaand-program op Waterberg FM (Thabazimbi) en moontlik Lichvaal FM (Lichtenburg) en Panorama in die Vrystaat te doen. Ons is tans besig met die onderhandelings.
Intussen verdien ek my brood en botter as winkelsentrumbestuurder hier op Somerset-Wes. Dis iets waarvoor ek nie uitgeknip is nie, maar ek is wel dankbaar om op my ouderdom met my velkleur nog ’n werk te kan hê.
Weer eens, sterkte met julle wonderlike projek. Ek stuur weldra nog bydraes.