Op ‘n dag loop ek in die hoofstraat, sien die bordjie van die Randfontein Herald, steek my kop by die deur in en vra vir die ontvangsdame of hulle nie werk het nie.
Sy vra of ek kan skryf? Ek sê ja ek het nogal goed gevaar met opstelle op skool. Die volgende dag het ek begin. My eerste lessies oor die joernalistiek het ek daar by oom Lukas Groenewald geleer.
Hy was tóé al oud en het geglo daar moet ‘n meisie op elke week se voorblad wees – al was dit ook ‘n standerdtwee-dogtertjie wat hy sommer in die straat voorgekeer het.
In daardie tyd het ons Dinsdae by Caxton se kantoor in Roodepoort – saam met Cliff Buchner en Rob McGuillevray – die blaaie gaan opmaak. Ons het nog letterlik gespoeg-en-plak. Ek is só bly ek kon iets van daardie dae belewe! Het later selfs die blaaie op die steen gaan proeflees by die drukkery in Industria. Kosbare ervaring in die basiese dinge van ‘n koerant.
Hierna het my lewe ‘n paar draaie geloop totdat ek getroud is en op Tzaneen beland het. Dit was in die dae toe álmal ‘n ID-dokument moes kry. My man en ek het drie mobiele fotografie-ateljees bekom en het op veral die lemoenplase van die Letabavallei en tot in die diepste boendoes van Gazankulu ID-foto’s geneem. As ek reg onthou, het ons iets soos 22 000 mense afgeneem in ‘n kwessie van ‘n klompie maande.
Later het ek by die Letaba Herald begin werk. Wéér onder ‘n Lukas Groenewald, maar jonger en met goeie koerantervaring. Hierdie keer het ek konstruktief oor koerant-skryf geleer.
Ek onthou nog Lukas se raad oor intro’s wanneer ek so geswoeg het om ‘n gepaste een uit te dink. “Dit is daardie woorde wat jy sê wanneer jy by jou huis instap en jou man van ‘n storie vertel”, het hy gesê. Daardie woorde help tot vandag toe.
Nadat ek geskei is, is ek en my seuntjie Pretoria toe. My droom was om vir die Sarie te kon skryf. Tydens die onderhoud in Sandton het die redakteur gevra of ek dagblad-ondervinding het. Ek was nuuskierig waarom dit dan nodig was, tot sy sê dit is waar 'n mens die dissipline van skryf aanleer.
Herman Snyman |
was my bybedoeling om dan “die dissipline van skryf” aan te leer.
By Transvaler het ek mettertyd al meer toerisme-geöriënteerde goed geskryf. Ek kon nie besluit of dit is omdat die bestuur gedink het ek is nie goed genoeg as joernalis nie.
Toe Transvaler middel 1993 toemaak en die weekblad Noord-Transvaler Metro in sy plek kom, was ek een van Francois Aucamp se uitverkorenes om deel van die span te wees. Dit was lekker. Maar dit het nie lank gevat nie of ek was weer op die toerisme-beat.
Illustrasie |
Dit is tóé dat ek besef dat elke onafhanklike bylae wat ek die voorafgaande twee/drie jaar gedoen het, eintlik opleiding was om hierdie maandelikse koerantjies uit te gee.
Maar, soos met baie joernaliste wat al in die verlede gedink het hulle kan hul eie koerante uitgee, het ek na so 18 maande my agterent gesien! Hierna het sowat ‘n jaar se oorlewing gevolg voordat ek by Loreen Nel se Zambi-koerantjie aan die noordekant van die Magaliesberg begin uithelp het.
Ek het later myself in die pos van redakteur ingepraat, want íémand moes die redaksionele leiding neem! In daardie tyd het ek ook aan die oostekant van die N1-snelweg begin werk, aan die Kameeldrift-kant naby die Roodeplaatdam. En dit was die begin van die einde ...
In September 2000 het ek my eerste Nokeng Nuus-koerantjie (in die Nokeng-munisipaliteit se niemandsland-grondgebied) gepubliseer. Presies in dieselfde maand het die eerste vergadering oor die Dinokeng-toerismekonsep vir die gebied ook plaasgevind.
Sedertdien speel ek ‘n dubbele rol in die gebied net noord-oos van Pretoria – ek is die “Tannie Koerant”, maar is terselfdertyd ook onlosmaakbaar verweef met toerisme in die gebied – sowel my woongebied se Roodeplaat Toerismevereniging, as die groter Dinokengkonsep.
Die gemeenskapskoerant Nokeng Nuus het vir meer as twaalf jaar getrou gerapporteer oor alles en nog wat, asook die groei en doen en late van die Dinokenggebied. ‘n Tydjie nadat die Nokeng-munisipaliteit by Tshwane ingelyf is – teen Desember 2012 – het die koerant ophou bestaan. Nie net om logiese redes oor die naam nie, maar ook weens die swaarkry.
En nou? Tans oorleef ek deur ‘n bietjie vryskutwerk te doen vir ‘n buurtkoerant en klein toerisme-bemarkingsprojekkies terwyl ek besig is om stadigaan weer dinge in plek te kry vir die opvolg-koerant, die Dinokeng Nuus.
Naweke op die winkelstoepe en in die straat vra die gemeenskap steeds wanneer kom die volgende koerant?
Musiek in my ore!