Dertien pantservoertuie en Russiese troepedraers van Zipra se militêre basis aan die Gwaairivier (ook Gwayi-rivier -- Red.) in die
noordweste van die land het na Bulawayo opgeruk en mortiere, vuurpyle en kleingeweervuur is gehoor. Die lugmag se Hunter- en Lynxvegvliegtuie het op die groep afgepyl en hulle het die bosse ingevlug.
Gwaairivier |
versamelpunte waar bosvegters byeen gekom het om in die nasionale leer geïntigreer te word.
Hulle was egter gefrustreerd omdat dit al ‘n jaar later was en dit nog nie plaasgevind het nie. Al wat ‘n joernalis was, wou ‘n storie oor die kamp doen, maar die minister van inligting, dr Nathan Shamuyarira het geen aansoeke goedgekeur nie. Ook nie myne nie, as Perskor se verteenwoordiger in Salisbury.
Ek het by ‘n bron gehoor die bevelvoerders van waairivier kuier oor naweke by die kroeg van die Wankie Safari-lodge nie ver daarvandaan nie. Dit was ‘n uitdaging om hulle op te soek, maar ook ‘n waagstuk: hoe sou ek die bevelvoerders tussen al die gaste herken en as ek dit sou regkry om by die kamp in te kom, hoe veilig sou ek tussen 4 000 gewapende oudvryheidsvegters wees?
Ek het alles sorgvuldig gereël: vliegkaartjie van Salisbury na Wankie (nou Hwange -- Red.) op Vrydag, 3 April 1981, akkommodasie by die lodge, vlug Maandagoggend, 6 April, terug na Salisbury en twee uur later dadelik ‘n aansluitingsvlug na Johannesburg. Ek het besef ek moes Zimbabwe met my kamerasak vol films so gou moontlik verlaat, want as my besoek rugbaar word, sou my films gekonfiskeer en ek sekerlik gearresteer word.
Ek het vooraf die scoop vir Die Vaderland gereël en redakteur Harald Pakendorf het vir Donderdag, 9 en Vrydag 10 April, saam met nuusredakteur Hannes de Wet plek vir my scoop ingeruim. ‘n Persmotor sou my by Jan Smuts-lughawe kom haal en ek het Harald gewaarsku as ek nie op die vlug is nie, moet hulle begin navraag doen en begin soek – ek het nie geweet of ek ongedeerd uit hierdie scoop sou kom nie. Dit was lewensgevaarlik, maar snaaks ek was glad nie bang nie. Die gedagte was eerder een van opwinding.
Harald Pakendorf |
Hannes de Wet |
Nie lank nie of ‘n nuuskierige agie skuif-skuif versigtig nader en stel homself as Tommy Dube voor. My toerusting is toe ‘n lekker aanknopingspunt vir ‘n gesprek en ná ‘n ruk toe ek voel hy is op sy gemak, waag ek ‘n kans en vra hom reguit of hy die bevelvoerder van Gwaairivier-kamp is. Eers skrik, maar dan erkenning en toe ‘n uitnodiging om sy kamp te besoek om aan my te wys hoe vredeliewend sy manskappe is -- hy waarborg my veiligheid.
Karin Pretorius saam met die Zipra-bevelvoerder. |
Tommy is agtuur buite die lodge waar ek hom moet ontmoet en ons begin stap in die bos langs die teerpad – daar is geen teken van die Land-Rover waarmee hy my sou kom haal nie.
Ek kla en die fikse maar geharde bevelvoerende offisier van die Twee-Infanterie-brigade by die Gwaairivierkamp neem gelukkig my swaar kamerasak by my oor.
Na ‘n halfuur se stap kom ‘n Land-Rover van voor met soldate en AK 47’s en ek merk handgebare tussen hulle en Tommy. Die voertuig stop en laai ons op. Tommy verduidelik dat die stappery sy plan vir sekuriteitsdoeleindes was om te verseker dat niemand ons agtervolg nie.
Zipra-bosvegters met ‘n versameling Russiese wapens by Gwaairivier – die G3, SKS, die F1- en RGD-handgranate, asook die RPD-masjiengeweer. |
Hier sit ek saam met ses voormalige guerrillas van Joshua Nkomo se leër met hul outomatiese masjiengewere in ‘n voertuig van die ou Rhodesiese sekuriteitsmagte. Guerillas wat net meer as ‘n jaar gelede op dieselfde pad, met dieselfde wapens my in ‘n lokval sou gelei het!
So bestee ek ‘n volle dag in die Ziprakamp wat die ou en verlate Gwaairivier-kopermyndorpie was en waar die klubhuis nou die offisiersmenasie is. Hier is 4 000 Zipra-soldate, bykans vier bataljonne en een derde van Nkomo se volle leër saamgetrek.
Karin met ‘n RPG-7 vuurpyllanseerder. |
Daar is Russiese voertuie, soos die Gaz 66, die Craz en die Waz en een tenk met sy ZGE 1-14.5-lugafweerkanon. Ná die oorlog is die wapens aan die Zipra-soldate terugbesorg vanuit Zambie waar hulle militêre opleiding ondergaan het.
Tommy verduidelik dat al die wapentuig teen niemand gemik is nie, maar dat hulle graag paraat en fiks wil bly om in die nasionale leër opgeneem te word. Dit is hul frustasie, dit gebeur nie, Mugabe het van hulle vergeet, hulle ly honger en het vir die laaste drie maande nie hul soldy van 100 dollar per maand ontvang nie.
Hy ontken dat hulle Bulawayo aangeval het – dit was volgens hom ‘n sosiale probleem tussen Zipra en Zanla en nie faksiegevegte nie. Hulle is eerder vredeliewend en gedissiplineerd. Daarvoor kan ek getuig aangesien niemand aggressief teenoor my optree nie, al vind hulle dit vreemd om ‘n wit vrou in hulle kamp te gewaar. Hul eerste reaksie is om na hul gewere te gryp, maar ‘n gerustelling van die bevelvoerders kalmeer hulle en hulle salueer.
Dit word laat en ons stap terug na die offisiersmenasie waar ek vir oulaas ‘n koeldrank saam met die bevelvoerders drink, voordat hulle my na Wankie terugneem ná ‘n onvergeetlike dag in die Ziprakamp.
Maandag, 6 April, laand ek in Johannesburg. Terwyl al my films by die koerant ontwikkel word, skryf ek twee dae aan my artikel wat ‘n dag later in Die Vaderland in twee aflewerings verskyn, daarna ook in Die Transvaler, asook in Radio & TV Dagboek.
Maar ek het rustig my gang gegaan en my reggemaak vir die volgende scoop.