Die optelsommetjie van die destydse politiek was dikwels: Sap + Nat = BLOED. Halwe(hartige) houe slaan was nie op die spyskaart nie.
Port Elizabeth was ‘n belangrike stempunt in die laat jare sestig toe dr Verwoerd sy politieke kruin begin bereik het omdat dit hoofsaaklik ‘n Engelssprekende stad was en die Sappe beginne oorloop het om moderne ‘joiners’ te word. Uiteraard was dit warm skryfmateriaal vir pro-Nattes en die
“hoë bome” in die politieke speelveld.
Illustrasie |
In so ‘n verkiesingstyd kry ek toe ‘n bufferplakker met STEM NP! in die hande.
Hiermee moet ek darem ‘n hou inkry vir “Volk en Vaderland”, dag ek. Ek het geweet waar een van die voorbokke van die ou Suid-Afrikaanse Party en alombekende in die stad, woon. Sy was dié vuurvreter van PE, mev Leonora Murray of sommer ‘ou miesies Murray’ soos ons haar in die koerantkantoor genoem het.
As my geheue my nie in die steek laat nie, was sy ‘n gewese Kaapse Provinsiale Raadslid van die Sappe en het sy ook as LV gestaan. Sy was ‘n vegter en uitgesproke soos min. Vir haar het Verwoerd erger gestink as vir die mees uitgesproke ANC strugglers.
Daardie dae het jy al “rent-a-crowd” gehad. Dit was ‘n bedeling waar manne met bakarms, pakke 30 Gunstons in die bosak en growwe stemme graag na Sap-vergaderings opgeruk het en dit gou ‘n laatnag-bakleikroeg gemaak het.
‘Miesies Murray’ was ‘n kwaai en absoluut passievolle ou Sap wat dikwels vuur gespoeg het teen die opkomende Natte in die Baai. Sy kon woes humeurig raak wat skril bekgevegte ontketen as die Nattes haar op Sap-vergaderings gaan koggel het.
Nietemin, een aand laat stap ek huis toe ná ‘n politieke vergadering nadat ek my storie by die nuusredakteur besorg het. Ek het goed geweet waar ou mev Murray gewoon het. Dit was in Murray-Hof aan die voet van Albanyweg, nie ver van ons koerantkantore af nie in Noordeinde. Ek het haar motor ook goed geken – ‘n dowwe blou Opel Kapitan.
Opel Kapitän |
Eers doodluiters verbygestap by die woonstel se agterplaas. Weer teruggestap. Ja, alles lyk rustig en stil hier vanaand. Met die katvoet van ‘n skelm was die plakker in ‘n ommesientjie op die Sap-tannie se buffer. Stem NP!, verkondig ‘n groot ou Sap sowaar met haar ryding!
Vandag nog is ek nuuskierig wanneer dit ontdek is, hoeveel vuur gespoeg is en of sy die potensiële beroerte darem goed oorleef het. Daar was niks in Avbob se doodskolomme nie.
Ja, die tante moes darem soos die ou dae se mense ‘n sterk hart gehad het, al is sy nou al lankal dood. Sal wát wil gee om by haar nageslag te hoor wat haar reaksie was.
Immers stem ons vandag waarskynlik vir dieselfde party in ons nuwe, liewe Suid-Afrika en kan ons vandag saam lag oor die dae toe ons saam gestruggle het vir die Ou Suid-Afrika, toe ons “hoor-hoor” geskree en hande geklap het en nog nie van viva! en toi-toi geweet het nie.
Thanks for the memories, ‘miesies Murray’ en ons twee ou partye wat ook al net herinneringe is met albei wat al in Avbob se doodskolomme opgeneem is.