Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

20.5.14

Murphy’s Law tref my dubbel en dwars

HANS LOMBARD skryf: Murpy’s Law, wie hy ook al was, verskyn in geen woordeboek nie. Dié spreuke word algemeen aanvaar as iets moet verkeerd gaan, gaan alles tegelykertyd verkeerd. So is ek op ‘n dag deur Murphy’s Law moedeloos, in die grootste verleentheid, wat alle professionele, dissiplinêre vereistes aan flarde laat spat het, getref.

‘n Vooraanstaande Duitse maatskappy, wat onder meer
reusewaterpompe ingevoer het, het my aangestel as onafhanklike skakelkonsultant. ‘n Kontrak is vir ‘n jaar geteken. Die hoofkantoor was in ‘n nywerheidsgebied naby die Johannesburgse internasionale lughawe.

Kriel-kragstasie
My eerste opdrag het ek op baie kort kennis ‘n paar dae ná die ondertekening van die kontrak gekry. Die besturende direkteur bel my op ‘n Donderdagoggend en sê een van hul pompe is by die Krielkragstasie, naby Middelburg, Transvaal (Mpumalanga) geïnstalleer.

Hy vlieg Sondagaand Duitsland toe en wil foto’s van die pomp saam neem om vir die base by die moedermaatskappy te wys. Die pomp pas nie mooi op sy staanplek nie en daar moet sekere veranderinge aan toekomstige pompe aangebring word.

Ek moet saam met die bemarkingsbestuurder, wat ek nog nie ontmoet het nie, na Kriel ry. Ek moet hom 07:00 op Vrydag voor die treinstasie op Kemptonpark ontmoet. Hy ry met ‘n wit Mercedes. Ek moet die foto’s om 10:00 Saterdagoggend aan die besturende direkteur by sy kantoor lewer. Dis baie dringend.

Donderdagaand kom ek eers 23:00 in die bed ná afsprake. Ek het destyds in Hillbrow, Johannesburg gewoon. Ek stel die wekker vir 05:00. Ek skrik wakker. Die wekker staan op 03:00. My armhorlosie sê dis 06:15. Ek trek vinnig aan. Gryp my kamerasak en val in die pad. (Sedertdien het ek nog nooit weer op wekkers staat gemaak wat met batterye werk nie. Net opwen-wekkers.)

Om 07:45 parkeer ek langs die wit Mercedes. Ek merk ‘n man wat ongeduldig heen en weer op die sypaadjie stap. Hy groet nie eens nie. Hy vaar onbeskof teenoor my uit. Skel my uit as uiters onverantwoordelik. Hy is laat vir sy afspraak op Kriel. Hy gaan seker maak dat my kontrak summier gekanselleer word. Hy aanvaar geen verskoning nie.

Op pad hou hy aan uitvaar en skel. In die kragstasie wys hy hoe die foto’s geneem moet word. Ek haal my kamera uit en besef ek het my films in die yskas tuis vergeet. Ek hou altyd my films in die yskas. Hier bars die man in ‘n ongekende tirade uit. Ek vra een van die amptenare van die kragstasie waar die naaste apteek is. Destyds het alle apteke films verkoop.

Die amptenaar is bereid om my met sy motor apteek toe te neem - ‘n halfuur se ry. Terug, laai my kamera, fokus en skiet. Die flits gaan nie af nie. Probeer weer. Dieselfde storie. Druk die toetsknoppie op die flits en sien die batterye is pap. Toe moes jy hoor hoe gaan die Duitser tekere. Ek het vir ‘n oomblik gedink hy sal my te lyf gaan.

Ek vra die amptenaar of hy Saterdagoggend beskikbaar sal wees om my in te laat om die foto’s te neem. Hy werk nie Saterdae nie. Maar as ek agtuur by sy huis kan wees sal hy my ‘n guns bewys. Hy het die dag ander belangrike afsprake. Ek gaan klim agter in die wit Mercedes en raak aan die slaap. Ek skrik wakker toe die motor wegtrek met die man wat steeds gil. Hy waarborg dis die einde van my betrokkenheid by sy maatskappy.

Terug in Johannesburg bel ek die besturende direkteur. Hy het nog nie gehoor van die ramp nie. Ek vra hom wat sy huisadres is en verseker hom ek sal die foto’s laat Saterdagmiddag by hom aflewer.

Saterdagmiddag om 17:00 klop ek aan sy deur met drie stelle 20cm X 25cm foto’s. Hy was hoog in sy skik. Bedank my hartlik en my kontrak was nooit in gedrang vir die volgende drie jaar nie.