Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

5.6.14

Waar is die dae?

ESTELLE DE BRUYN skryf: Waar is die dae waar daar skelm en soms nie eens so skelm nie op kantoor gedrink is, ‘n asbak op byna elke lessenaar gestaan het, snippermandjies tot oorlopens toe vol was en ‘n sub nie gehuiwer het om bulderend en vloekend oor die vloer ‘n jong joernalis in te lig wat hy van sy/haar taalgebruik dink nie.

Waar is die dae dat jong joernaliste die vrees van die dood vir die nuusredakteur gehad nie en “come hell or high water” jy nie sonder ‘n storie-idee by ‘n dagboekvergadering opgedaag het nie.

Deesdae is dinge vir my net te korporatief.

Dagboekvergaderings is stil en stemmige geleenthede waar die koerante van die dag bespreek word en uitnodigings vir die dag se gebeure aan die joernaliste uitgedeel word. Hier en daar sal iemand ‘n inisiatief-storie hê of iets gehoor het wat dalk opgevolg kan word.

Die Vaderland-dagboekvergaderings in die teekamer op die eerste verdieping van die Perskor-gebou was nie so vreedsaam nie. Behoede jou siel as The Star, Rand Daily Mail, The Citizen, Beeld of Die Transvaler jou ge-scoop het op jou beat. Dit was nie iets wat jy jou grootste vyand toegewens het nie.

Die nuwe geïntegreerde nuuskantoor van die 
Namibia Media Holdings groep waar Republikein, 
Allgemeine Zeitung en Namibian Sun se redaksies 
deesdae sit
Deesdae moet die wag voor die mond ook ekstra jêmbrood belowe om, net om seker te maak, jy nie dalk ‘n kragwoord gebruik om jou argwaan met ‘n slapgat jong “wanna-be” joernalissie te betoon nie.

Ek is jammer as ek sinies klink, en ek besef terdeë daar is uitsonderinge, maar dit wil al hoe meer vir my voorkom ‘n klomp van die jongetjies, wat tussen hulle meer honneurs- en meestersgrade in die joernalistiek het as wat die hele mediakorps vanmelewe tussen ons gehad het, verstaan nie die wese van die joernalistiek nie.

Iewers het ‘n opvatting posgevat dat die joernalistiek ‘n “glamour job” is. Vir skemerkelkies en skouerskuur met die BBP’s sien hulle kans, maar vra hulle om ‘n storie oor die geleentheid te skryf, dan is hulle die kluts kwyt.
.Die jong dames dra hoëhakskoene en wulpse rokkies waarmee ek weet hulle nie in ‘n township vir ‘n woedende klipgooiende massa betogers sal kan weghardloop nie.

Gelukkig is die “struggle” verby in Namibië en het ons ook nie ‘n tiende van die betogings en optogte wat in ons suidelike buurland aan die orde van die dag is nie.

Toe ek in 1981 by die koerant begin werk het, kon ek nie tik nie. Ek het eers die storie met die hand geskryf en dan met twee vingers dit stadig en noukeurig oorgetik. Geglo ek kan nie tik en dink gelyk nie.

Wynand Strydom
Ná Wynand Strydom (oudmotorredakteur van Die Vaderland), wat by die tafel agter my gesit het, my eendag van agter teen die kop geklap het en gesê het: “tik die verdomde storie”, het ek nog nooit ophou tik nie.

Ons is destyds aan die diepkant ingegooi. Of jy ‘n kommunikasiekundegraad of ‘n onderwyskwalifikasie gehad het, jy is met ‘n notaboek en pen in ‘n kar geboender en daar gaat jy. Sorg net dat jy die storie kry.

Gister het die hoof van ons opleidingsafdeling en ek ‘n kursus oor nuusdekking in die verkiesingstyd vir die jongere kollegas aangebied. Dit was lekker om die ervaring van jare met die jonger geslag te deel en ek hoop dit help hulle. Dis iets wat ons nooit beskore was nie. Sink of swem. “If you can’t stand the heat, get out of the kitchen” was maar net hoe dit was.

En boetie, het ons geswem! En ons staan vandag nog in die vuurwarm kombuis van die mediawêreld.
Ag wat, dis seker maar die ouderdom en die nostalgie na ons prille jeug en die vermoede dat alles destyds lekkerder en beter en mooier en meer opwindend was, wat my vandag so sinies oor die hedendaagse joernalistiek maak.