Joernaliste was daarenteen 24 uur aan diens en nie op oortyd geregtig nie. Ons kon pleks van oortyd darem met ‘n gespook dalk ‘n paar dae vry kry. Die inkomsteverskil was duidelik in die personeel se voertuie sigbaar. Joernaliste het Volkswagens of middelslag voertuie gehad, maar die
fabrieksmanne het met groot Amerikaanse vuurwaens gespog. Diegene wat met die voormanne bevriend was, is vir oortydwerk voorgetrek. Een van die ouens was ‘n nutsman wat nie in die uitsoekgroepie geval het nie. Ek het sy naam vergeet.
Hy was besig om ‘n huis te restoureer en het die ekstra geld nodig gehad, maar is oor die hoof gesien. Ons
gesels een aand in die fabriek en hy sê hy het sy bouery voorlopig gestaak om aanbouings vir ekstra geld te doen. Sodra hy genoeg geld vir boumateriaal ingesamel het, het hy stuk vir stuk aan sy eie huis gebou. Tydens sy aanbouery kon iemand hom nie betaal nie en die man bied aan dat hy pleks van die geld met ’n ouerige Valiant sal betaal.
Die motor is nie baie goed opgepas nie en het heelwat herstelwerk benodig, maar hy het dit aanvaar. As ek saans proewe nagegaan het, het ek verneem hoe sy herstelwerk vorder. Sukkel-sukkel, maar darem, sê hy. ‘n Paar maande later nooi hy my om die voltooide Valiant te besigtig. Dit lyk soos ‘n splinternuwe vuurwa. Hy is met reg nie bietjie trots op sy handewerk nie.
Doornfontein Hotel, alias Vegkop. |
Maande later kom hy by die kroeg in en stap saam met ‘n paar fabrieksmanne uit. Hy het sy Valiant om ‘n draai herken. Die diewe het blykbaar vergeet waar hulle die motor gesteel het en weer in Vegkop kom kuier. Een van sy maters het later vertel hulle het die diewe ingewag en ongenadiglik getug. Só erg dat hulle bang was een van die diewe kan die tydelike met die ewige verwissel. Die drie is agter op sy bakkie gelaai en by die ou Johannesburgse noodgevalle afgelaai.
Die Valiant is ná die voorval net vir spesiale geleenthede gebruik en hy is met die bakkie werk toe en terug.