Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

22.5.14

Ope Vraag 9 - Laat die verbeelding loop!

Elkeen van ons kan seker dink wat die heel grootste, lekkerste en mees
opspraakwekkende storie is wat jy graag sou wou/sal wil skryf? Vertel ons daarvan.

PHILIP DEETLEFS druk voor in: As ek my verbeelding die loop laat vat, dink ek die storie wat ek die graagste sou wou skryf is as daar lewende wesens van die buitenste ruim toevallig voor my iewers in die Namib vir die eerste keer op planeet aarde sou kom land.

Hulle kan Afrikaans praat en sommer enige taal van die persoon met wie hulle te doen kry - ongeag watter
taal hy praat. Hulle is vriendelik, behulpsaam, ongewapen en kom in vrede. So heeltemal nie mens nie!

Hulle gee nie om om vir my alles te vertel van waar hulle vandaan kom nie. Hulle gee my sommer hul ganse geskiedenis op 'n onthoustokkie, foto´s en al!

Na hulle my brein gespoel het (nie groot taak gewees nie) om alles van hulle te kan onthou, los hulle my met tasbare bewyse van hul bestaan en vat weer die pad.

Daar sit ek met die eksklusiewe storie van nie net die eeu nie, maar sommer sedert die heel begin!

Ek kan eintlik sommer my eie ruimtewese-koerant begin en elke dag die voorblad vol skryf. Niemand hoef te peuter met die sirkulasiesyfers nie. Mondi moet miljoene ekstra bome plant vir die hengse drukoplaag.

By wie sal jy oral kommentaar vra? Waar sal jy begin? Die moontlikhede is onbeperk.

Elkeen van ons sal uit sy eie wêreld van sy grootste storie kan vertel. Ons hoor graag van elkeen van julle wat daardie storie sal wees.

Laat die verbeelding loop! Asseblief.