
Maar, die Oos-Transvaalse beampte wat voor ma op die paviljoen in die bloedige Durban-son gesit het, het nie dieselfde sentiment gedeel nie.

Hierna is ek in dieselfde jaar as die Suid-Afrikaanse kampioen in die Vaalrivier-halfmyl, asook die
Buffelsrivier-halfmyl in Oos-Londen gekroon, waarvan die twee grootste bekers hiernaas getuig.
Ons het dag na dag by die Hillcrest-swembad in Pretoria geoefen en ek onthou een aand in Oktober 1957 toe ons aantree vir ‘n kampioenskap-resies en net voor die skoot klap, toe sien iemand die eerste Russiese spoetniek in die hemelruim verbykom. Ons het net daar gestop om eers hierdie lugruim-wonder te aanskou en toe weer aangetree vir die resies.

As langafstandswemmer het ek 5 myl per dag geoefen. Nou sukkel ek by die gim om ‘n paar lengtes van die swembad te swem! Hoe het die ouderdom 'n mens nie ingehaal nie!
Gelukkig bied K’rant 'n mens die geleentheid om deur jou fotoalbum te blaai en terwyl jy die bruin stof van jou album afvee, blink poets jy weer die grysstof.