Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.8.14

Oor knorpotte en gesteelde toebroodjies

GERT COETZEE skryf: Oom Mike van Niekerk bel my op ’n aand toe ek die Ooste vir Die Transvaler beman; ek moet die een of ander storie dringend gaan doen, foto’s neem en dit so gou doenlik deurstuur vir die volgende oggend se uitgawe.

Ek vertel vir Oom Mike my Skottie, McDonald, is siek en ek moet hom dadelik veearts toe vat. Oom Mike sê hy is jammer om dit te hoor, hy het nie mense om die storie te doen nie en as ek dit nie doen nie, ek my toekoms by die koerant gerus maar die volgende dag met Die Pous moet bespreek.

Dikbek, knorrig, moerig doen ek die storie, laat die spoeletjie haal en bel my storie deur. Ek laat Oom Mike weet: “Die storie en foto’s is daar, dit het toe heel goed afgeloop en dis lekker materiaal. En, o ja oom Mike, my hondjie het toe gevrek.”

Mike van Niekerk
Oom Mike sê hy is bly om dit te hoor en plak die foon neer. Ek het met wrewel in my hart gaan slaap, net so befoeterd opgestaan, maar ’n paar aande later knak ek en oom Mike ’n paar koues in Vegkop en ek verluister my aan die ou korrelkop se geselskap. En kon daai beneukte oukêrel jou ’n ordentlike pak slae op die potspeltafel gee!

Hoe dit gebeur het dat ek oom Mike nie te lank daarna nie moes gaan assisteer aan die nuustafel weet ek tot vandag toe nie. Hy kon kerm oor goed wat ek onbelangrik geag het, soos “moet asseblief nie weer melk werk toe bring wat uit ’n beker in die yskas kom nie want ek haat dit as my koffie na uie proe” en “wanneer laas het jy die waterfles laat skoonmaak, ek proe ou water”.

Hannes Cilliers
Spoedig het ek uitgevind ek moet die buffer vorm tussen oom Mike en die subkantoor, met mag en mening verhoed dat hy en oom Hannes Cilliers mekaar te lyf gaan.

Op pad teetrollie toe sou hy ’n jong, vroulike kollega wat op haar stuitjie op die stoel ontspan en met haar kêrel oor die foon gevry het, toesnou: “Ons verdien nie ons geld hier op ons rug nie!” Ek moes dus die redaksie en veral die jongetjies ook teen oom Mike “beskerm”.

Toe Dirk van der Walt dus in Pretoria ’n assistent soek en die Goudstad teen daai tyd bra klein vir my geword het, het ek gedink ek het genoeg hare op my tande om ’n regte, egte assistent-nuusredakteur te word.

Ek loop toe oop oë in by dieselfde situasie, met ’n verskil. Dirk wou gereeld iemand vermoor en oor die algemeen moes ek veral die fotograwe onder sy voete uithou.

Weens hul dramatiese uitbarstings en humeure het oom Mike en Dirk elke nou en dan ’n toe-, oor- of aanval gekry of sommer met verlof gegaan en dan moes ek in die warm stoel gaan sit. Enige ou wat daai jop by ’n dagblad gedoen het, sal bevestig ’n nuusredakteur kan nie ’n sissie wees nie want dan mors ’n redaksie en subs met jou en die koerant ontaard in ’n powere produk. Hoe dit egter oor my pad gekom het om altyd met die onbehebbelikste van alle verslaggewers opgesaal te raak, weet ek nie.

In Johannesburg was my jonge drinkebroer, slegte vriend en huismaat Lukas Opperman my grootste kopsorg. Loekie het misdaad gedoen en soggens vroeg na John Vorsterplein verkas.

Op pad het hy ’n draai gemaak by die Porra naby Joubertpark wat nooit hul restaurant toegemaak het nie, die hele misdaadkonferensie van kolonel Frans Malherbe misgeloop en dan net sy pakkie klaar getikte berigte gaan afhaal by skakelkonstabel Denton wat sommer amptelike verklarings self opgevolg en berigte, aanhalings en al, geskryf het.

Loekie wat voor eerste saktyd reeds in gemoedelike stemming was, het die berigte altyd betyds ingedien en ek het later in die dag as daar ’n los kansie was, vir skakelkonstabel Denton gebel om sy koeranttaalgebruik op te knap: “Robbie, dis nie hoeke van Die- en Daaistrate nie, dis op die hoek van Die- en Daaistraat … ” Die ironie is, met Robbie en nie eintlik Loekie nie, het ons skitterende stories losgemaak en die opposisie ge-scoop dat hul oë getraan het.

Toe beland ek in Pretoria. Dirk is weer ’n redelike wyle iewers heen weg uit die kantoor en ek skuif oor na sy stoel. Johann de Beer was die hoofsub en glo my vry: De Beer se saktye was heilig en jy het eenvoudig nie ’n bladsy laat ingegee nie.

Jan van Vreden
Ek het altyd een van die misdaadmanne gekry om my te help; die verslaggewers so besig te hou dat hulle nie verveeld op hul arms lê en slaap en ek aan Jan van Vreden moet verduidelik hoekom die mense nie werk het nie, die verslaggewers te gaan aanjaag, die foto’s, by- en onderskrifte met die fotograwe op te neem, met Johannesburg en die buitekantore te skakel en navrae en klagtes te hanteer sodat ek my blaaie betyds (en keurig want dit was ’n behendige subkantoor wat nie substandaard-werk geduld het nie) deur te kry na Bere.

Earl Martin
My eerste nare situasie was die geval Earl Martin en sy voeding. Early het by my aangekom en gekla Neil Steyn eet al sy toebroodjies op, ek moet asseblief met hom praat. Ek sê vir hom hy moet sy toebroodjies toesluit en hy sê dit help nie; Neil se sleutel pas op sy laai en ek bied aan om die saak by Neil te opper.

Neil Steyn
Toe die ou grote na ’n saktyd vir kwaadgeld in die nuuskantoor ronddrentel en ’n
algemene oorlas van homself maak, sê ek: “Neil, in verband met Earl se toebroodjies … ”

Earl het afwagtend, met ’n breë glimlag, want nou gaan Steyn dit hotagter kry, agter hom gestaan en gewag vir wat sou volg. Neil het my nie laat klaar praat nie, my minagtend aangekyk en snedig toegesnou: “Pel, het jy al ’n boek geskryf!?”

Ek sê: “Neil, dit gaan nou nie oor boeke skryf nie, dit gaan oor Earl se toebroodjies.” Neil het ge-gnffffffff, opgestaan en vir my oor sy skouer met die uitstapslag neerhalend meegedeel: “Kom praat weer met my as jy ’n boek geskryf het!”

Ek en Earl was ewe verslae. Ek het Early aangeraai om maar sy toebroodjies in sy motor te los en daar te gaan eet. Hy het Neil net eenkeer uitoorlê en ons het almal daarna elke dag giggelend deur die groot vensters in Mitchellstraat gekyk hoe Earl na sy Mercedes sluip, Neil agterna, en hulle op die sypaadjie in die Merc sit en Earl se toebroodjies saam verslind.

As 'n mens aan daardie dae terugdink, reken ek Jan van Vreden het nie ’n benul hoeveel kennis, aanvoeling en insig hy oor die wese van die koerantjoernalistiek in my kop geprop het nie. Die koerant is op ’n dag toe ek namens Dirk ageer, klaar gedruk en Baas Jan sit by die spaarlessenaar in die nuuskantoor met ’n pasgedrukte, vars kopie.

Soos hy die koerant deurgaan, vra hy belangstellend na die agtergrond van stories en lewer kommentaar soos “… lekker leesstorie… ”, “mooi uitleg”, “… jou hoek is vol in die kol… ” en dies meer. Ek was redelik ingenome, maar toe bars Jan my borrel.

“Ou Gerrie,” vra Jan, “sê my iets; is daar enige geskiedenis van kranksinnigheid in jou familie?” Ek was heeltemal uit die veld geslaan en vra hom wat hy bedoel en hy klaar sy navraag op: “Is jy f***** mal?”
Jan beduie vir my die bloed drup van die blaaie af, die koerant is heeltemal te aggressief, ek moet onthou ’n baie groot persentasie van ons lesers is vroulik en ek gaan my lesers van ons publikasie vervreem as ek so aangaan.

Ek krabbel terug met die geykte “hoe de hel moet ek dit help? ’n Storie is tog net so sensasioneel soos die feite.” En daar gee Jan my weer ’n lesing wat ek nooit sou vergeet nie.

“Gerrie, dra die goed, maar hou hulle weg van jou regterduim af. Gebruik meesal linkerblaaie vir die harde nuus en voer die mense met goeie of amusante gebeure op die regterblaaie. Jy kan ook maar van die stywe pap uit die binneblaaie vorentoe skuif en jou opvolge agtertoe. Verander jou koerant se profiel dat hy meer lesersvriendelik word.”

Dit was later jare nuttige raad en ek kan net dankie sê dat ek in dié stadium van my loopbaan onder so ’n “pro” en in besonder Baas Jan deurgeloop het.

Sensasie het natuurlik altyd sy plek in die gedrukte media. In die tyd waarna ek hierbo verwys, het Die Transvaler vir Beeld en die Pretoria News goed ore aangesit met sirkulasiesyfers. Op ’n enkele dag het ons 2 000 koerante meer as gewoonlik verkoop en ek wil dit graag aan my plakkaat van die besondere dag koppel. Dit het gelui (wat net bewys jou troue koerantlesers is maar die ouer garde, want die jongeres sou nie die oorspronklike voorval onthou nie):

PANGAMAN
SLAAN TOE
BY DIE
FONTEINE

Al wat gebeur het, is twee besopenes het mekaar op ’n braai by die Fonteinedal gegryp en een het die ander bygekom met ’n sekel wat daar rondgelê het.

Sekel, panga, wie gee om?