Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.6.14

Die chemie van joernalistiek


JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Jy kry ‘n tinteling in jou binnewerke – amper ‘n soort chemiese reaksie op ‘n plek wat jy nie eintlik weet waar dit in jou gestel lê nie – as jy iets hoor wat jy meen ander vir seker sal wil lees of wraggies móét weet.

En as jy die vermoë van visualisering in jou denke het, dan ‘sien’ jy voortydig al die storie en die opskrif (dalk op bl 1?). As ek darem die ou kan wees wat die storie breek! dink jy so ewe. ‘n Scoop verdriedubbel die adrenalien aan dié gedagte.

Die chemie op daardie onbekende plek in jou, is alle goeie koerantmanne se katalisator en dryfkrag. Dit hou die koerant se kolomme vol met die soort stories wat nie die alledaagse soort goed en blote hand-outs is nie. Dis ook wat ‘n koerant regtig koerant maak. Daar is nou maar eenmaal interessante fases waardeur ‘n koerantman gaan as daardie ding van ‘n storie-jag in jou wakker word. Jy wil soos ‘n outydse polisiebloedhond spoorvat.


Aanvanklik is daar reuke uit baie rigtings voor jy regtig spoor kry. En so al met die loop op die reuk langs raak jou brein al skerper. Selfs slinks en slu. Hoe meer omstrede die storie, hoe sluwer ... sodat jy amper jou ordentlikheid sal verloor.

Jy  "sien" al hoe jy betreding pleeg op ‘n ander ou se stukkie heilige of onheilige grond en jy maak planne om juis dáár uit te kom om ‘n soort geheime bres te slaan. Ek móét en ek sál! Soos die geval waarvan ek weet van ‘n joernalis wat hom ewe gedwee soos ‘n begrafnisondernemer voorgedoen het, statig met hoed op, om by ‘n agtergeblewene uit te kom en ewe vroom tussen die nodige “simpatie en sterkte” deur ‘n klompie vrae in te kry wat die storie die moeite werd gemaak het.

Jy ry na die plek of die moontlike inligtingsbronne of betrokkenes of kennisse van betrokkenes toe. As daar ‘n kombers oor alles is, en dinge is taai, maak jy of jy sommer maar ‘n terloopse ou van ‘n ander plek is.

Jy’s so sensitief vir enige stukkie inligting dat jou brein soos ‘n kitaarsnaar is. Vreknuuskierig, maar jy waag nie om dit te wys nie. Jy is die toonbeeld van terloopsheid en alles behalwe ‘n weetgierige joernalis.

Die sinsnedes kom so effens sugtend en ook filosofies teenoor enigeen wat dalk iets weet:
• Nee, ag ek het maar gehoor van die besigheid.
• Dis nou vir jou ‘n ding, nè / Ek glo dit wraggies nie!
• Nou wie sou nou so iets kon beweer?
• Ai, die arme mense, ens, ens.

Mense sê hier en daar iets. Jy kom nou uit by die maak van praktiese somme, eenvoudige somme: een en

een is twee en twee en drie is vyf. Sekere goed wat nie rym en jou nie uitbring by ‘n logiese optelsom nie, maak die praktiese denker nou ‘n donker filosoof wat soek na die siel van dit wat jy nog nie mooi weet nie.

Jy dink, redeneer, maak stellings, doen optelsommetjies, frons; maar alles net by “jou sigselfwers” soos ‘n oom van my altyd gesê het. Jy word ‘n kluisenaar wat ‘n tyd lank alleen worstel. Daar voor ‘n toe deur staan jy maar. Maar die chemiese reaksie bly lastig vreet hier binne soos ‘n pynpil op ‘n leë maag.

Jy vat oplaas maar weer die spoor van die amptelike bronne wat vroeër kop geskud het. Jy vra weer. Jy bel of gaan kuier by pêlle van die amptelike bronne. Jy pols sommer die mins belangrike ouens. Jy’s nie by die brigadier of die CEO nie; sommer by konstabel so-en-so of Myrtle, die klerk wat daar werk. Of sommer Filemon wat die blare hark ook.

Die geheimsinnigheid van die chemie is nie net ‘n storie wat nog nie in druk is nie, dit dryf jou om aan te hou in jou feite-jag. En met al die gesnuffel hier en ‘n terloopse retoriese vraag daar en ‘n iets "ingooi" by ‘n gesprek om te kyk of dit ‘n klip sal word wat ‘n slang uitdryf, kry die een ‘n maatjie en nou maak die sommetjie uiteindelik twee.

Die storie kry lyf.

Dikwels maak jy maar ‘n storie uit vrekmin feite en aannames. Maar daar is darem gelukkig altyd die vooruitsig van ‘n voila!-oomblik waar ‘n ou voortvarend sy bek verbypraat. Of waar daar onverwags beweging by die nuustoneel is.

Jy skryf maar die kernfeite en name op. Soms om die draai as jy laag moet lê. Jy wil niks wat so senutergend bymekaargemaak is, verloor nie. En dan: ek moet nou wraggies by skryf uitkom. ‘n Chemiese reaksie bring jou immers altyd by iets uit. En jy laat waai, want netnou is my scoop se rakleeftyd verby en is my mededingers my voor. Jy skryf. Al skrywende met jou oor steeds op die grond.

Time and tide waits for no man. En ‘n deadline allermins. Die reël rol en die inligting – vaag of geloofwaardig -- word behendig bo-op mekaar verpak en verder in ‘n kolom verskraal op Mondi-papier. Dis mý droom, mý storie wat ek met ‘n vreemde chemiese bevangenheid gejag en gesoek en geskep het.

Dis ook die baba wat ek eerste wil sien as die rolpers die redaksie se eindproduk vir die dag begin kraam. Dan die behaaglike kyk na die eindproduk. Dit duur gelukkig darem ‘n wyle.

Jis! Ek wou, ek kon en ek hét!

En daar het jy dit. Die siel van ‘n skrywer en sy onwillige storie. Gebore soms mét vele en soms ook sonder kontraksies op die kraamtafel van net maar nog ‘n koerant; nog iets vir more se herwinningshouer. En die ou wat pa staan vir die geboorte was maar net ‘n opgewonde dromer, spoorvatter, strateeg, sommemaker, filosoof, toneelspeler en uiteindelik skepper van 'n ruimte vol letters met ‘n kenmerkende chemiese ink-reuk.

Een simpele ruimte wat met leesgenot gevul word om more plek te maak vir ‘n ander ou soos ek se herhalende soeke na ‘n lekker storie.

Was Salomo nie ampertjies reg nie toe hy geskryf het: “Alles tevergeefs; alles tevergeefs...” (?) Ek vra maar net, mnr die Redakteur. En tóg is dit vir my meer as ‘n job; dis spesiale chemistry, meneer. More is ek soos ‘n bokser terug vir nóg!