ELISE VAN STADEN skryf: Word ’n onderwyseres, het my ma gesê. Elke ou dorpie het ’n skooltjie. Maak nie saak waar jy woon nie, daar sal ’n onderwyspos wees vir jou.
Nie dat die beroepskeuses wyd gelê het nie. As ek wou gaan swot, het die beskikbaarheid van ’n lening die rigting bepaal.
Die aansoekvorms is onderteken, die ouers was tevrede en ek was op pad Pretoria toe.
Maar die hele tyd weet ek: onderwys is nie vir my nie. Ek sal die aaklige opvoedkundeklasse bywoon, ek sal soet gaan eksamen skryf, maar dis waar die storie eindig.
Met die bemiddeling van Tienie Fourie, destyds my swaer en lid van Dagbreek se sportredaksie, doen ek aansoek om ’n vakante pos in Die Vaderland se vroueredaksie. En ná Kittie Vermaak en Sarie Raadt (later Valentine) in ’n APB-kar by my koshuis in Pretoria uitslaan en ’n onderhoud met my kom voer, het ek ’n werk, maar tot Ma en Pa se ontsteltenis nie in die respektabele onderwys nie.