Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

11.1.24

‘Afrikaanse Alistair MacLean’ oorlede

PAUL C. VENTER skryf: DIE skrywer Calvyn van Niekerk is op 8 Januarie 2024 aan nierversaking oorlede. Ons innige simpatie met sy weduwee en familie. 

In sy laaste jare het Calvyn stil in Durban gewoon, die stad waar hy in die sewentigs as tydskrifjoernalis sowel as skrywer van stringe avontuurboeke en ʼn horde fotoboekies vir Republikeinse Pers gewerk het. Toe was hy die man na wie jonges soos ek geluister het.  

19.12.23

Die Joodse Kersboom

HANLIE VORNBERG skryf:  Nou, terwyl ek die storie skryf, besef ek eers hoe besonder aktueel die tema op die oomblik is met al die probleme daar is Israel. 

Soos bekend, was daar 'n tyd hier in Europa waar mense van Joodse afkoms harde bene gekou het. Trouens, deur 'n Semitiese familielid êrens in die geslagregister te hê, kon die doodvonnis beteken.

Na die Tweede Wêreldoorlog het die Jode wat hier oorgebly het, óf Israel toe geëmigreer, of hulle bes gedoen om so gou soos moontlik by die res van die bevolking in te skakel. Talle was selfs bereid om hulle geloof prys te gee en hulle as Katolieke of Protestante te laat doop

12.12.23

Toetsrugby op sy beste en regte sneeu in Parys

KARIN PRETORIUS skryf: EEN Sondagmiddag in November 1968 verskyn daar ʼn kennisgewing op die bord in Londen se Oversears Visitors’ Club (OVC) in Earls Court vir kaartjies na Parys vir die Springbokke se tweede rugbytoets teen die Franse. My oë rek wyd en vir ʼn oomblik vergeet ek skoon van Ma se skaapboud en gebakte aartappels tuis in Pretoria. Want ná sewe maande in Londen vir werk by die SA Sitrusraad as ʼn “Outspan Girl’, was dit al waaraan mens kon dink op ʼn nostalgiese Sondagmiddag. Veral as die koue waarvan jy nog net gehoor het, begin hap-hap het aan jou langbroek en stewels.

7.11.23

Bernie, die kraai

HANLIE VORNBERG skryf: HULLE het oornag hier by ons in Wenen aangekom. Die groot swart kraaie. Met die koms van die herfs, is hulle elke jaar dié tyd, terug. Hulle kom al die pad uit Rusland om hier te oorwinter. Vanmôre het ek hulle hoor krys en gesien hoe die tamaai voëls heen en weer oor die huis vlieg.

Daar is 'n Oostenrykse boerewysheid wat sê dat wanneer die kraaie kom, dit tyd is om jou vuurmaakhout bymekaar te maak.

27.9.23

Treinry en ʼn nuwe rubriek

HANLIE VORNBERG skryf: TOE ek ʼn kind was, was treinry vir my een van die lekkerste dinge wat daar was. Dit was ʼn kosbare ondervinding. Hoe anders was die treine van daardie tyd nie!

Ons het jaarliks tydens die wintervakansie in Junie, met die trein vir my oupa in George gaan kuier.

Dit was ʼn belewenis. Die lawaai van die stoomtrein, die roet in jou oog, die stank van die steenkool en die voortskommel en kantel van die waens. Dan was daar die reuk van die groen leerbekleedsel, die glinsterende houtwerk en die kondukteur-sleutel wat ratel in die slot.

31.8.23

Bier en mossels is 'n gevaarlike resep

HANLIE VORNBERG skryf:  IN 1858 was daar reeds agt verskillende koerant publikasies in die Kaap. Koerante is graag in klubs en in openbare plekke gelees en een koerant het dikwels deur baie hande gegaan. Ook die dames het reeds hulle eie blad gehad, die sogenaamde,
„Lady ́s Companion.“

Aangesien advertensies altyd die lewensbloed van die pers was, was daar ook in die ou Kaap geen tekort daaraan nie. Die adverteerders het van al hulle skeppende talente gebruik gemaak om die lesers se aandag te trek.

Sommige het met dekoratiewe illustrasies gewerk en andere het selfs sover gegaan om hulle advertensies as nuwe "stories" te kamoefleer.

22.8.23

‘Skieriteit’ – van die ‘High Noons’ tot by Zebulon

PIET EBERSÖHN skryf: WIE onthou nog die duur stelsel vir toegangsbeheer wat Perskor in die laat jare sewentig by Aucklandpark laat aanbring het? 

Ons het almal kaarte met ons foto’s op gekry wat ons by die deur moes toon. 

Ek dink die stelsel het iets soos twee weke gehou, toe breek die masjien om nooit herstel te word nie. 

17.8.23

Wie is Ben Blindekoei?

Len Lindeque
JOHAN GREYBE skryf: Ek's gebore in ‘53. Was op skool in Sentraal, Bloemfontein van '67 tot '71. Self bietjie 'n komiek-tekentalent gehad en bewonderaar van Len Lindeque se weeklikse Rapport-bydraes. 

Toe Sentraal sy eie skoolkoerant begin het, is daar vir bydraes gevra. Ek teken toe iets in Len se grappige styl en plaas dit naamloos op die redakteur se lessenaar. 

Gedurende weeklikse saalperiode, kondig die skoolhoof aan: Die Tralie-redakteur versoek asseblief dat die leerling wat sketse op sy lessenaar gelos het onder die skuilnaam, Ben Blindekoei, hom asseblief sal kontak. 

Groot gelag in saal ...

8.8.23

Piet Ebersöhn se Mariëtte oorlede

MARIËTTE EBERSÖHN, vrou van K'rant se nuusredakteur, Piet Ebersöhn, is Maandag, 7 Augustus 2023, oorlede.  Sy het in Junie 68 geword.  

Vrydag voordag is Mariëtte met 'n asemnood in die hospitaal opgeneem, maar het dermate herstel dat sy laatmiddag ontslaan is. Maandag was daar 'n terugslag.  Voordat sy in die hospitaal opgeneem kon word, is sy oorlede.

Piet en Mariëtte het teen die einde van 2016 na Corfu, 'n eiland aan die Griekse kus, verhuis. Lees meer daarvan HIER.

Piet het onlangs twee berigte geskryf oor sy en Mariëtte se Eiland van ons Drome.  Klik  HIER en HIER.

K'rant en sy lesers treur saam met Piet en wens hom sterkte toe.

Bo:  Piet en Mariëtte Ebersohn het by die Perskorreünie in 2016 afskeid geneem vóór hul vetrek  na die eiland Corfu om daar af te tree.

 

2.8.23

Perskor bring July-geluk!

KARIN PRETORIUS skryf: MET geen kennis van perdewedrenne of weddenskappe nie, het ek jou so wrintiewaar twee keer in die jare sewentig vanweë my werksituasie by Perskor op wenperde by die July verwed – en gewen. Nou nie so dat ek my trommeltjie eers kon opvul nie, maar dit het tog vir baie opwinding gesorg. 

Eerstens was dit in 1970 by die vroueblad van Die Transvaler en daarna in 1979 as Perskor se verteenwoordiger tydens die bosoorlog in die ou Rhodesië. Met my aanstelling in 1970 by Die Transvaler se vroueblad, was dit heerlik om oor ʼn eg-vrouesaak te berig – die vooruitskouing van die vrouemodes by die naderende July-perdewedren begin Julie op die Greyville- renbaan in Durban. 

6.7.23

Paul, die rugbyheld – ʼn onthou van Paul C. Venter

PAUL C. VENTER skryf: LANK, lank gelede, toe Afrikaanse Pers nog in Johannesburg gestaan het, naby waar Milpark Holiday Inn later sy staan kom maak het, het drie snotkoppies by Die Vaderland begin werk: Ek en Ferdinand Hand as verslaggewertjies en Ferdie se broer Reinhardt onder by die drukkery.

Die Hande – Hands? Ek weet nou nog nie waai een nie – was twee goedgemanierde plattelanders van die Platorand, ek ʼn gesoute en dus onbetroubare Johannesburger pas uit die army. 

Later het ons drie saam ʼn huis in Linden betrek, ʼn karaktervolle opstal wat aan Harald en Aletta Pakendorf behoort het, waar die kaggel een bitterkoue winternag nie mooi wou vat nie toe help ons hom met petrol aan ... stop dit, ek glo nie Harald en Aletta wil die storie hier lees nie.

3.7.23

Die slang in die brandewyn

HANLIE VORNBERG skryf: WAT vir my hierdie storie besonders interessant maak, is die feit dat ʼn voorvader van my hier ʼn rol gespeel het. 

My ouma was ʼn Kirsten uit Darling en oor dié betrokke familie bestaan heelwat geskrifte uit die ou Kaap. 

Johann Friedrich Kirsten, was in diens van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie en het voor 1740 uit Duitsland in die Kaap aangekom.

Hy was een van ʼn groep hardwerkende Lutheraanse ondernemers wat in die Kaap groot sukses behaal het.

25.6.23

Die drie Venter-skrywers van Republikeinse Pers

KAREN PRETORIUS
skryf: Daar was in die jare sewentig nie een nie, ook nie twee nie maar DRIE befaamde Venter-skrywers by Republikeinse Pers met wie ek die redaksiekantoor in Nedbank City East in Doornfontein gedeel het.
C. J. (Corrie) Venter was die redakteur van Radio en TV Dagboek en ook gewilde en bekende fiksieskrywer van romans, en radio- en tydskrifverhale;
Paul C. Venter, toe redakteur van die tydskrif, Keur, en wat vandag nog besig is as draaiboekskrywer vir televisiereekse en -rolprente; 
Al J. Venter, ʼn redaksielid van Scope wat ʼn legende is as oorlog-joernalis en steeds in die wêreld se konfliksones verslag doen.

Om so nóu saam met hierdie drie skrywers te gewerk en gedagtes te verwissel het, was ʼn groot voorreg en ʼn goeie leerskool vir ʼn joernalistieke loopbaan.

15.6.23

Op papier kan ʼn mens dit mos herontdek

PEET VAN STADEN skryf: GOED, miljoene bome het oorleef nadat die nuusbedryf sy papiergebruik ingekort het. Maar hy is daarom nog armer, want vir ons in die kermkoor het woorde op die skerm eenvoudig nie die trefkrag van woorde op papier nie. Jy kan hulle verklein of vergroot en in ʼn ander lettersoort weergee, maar nie skeef draai of ligkant toe skuif of besnuif nie. Veral nie só bedink en waardeer nie. 

Dit besef ek opnuut toe ek nou die dag in my opgaarkas na die grafika van die sirkulasiesyfers gesoek en afgekom het op iets waarvan ek half vergeet het. Dit was net te herontdek omdat dit op papier is, al kom sommige daarvan reeds uit ʼn

8.6.23

Grafika van ʼn leuen en ʼn flenter hand

PEET VAN STADEN skryf: GERRIE COETZEE se dood in Januarie is seker maar hoekom ek opnuut gewonder het oor die ding. Soos oor al die ander in Perskor se biblioteek wat ʼn mens oor jare bygebly het: knipsels van ons spookstorie as studente wat nege koerantvoorblaaie gehaal het, Willie Havenga se atletiekfoto’s, een uit Wessel Oosthuizen se eerste joppie met sy nuwe motoraandrywing wat wys hoe hoog ʼn knop op ʼn fietsryer se bobeen swel ʼn halfsekonde ná sy valslag.Of die biegbrief van ʼn veroordeelde moordenaar wat Jan Beukes uit die tronk gesmokkel het, geskryf op toiletpapier met sy eie bloed. 

Seker ook maar die vergetelheid in.

16.5.23

Makassie

HANLIE VORNBERG skryf: TOE ek destyds, twee-weekliks vir Rooi Rose my rubriek, Doodluiters, geskryf het, het Martie Snyman my ʼn vrye hand gegee en kon ek meestal self kies waaroor ek wou berig. Net soms het sy van haar kant af ʼn voorstel vir ʼn moontlike tema gemaak. 

Op ʼn dag het sy my na haar kantoor toe geroep en gesê: “Jy kom mos van die Kaap af, so skryf vir ons volgende keer iets oor die see.” Ons het groot respek vir Martie Snyman gehad. Was selfs ʼn fraksie bang vir haar. As sy met daardie blink olyfswart oë van haar vir jou gekyk het, het jy mooi geluister en reg getrap. 

7.5.23

Per viswa en tussen koolkoppe gaan die reis verder

KARIN PRETORIUS skryf verder: SO land ons die volgende dag in Florence en neem afskeid van Francesco. Ons was skielik op ons eie. 

Die Boek se staproete vir vier dae in die stad is oopgevou en die heel eerste besoek is by die Akademie-gallery, neffens die Arnorivier – en ons bevind ons aan die voete van die majestueuse Dawidbeeld van Michelangelo. 

En so het ons ryloopdae vir ses maande deur Europa aangebreek – stap vir stap, dag vir dag, plek na plek, opwinding na opwinding, ondervinding op ondervinding. Belangrikste van alles: duim vir duim!

3.5.23

Ma ryloop toe ‘wonderlik’ saam

KARIN PRETORIUS vertel verder: RYLOOPSUKSES kan grootliks aan ʼn paar dinge toegeskryf word: ʼn goeie verstandhouding tussen twee vriendinne, dieselfde belange, asook goeie organisasie. 

Daar was ook ʼn paar ononderhandelbare reëls, soos om nooit van mekaar te skei nie al was daar moontlike wrywing; om net met ʼn enkel mansbestuurder in ʼn motor te klim en daarom was die Fiat 600 – toe baie gewild in Europa – ideaal, want die een wat agter sit, het ʼn rugsak op die skoot gehad en een op die sitplek langsaan; en daar is ook nooit na sesuur saans geryloop nie. 

1.5.23

15 000 myl deur 15 lande – duim vir duim

KARIN PRETORIUS skryf: HIERDIE ryloopstorie van jare gelede, het my nie net laat sif deur die blaaie van my geheue nie, maar ook deur die blaaie van my stowwerige albums op my boekrak – en daar was baie stof tot nadenke! 

Ryloop in Europa in 1969, was nie ʼn gevaarlike onderneming nie. Versigtigheid was steeds die wagwoord, veral vir twee meisies, maar misdaad was nie in die algemeen ter sprake nie. In so ʼn mate dat iets ter beskerming soos pepersproei nooit ʼn gedagte was nie. 

Daarom het ek en rylopervriendin, Brenda Southon van Durban, besluit dis net wat ons wou waag: om duim te lig en met rugsakke en al ons spaargeld soveel lande as moontlik in die somer van Europa te besoek. 

22.4.23

Elisabeth van Oostenryk in Korfu

HANLIE VORNBERG skryf: Nadat ek Piet Ebersöhn se twee interessante berigte oor sy nuwe blyplek, Korfu, gelees het, het ek skeilik onthou dat daar 'n interessante verbinding bestaan tussen Korfu en Oostenryk.

Dit is die paleis Achilleion, sewe kilometer suid van die stad Korfu. Elisabeth,die Keiserin van Oostenryk en Hongarye, het dit in die jare 1890 tot 1892, vir haar laat bou.

Keiserin Elisabeth, genoem Sisi, was die vrou van Keiser Frans Josef I wat van 1848 tot sy dood in 1916 oor die Oostenrykse Ryk regeer het. Elisabeth was uit die Duitse adelsgeslag Wittelsbach en was aan die Habsburgse keiser verwant.